Jacob Zuma laat die aap uit die mou

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Geskryf deur Russell Lamberti, aangepas deur Gerhard van Onselen

Tydens die onlangse ANC-hoofraadsvergadering het pres. Zuma ʼn reeks omstrede en belangrike opmerkings gemaak. Dié opmerkings werp lig op die ANC se denkraamwerk en vooruitsigte vir mense in SA se pad vorentoe.

ETM Analytics, die Johannesburg-gebaseerde markstrateë, wat in samewerking met die SNI ons kwartaallikse arbeidsmarkrapport saamstel, het onlangs ʼn insiggewende ontleding oor pres. Zuma se opmerkings, in die lig van SA se huidige makro-ekonomiese klimaat, vrygestel.

Die groot bevinding van hul ontleding is dat politieke en ekonomiese risiko in SA besig is om toe te neem, en dat markdeelnemers waarskynlik nie al hierdie risiko’s raaksien nie. Daarvolgens is polities-ekonomiese druk besig om toe te neem. ʼn Uitlating van druk moet verwag word en kan op verskeie voordelige of skadelike maniere plaasvind.
ETM stel drie moontlike scenario’s daar. Ten beste kan ʼn politieke herskikking plaasvind, waar die ANC-opposisie verwelkom, terugbeweeg na ʼn matiger politieke senter en die Grondwet en die waardes van ʼn liberale demokrasie omarm.

Ten slegste kan die druk deur wisselende vorms van konflik ontlaai word. Verder kan ʼn verlies aan menslike vaardighede en beleggingskapitaal die ANC dwing om hul onvriendelike beleidstellings te hersien. Volgens ETM is al drie drukkleppe reeds in werking, maar een sal op die ou end oorheers.

Met bogenoemde in gedagte kyk ons nou na twee van pres. Zuma se stellings tydens die ANC se hoofraadsvergadering. (Sien ʼn verkorte weergawe van ETM se ontleding vir die volledige aanhalings.)
Ongelukkig is die opmerkings geensins positief vir diegene wat glo in die vryheid van markte en ʼn gesonde veelparty-demokrasie nie. In sy toespraak het pres. Zuma na die drieparty-alliansie verwys, waar hy die volgende stelling geopper het:
“The South African Communist Party, SACP, is the vanguard party of the working class, with the objective of advancing a socialist revolution, to create socialism with a dictatorship of the proletariat. That’s what really is the objective, aimed at creating a communist society underpinned by a classless society. Our [the ANC and its Alliance Partners] objectives are facing the same direction. That’s why we are partners on the route.” 
Verder het Zuma onbetwiste heerskappy oor die land uitgespreek.
“Opposition parties know they will never take power here; not in the foreseeable future, even towards the end.”

U kan na die toespraak kyk wat begin by 1:21:12 en die volgende paar minute sal duur.

Wanneer die stellings hierbo op sigwaarde geneem word, beoog die ANC duidelik sosialisme en sterker staatsbeheer. Enige moontlike oorname van opposisiepartye word ten sterkste ontken.

Sommige hoofstroom- politieke ontleders is van mening dat sulke opmerkings oor ʼn sosialisties/totalitêre ANC slegs op rooigevaar-vreesaanjaging neerkom. Daar word soms aangevoer dat die Zuma-tydperk bloot ’n linkse afwyking van ’n meer verantwoordelike ANC is. Tog is dit beslis ’n moeilike standpunt om in te neem aangesien die ANC se Vryheidshandves die party sedert 1955 ondubbelsinnig volgens kommunistiese beginsels rig.

Dit is glashelder dat die huidige inkarnasie van die ANC hom nadruklik op die kommunistiese DNS van die Vryheidshandves beroep. Hierdie sosialistiese dryfkrag is wat die ANC nou die “tweede fase van die Nasionale Demokratiese Revolusie” (NDR) noem.

Self al is dit die werklikheid dat die rooigevaar-alarm heeltemal oordrewe is, en dat die bogenoemde sosialistiese doelwitte blote fiksie is, is die punt egter dat die ANC in dié strewe, hoe sinneloos ook al, nog steeds groot skade aan die ekonomie kan aanrig – en reeds aangerig het.

Politieke ontleders wat die idee van die beywering vir ’n totalitêre sosialistiese staat spottend verwerp, neem die verwoesting wat deur dié onrealistiese poging aangerig kan word, dalk nie ernstig genoeg op nie.

Vrylating van druk – konstruktief of destruktief

Daarmee dan terug by die vraag oor hoe broeiende politieke en ekonomiese druk ontlaai sal word. ETM is van mening dat aardbewings van konflikontlading nou meer waarskynlik is. Rede hiervoor is dat die drukkleppe van kapitaal- en vaardigheidsvlug en ʼn mededingende politieke herskikking sover druk nie genoegsaam ontlaai het nie.

Volgens ETM kan markdissipline beslis meer vriendelike en voordelige staatsbeleid veroorsaak, maar hulle twyfel of dit sal gebeur. Ekonomiese pyn, weens kapitaalvlug, waarborg nie die koms van vriendeliker politieke en ekonomiese beleid nie; dit kan trouens spanning verhoog namate die vryemarkstelsel meer en meer tot ʼn sondebok gemaak word.

Sedert die wêreldwye finansiële krisis het kapitaal- en mensevlug uit SA toegeneem. Ongelukkig is daar min aanduiding dat die ANC genoegsaam voor hierdie markdissipline swig.

Vir ʼn ordelike mededingende politieke herskikking sal die ANC homself ordelik van die Nasionale Demokratiese Revolusie moet ontkoppel. Só ’n vrywillige en betreklik ordelike ontkoppeling skep ’n hele paar probleme.
Een daarvan is dat daar tot nou toe nie regtig bewyse hiervoor gesien word nie; sulke voorspellings berus nie op opmerklike realiteite nie. Tweedens, is die vooruitsigte vir interne hervorming in die lig van die enorme linkse konsolidasie van mag onder die Zuma-administrasie nie goed nie. Derdens, as die ANC demokrasie as ’n pad na totalitêre sosialistiese verowering beskou, hoekom sal hy dan konstruktief en wettig met politieke opposisie omgaan?

As politieke herskikking dan teen ’n algemeen meer linkse, onliberale visie bots, lyk politieke herskikking kwalik na die soort klep wat die druk genoegsaam en vinnig genoeg kan laat daal. Daarom is ETM van mening dat die drukkleppe van kapitaal- en vaardigheidsvlug en politieke herskikking nie die druk genoegsaam sal uitlaat nie.

Dit laat konflik. Ten minste is alle konflikscenario’s nie noodwendig geheel en al negatief nie. Een paadjie hier is natuurlik burgerlike konflik, wat beduidende negatiewe gevolge sal inhou, maar ander, minder ekstreme paadjies kan egter ook groot en vinnige nasionale politieke herskikking teweegbring.

Dit kan byvoorbeeld belastingopstande, korporatiewe ongehoorsaamheid, of dieper gebiedfederalisme insluit. Dié is natuurlik ook nie sonder gevare nie.

’n Belangrike bepalende faktor tot die konflikscenario is die ANC se werklike toewyding tot sy NDR. ʼn Wispelturige verbintenis tot die NDR sal dié kapitaalvlug- en politieke herskikkingscenario’s bevoordeel. ʼn Sterk verbintenis tot die NDR maak dié konflikscenario meer waarskynlik.

ETM wys daarop dat die ANC se beywering na sosialisme en die sentralisasie van politieke mag, soos in pres. Zuma se toespraak vervat is, deur genoegsame hitte smeebaar kan wees, maar dat aansienlik meer hitte as wat mense noodwendig besef nodig mag wees. Daarom, reken ETM, is die waarskynlikheid van konflik baie groter as wat tipies verwag word.

Let wel: Dié gedeelte is ’n verkorte weergawe van ’n onlangse ETM Investment Services: Strategy Update wat met toestemming van ETM Analytics aangepas en verkort is. Vir meer inligting oor ETM Analytics en die dienste wat hulle aanbied, besoek www.etmanalytics.com.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johannes Meintjes ·

Die politieke-ekonomiese klimaat in SA raak prakties al minder bevordelik vir die grondvlak ekonomie. Geen politike mag kan in ‘n vakuum of in die lug bestaan nie. Sonder mense en produktiewe werkwyses is dit niks. Intussen laat die ANC toenemend na om met enige omsigtigheid en langer termyn vooruitskouing te regeer. 53 Miljoen SAfrikaners kreun en steun, toyi-toyi, grom en gooi bollie, terwyl misdaad elke sfeer van die samelewing teister (ook misdadigheid aan die kant van die Regering) – maar kry hulself nie in ‘n praktiese, uitvoerbare en effektief-doeltreffende volks of minderhede deelnemende selfbestuurmegnaisme geherstruktueer nie. Die tyd en geleenthede vir nugtere denke en gepaadgaande, – werklik demokratiese en Republiekeinse optrede, – loop haas uit.

Piet ·

Uiteindelik word dit waarheid deur ander organisasies as Solidariteit, Afriforum, ISS en IRR verkondig. Enige persoon wat glo dat ons nie besig is om progressief in die rigting van sosialisme te beweeg nie is naïef. Die tekens is voor die hand liggend, kyk net na die nuwe voorgestelde tersiêre onderwys wetgewing. Of kyk net na die toenemende poging van die ANC om ‘n klaslose, raslose een taal samelewing te skep. Die studente betogings het dit vir die ANC duidelik gemaak dat die breër gemeenskap van hul ondersteuners voel dat die implementering van die NDR te stadig gebeur, hulle word nou dus genoop om die toepassing daarvan te versnel om sodoende die toevlug na die EFF te stuit. Die studente het nie gekla oor swak regeer nie, hulle het gekla oor beloftes wat nie nagekom is nie. 7 jaar maksimum. Begin die lekker Desembervakansies aftel.

Anton ·

Daar is gereeld sulke stelling en ook gepaardgaande kommentaar. Ek sien nooit oplossings van enige iemand wat werkbaar is nie.

chrisp ·

Anton

Daar is al verskeie oplossings hier op maroela gegee.
Aangesien hulle dan nie werkbaar is volgens jou nie .Wat is joune?

Henry ·

Anton

Om aan te sluit by chrisp; wanneer gaan jy laat waai met daai werkbare oplossing?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.