James Comey se afdanking: Aasvoëls sirkel die Withuis

james-comey-FBI

James Comey. Foto: Commons.wikimedia.org

Het pres. Donald Trump met sy afdanking van die FBI-hoof, James Comey, ’n krisis geskep wat kon gebly het?

As jy goed kyk, sien jy ’n aantal aasvoëls in die lug bokant Washington – en veral bo die Withuis – sirkel. Hulle soek net na ’n geleentheid om soos duikbomwerpers op pres. Donald Trump toe te sak en hom ’n dodelike wond toe te dien.

Trump het geen gelukkige tyd van iets meer as drie maande aan die bewind agter die rug nie. Verskeie kere het hy teenoor joernaliste gesug dat hy nie verwag het dat dit só moeilik sou wees om te regeer nie, en dat die sake waaroor hy moet besluit veel ingewikkelder is as wat hy vooraf gemeen het.

Maar die aasvoëls bokant Washington word steeds meer. Dié week het sy politieke vyande in die hoofstad hom ’n harde mokerhou toegedien.

Die hou was afkomstig van Sally Yates (Demokraat). Sy het ná Trump se bewindsaanvaarding kortliks as minister van justisie waargeneem voordat sy afgedank is omdat sy haar amptenare opdrag gegee het om nie Trump se verbod op die binnekoms van Moslems uit sekere Midde-Oosterse lande uit te voer nie.

Yates het voor ’n senaatskomissie onthul dat sy die Withuis in dié tyd gewaarsku het dat Trump se nasionale veiligheidsadviseur, genl. Mike Flynn, onwettige en polities gevaarlike bande met die Russe het, en dat hy vir visepres. Mike Pence daaroor gelieg het. Aangesien die Russe dit kon bewys, het dit hulle ’n wapen gegee om hom polities af te pers, het sy vertel.

Die Withuis het egter niks met die inligting gedoen nie. Eers toe die Washington Post dit oopvlek, is Trump gedwing om Flynn die trekpas te gee.

Maar Trump het vandeesweek ’n groot stuk rou vleis vir die aasvoëls gegooi deur Comey af te dank. Om die implikasie hiervan behoorlik te verstaan, moet iets van die agtergrond vertel word.

Die rede wat Trump vir dié stap gegee het, was dat Comey die ondersoek na Hillary Clinton se e-posskandaal verkeerd gehanteer het. As minister van buitelandse sake het Clinton naamlik haar private adres vir amptelike e-posse gebruik. Comey se oordeel ná sy ondersoek was indertyd dat sy “roekeloos” was, maar dat dit nie vervolging regverdig nie.

Tien dae voor die verkiesing het die bestaan van potensieel nuwe e-posse bekend geword, en Comey het gevolglik aangekondig dat hy die ondersoek heropen. Vlak voor die stemdag was sy laaste kommunikasie hieroor dat niks nuuts in die nuwe ondersoek gevind is nie en dat die dossier gesluit word.

Volgens Clinton self het dit haar die verkiesing gekos, iets wat natuurlik moeilik bewysbaar is.

Hoe ook al, Trump het Comey se heropening van die ondersoek destyds as “baie moedig” geprys. En tog het die president presies Comey se optrede van toe nou as rede vir sy afdanking aangevoer.

Dit maak nie sin nie. Soos dus verwag kan word, het Trump se teenstanders moord en brand geskreeu.

Vergeet nie dat Trump se normale styl een van kwasterigheid en voortdurende beledigings is. Die gevolg is dat hy ook in sy eie Republikeinse Party talle vyande het wat hom maar alte graag in die stof wil laat byt.

Dis in sulke geledere dat die vraag nou gestel word: Hoekom is Comey in die pad gesteek met ’n motivering wat geen sin maak nie?

Die antwoord, so word gesuggereer, is voor die hand liggend. Comey het naamlik die belangrikste van verskeie parallelle ondersoeke gelei na ’n beweerde sameswering tussen die Trump-verkiesingskamp en die Russe om die verkiesingsuitslag ten gunste van Trump te beïnvloed.

Indien daardie vermoede bewys kan word, kom dit neer op hoogverraad. Dit sou genoeg rede vir sy vyande wees om hom amptelik in ’n staat van beskuldiging (Engels: impeachment) te stel.

Art. II, paragraaf 4 van die Amerikaanse grondwet bepaal naamlik dat ’n president aangekla kan word op grond van “hoogverraad, omkopery of ander hoë misdade en oortredings”. Dis vaag gestel en maak ’n skuldigbevinding op juridiese gronde uiters moeilik, indien nie onmoontlik nie.

Die proses moet daarom primêr kragtens politieke logika verstaan word. Die Huis van Verteenwoordigers moet besluit om die president aan te kla, waarna die Senaat as jurie optree en oor sy skuld of onskuld besluit. En dít sal afhang van die politieke magsverhoudinge wat dan geld.

Indien dit bewys kan word dat Trump inderdaad met die Russe saamgespan het om Clinton uit die Withuis te hou, sal dit moeilik vir selfs sy ondersteuners wees om ’n aanklag te keer.

Die aasvoëls grynslag al. Het Trump vir Comey afgedank omdat hy te na aan die waarheid kom? is die vraag wat gestel word. Probeer die president iets wegsteek? En wat?

In talle Amerikaanse media word ’n parallel getrek met 1975, toe pres. Richard Nixon die spesiale aanklaer wat die Watergate-skandaal moes ondersoek, afgedank het. Die bekende vraag uit dié tyd word steeds luider herhaal: Wat het die president geweet, en wanneer het hy dit geweet?

Die druk onder sowel Demokratiese as Republikeinse senatore bou nou op om die ondersoek deur ’n onafhanklike spesiale ondersoeker te laat oorneem. Dis nie verwonderlik nie dat die Withuis dit by monde van sy woordvoerder, Sean Spicer, beslis verwerp het.

Ander ondersoeke word ook tegelykertyd ingestel. Die Huis van Verteenwoordigers s’n haper enigsins deur die onwilligheid van die Republikeine, maar dié van die Senaat het Yates se bom van vandeesweek opgelewer. Wat die aptyt van die Trump-vyande nog verder aangewakker het.

Toe dié woorde geskryf is, was dit nog nie bekend of Comey se opvolger die ondersoek gaan voortsit, en of dit met dieselfde energie as onder Comey se leiding sal gebeur nie.

Nietemin sou dit voorbarig wees om te sê dat Trump se dae getel is.

Uiteindelik sal sy toekoms nie primêr afhang van die vraag of hy skuldig is of nie. Dit sal afhang van die vraag of die Kongreslede – veral die Republikeinse meerderheid – Trump as ’n meulsteen om hul nekke ervaar, pleks van as ’n vlot wat hul politieke oorlewing kan verseker.

Gaan Trump ’n bate of ’n las word vir Kongreslede wat in aanstaande jaar se tussentydse verkiesing herkies wil word? As hy as ’n las gesien word, kan selfs Republikeine hom soos ’n baksteen laat val.

Die politiek is ’n dikwels gewetenlose terrein. Trump se vermoë om potensiële bondgenote deur sy voortdurende beledigings in vyande te omskep kan moontlik ’n meulsteen om sy eie nek word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
JJH Esterhuizen

https://t.co/dQaUeHQshZ

Dit blyk dat daar meer redes is waarom Comey afgedank is. Wat Scholtz betref, het hy sy dae skynbaar verwyl om na die Hillary Clinton imbongis CNN te luister.

humor

Dit is baie goeie raad om nie te swaar op libberalebronne te steun wanneer die Amerikaanse politiek ontleed word nie. Trump staan nie soos z alleen wamneer komplekse besluite geneem word nie.

Hendrik

Trump se manewalis laat my baie dink aan hoe Zuma die nasionale vervolgingsgesag ondermyn het na Shaik se skuldigbevinding en hy president geword het. Voëls van enerse vere.

John

Hierdie meneer het geen respek vir enigiemand nie en het die swakte gedrag tydens die kamma-ondersoek oor Rusland se bedreiging van die heelal, openbaar… 007 homself… Trump het die wereld ‘n guns gedoen, maar natuurlik sal al die ooms wat heimlik verlief is ouma Hillary, nie saamstem nie.

Disselboom

Die behandeling wat Trump se keuse vir minister van onderwys (in Afrikaanse terme beskryf), Betsy de Vos by ‘n “historically black” universiteit se gradeplegtigheid onlangs gekry het, asook die aanhoudende gekerm oor vermeende swart benadeling orals in die VSA, is vir ons van veel groter belang om waar te neem as waar ‘n wettige president wat darem ten minste ‘n sakeman in eie reg is ‘n wettige stap neem om ‘n senior amptenaar af te dank. Disselboom is nie noodwendig pro-Trump nie, maar gaan lees waarvoor De Vos uitgekryt word (wat neerkom op minder staatsosialisme en meer eie verantwoordelikheid vir… Lees meer »