James Comey se afdanking: Aasvoëls sirkel die Withuis

james-comey-FBI

James Comey. Foto: Commons.wikimedia.org

Het pres. Donald Trump met sy afdanking van die FBI-hoof, James Comey, ’n krisis geskep wat kon gebly het?

As jy goed kyk, sien jy ’n aantal aasvoëls in die lug bokant Washington – en veral bo die Withuis – sirkel. Hulle soek net na ’n geleentheid om soos duikbomwerpers op pres. Donald Trump toe te sak en hom ’n dodelike wond toe te dien.

Trump het geen gelukkige tyd van iets meer as drie maande aan die bewind agter die rug nie. Verskeie kere het hy teenoor joernaliste gesug dat hy nie verwag het dat dit só moeilik sou wees om te regeer nie, en dat die sake waaroor hy moet besluit veel ingewikkelder is as wat hy vooraf gemeen het.

Maar die aasvoëls bokant Washington word steeds meer. Dié week het sy politieke vyande in die hoofstad hom ’n harde mokerhou toegedien.

Die hou was afkomstig van Sally Yates (Demokraat). Sy het ná Trump se bewindsaanvaarding kortliks as minister van justisie waargeneem voordat sy afgedank is omdat sy haar amptenare opdrag gegee het om nie Trump se verbod op die binnekoms van Moslems uit sekere Midde-Oosterse lande uit te voer nie.

Yates het voor ’n senaatskomissie onthul dat sy die Withuis in dié tyd gewaarsku het dat Trump se nasionale veiligheidsadviseur, genl. Mike Flynn, onwettige en polities gevaarlike bande met die Russe het, en dat hy vir visepres. Mike Pence daaroor gelieg het. Aangesien die Russe dit kon bewys, het dit hulle ’n wapen gegee om hom polities af te pers, het sy vertel.

Die Withuis het egter niks met die inligting gedoen nie. Eers toe die Washington Post dit oopvlek, is Trump gedwing om Flynn die trekpas te gee.

Maar Trump het vandeesweek ’n groot stuk rou vleis vir die aasvoëls gegooi deur Comey af te dank. Om die implikasie hiervan behoorlik te verstaan, moet iets van die agtergrond vertel word.

Die rede wat Trump vir dié stap gegee het, was dat Comey die ondersoek na Hillary Clinton se e-posskandaal verkeerd gehanteer het. As minister van buitelandse sake het Clinton naamlik haar private adres vir amptelike e-posse gebruik. Comey se oordeel ná sy ondersoek was indertyd dat sy “roekeloos” was, maar dat dit nie vervolging regverdig nie.

Tien dae voor die verkiesing het die bestaan van potensieel nuwe e-posse bekend geword, en Comey het gevolglik aangekondig dat hy die ondersoek heropen. Vlak voor die stemdag was sy laaste kommunikasie hieroor dat niks nuuts in die nuwe ondersoek gevind is nie en dat die dossier gesluit word.

Volgens Clinton self het dit haar die verkiesing gekos, iets wat natuurlik moeilik bewysbaar is.

Hoe ook al, Trump het Comey se heropening van die ondersoek destyds as “baie moedig” geprys. En tog het die president presies Comey se optrede van toe nou as rede vir sy afdanking aangevoer.

Dit maak nie sin nie. Soos dus verwag kan word, het Trump se teenstanders moord en brand geskreeu.

Vergeet nie dat Trump se normale styl een van kwasterigheid en voortdurende beledigings is. Die gevolg is dat hy ook in sy eie Republikeinse Party talle vyande het wat hom maar alte graag in die stof wil laat byt.

Dis in sulke geledere dat die vraag nou gestel word: Hoekom is Comey in die pad gesteek met ’n motivering wat geen sin maak nie?

Die antwoord, so word gesuggereer, is voor die hand liggend. Comey het naamlik die belangrikste van verskeie parallelle ondersoeke gelei na ’n beweerde sameswering tussen die Trump-verkiesingskamp en die Russe om die verkiesingsuitslag ten gunste van Trump te beïnvloed.

Indien daardie vermoede bewys kan word, kom dit neer op hoogverraad. Dit sou genoeg rede vir sy vyande wees om hom amptelik in ’n staat van beskuldiging (Engels: impeachment) te stel.

Art. II, paragraaf 4 van die Amerikaanse grondwet bepaal naamlik dat ’n president aangekla kan word op grond van “hoogverraad, omkopery of ander hoë misdade en oortredings”. Dis vaag gestel en maak ’n skuldigbevinding op juridiese gronde uiters moeilik, indien nie onmoontlik nie.

Die proses moet daarom primêr kragtens politieke logika verstaan word. Die Huis van Verteenwoordigers moet besluit om die president aan te kla, waarna die Senaat as jurie optree en oor sy skuld of onskuld besluit. En dít sal afhang van die politieke magsverhoudinge wat dan geld.

Indien dit bewys kan word dat Trump inderdaad met die Russe saamgespan het om Clinton uit die Withuis te hou, sal dit moeilik vir selfs sy ondersteuners wees om ’n aanklag te keer.

Die aasvoëls grynslag al. Het Trump vir Comey afgedank omdat hy te na aan die waarheid kom? is die vraag wat gestel word. Probeer die president iets wegsteek? En wat?

In talle Amerikaanse media word ’n parallel getrek met 1975, toe pres. Richard Nixon die spesiale aanklaer wat die Watergate-skandaal moes ondersoek, afgedank het. Die bekende vraag uit dié tyd word steeds luider herhaal: Wat het die president geweet, en wanneer het hy dit geweet?

Die druk onder sowel Demokratiese as Republikeinse senatore bou nou op om die ondersoek deur ’n onafhanklike spesiale ondersoeker te laat oorneem. Dis nie verwonderlik nie dat die Withuis dit by monde van sy woordvoerder, Sean Spicer, beslis verwerp het.

Ander ondersoeke word ook tegelykertyd ingestel. Die Huis van Verteenwoordigers s’n haper enigsins deur die onwilligheid van die Republikeine, maar dié van die Senaat het Yates se bom van vandeesweek opgelewer. Wat die aptyt van die Trump-vyande nog verder aangewakker het.

Toe dié woorde geskryf is, was dit nog nie bekend of Comey se opvolger die ondersoek gaan voortsit, en of dit met dieselfde energie as onder Comey se leiding sal gebeur nie.

Nietemin sou dit voorbarig wees om te sê dat Trump se dae getel is.

Uiteindelik sal sy toekoms nie primêr afhang van die vraag of hy skuldig is of nie. Dit sal afhang van die vraag of die Kongreslede – veral die Republikeinse meerderheid – Trump as ’n meulsteen om hul nekke ervaar, pleks van as ’n vlot wat hul politieke oorlewing kan verseker.

Gaan Trump ’n bate of ’n las word vir Kongreslede wat in aanstaande jaar se tussentydse verkiesing herkies wil word? As hy as ’n las gesien word, kan selfs Republikeine hom soos ’n baksteen laat val.

Die politiek is ’n dikwels gewetenlose terrein. Trump se vermoë om potensiële bondgenote deur sy voortdurende beledigings in vyande te omskep kan moontlik ’n meulsteen om sy eie nek word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

JJH Esterhuizen ·

https://t.co/dQaUeHQshZ

Dit blyk dat daar meer redes is waarom Comey afgedank is. Wat Scholtz betref, het hy sy dae skynbaar verwyl om na die Hillary Clinton imbongis CNN te luister.

Leopold Scholtz ·

Vriend, ek het die stuk in Breitbart News gaan kyk wat jy as bron gebruik. Gaan lees dit weer. Dis ‘n klomp skindernuus en bevat niks strafbaars nie. Dink jy dit is voldoende rede om hom af te dank? Terloops, ek baseer my artikels op 10-15 verskillende bronne, nie slegs op CNN nie.

Kom Ons Boks ·

En wat is fout met nuus agentskappe soos Breitbart; Heatstreet; FoxNuus; Maroela ens? Mnr. Scholtz probeer darem sin maak van die feite alhoewel sommige nie met hom mag saamstem nie, minder kan gese word van CNN; BBC: MSNBC; NASPERS ens. maar dit is komieklik om te sien tot watter laagtes hulle kan daal.
Vir my persoonlik is dit interresant dat Bill Clinton kort na sy inhuldiging ook sy FBI direkteur afgedank het (met ondersteuning van destydse AG, net soos nou die geval ook is)onder verdagte omstandighede maar die hoofstroom media het geswyg (wat natuurlik nie nou die geval is nie). Tot nou toe het al wat ‘n demokraat is Comey gehaat maar nou is hul dit eens dat dit die einde van die VS se demokrasie is noudat Trump Comey die trekpas gegee het. Comey het homself tot ‘n val gebring deur telkens die DOJ te systap en sy eie gevolgtrekkinge die publiek in te stuur (“due process” is vir Comey ‘n vloek word). Daar is baie in die FBI se eie geledere wat ook bly is “wildcard” Comey is verwyder, soos sy adjunk wat nou as waarnemende direkteur instaan (volgens hom het Comey die FBI se naam telkens deur die modder gesleep). Die hele ding oor verbintenisse met Rusland is suiwer hoorse en die prinsiep van “onskuldig totdat daar skuldig bevind word” is ook ‘n vloek woord vir die hoofstroom/linkse media. Ons kan maar net wonder of Pres. Hillary vir Comey sou verwyder het? Alles maar aasvoeltande…

humor ·

Dit is baie goeie raad om nie te swaar op libberalebronne te steun wanneer die Amerikaanse politiek ontleed word nie. Trump staan nie soos z alleen wamneer komplekse besluite geneem word nie.

Hendrik ·

Trump se manewalis laat my baie dink aan hoe Zuma die nasionale vervolgingsgesag ondermyn het na Shaik se skuldigbevinding en hy president geword het. Voëls van enerse vere.

John ·

Hierdie meneer het geen respek vir enigiemand nie en het die swakte gedrag tydens die kamma-ondersoek oor Rusland se bedreiging van die heelal, openbaar… 007 homself… Trump het die wereld ‘n guns gedoen, maar natuurlik sal al die ooms wat heimlik verlief is ouma Hillary, nie saamstem nie.

Disselboom ·

Die behandeling wat Trump se keuse vir minister van onderwys (in Afrikaanse terme beskryf), Betsy de Vos by ‘n “historically black” universiteit se gradeplegtigheid onlangs gekry het, asook die aanhoudende gekerm oor vermeende swart benadeling orals in die VSA, is vir ons van veel groter belang om waar te neem as waar ‘n wettige president wat darem ten minste ‘n sakeman in eie reg is ‘n wettige stap neem om ‘n senior amptenaar af te dank. Disselboom is nie noodwendig pro-Trump nie, maar gaan lees waarvoor De Vos uitgekryt word (wat neerkom op minder staatsosialisme en meer eie verantwoordelikheid vir onderwys) en dis maar een voorbeeld wat mens moet laat dink oor moontlike redes hoekom dit vir die menseregte liberales noodsaaklik is om Trump te verguis, Jammer, maar Maroela Media is maar vol van insiglose ongebalanseerde en napraterige kommentaar.

Johann ·

Wil net iets opper, aan die eenkant wil Trump sy wil op die mense afdwing, aan die anderkant is dit juis hoe die kommuniste tewerk gaan, strooi verwarring, verdeeldheid en onstabiliteit om mag te probeer oorneem

John ·

Hierdie heerlike siek speletjie van die wereldpers dui op die uiters vervalle vlak van joernalistiek wat die kuberlugruim sonder vaste basis, byna soos IS, beset; wie kan dit aanval as dit soos seepbelle verstom en verdwyn. Duidelik het die rolprentwese sekere mense se onderskeid tussen waarheid en verdigsel laat vervloei. War Games gedy met ‘enter’. Soos in die wolf-wolf-storie gaan niemand kan help as die regte wolf storm nie…

Magaretha van heerden ·

Redelike akkurate en onpartydige beskrywing van die situasie. Trump is myns insiens die beste president ooit. Hy speel brug met die ander en hou sy kaarte mooi toe. Die rede is sekerlik omdat as sy teenstaanders weet wat hy beplan hulle hom dadelik in die wiele ry. Nie omdat dit tot die USA se voordeel is nie maar slegs omdat hulle hom nie kan verdra nie Die rede daarvoor is naruurlik omdat hulle die duisternis is wat nie met die lig kan saamwerk nie. Kyk gerus e op Youtube na Mark Taylor se profesiee oor Trump. Asook Kim Clement. Daarvolgens is Trump God se man vir die tyd. Die Demokrate ken nie van eerlikheid en reguit wees nie. Hulle is te gewoond aan om skelm en agterbaks te wees. Al die wat nou so vir Comey is het n paar maande gelede geeis dat hy afgedank moet word. Watse skynheiligheid! Mnr Trump, “drain the swamp” Dit moet eintlik orals gebeur.

vermeende ·

Politiek is n vuilspel van verdagmakery en onmin saai, alles om die gepaste resulate te kry.
Die Amerikaases publiek het by die stembus hulle wens gewys, maar die media is uiters liberaal wat die Clinton kamp gedryf het.
Trump het ook vir Soros wat 20 keer meer geld as hy het aangevat, en dit is geen geheim dat Soros sy geld en invloed gebruik om lande te laat sink en presidente te laat val nie.
Leon se artikel is oppervlakig en net waarop die liberale media fokus.
Trump noem mos van die aanloop van die verkiesing die hoofstroom media fopnuus!
Delf dieper, ek glo Soros is aan die stuur.

Lampies ·

Scholtz kon kennelik nie wag op nog ‘n geleentheid om Trump weer by te kom nie. Ek vind sy artikels waarby Trump betrek kan word, hetsy direk of indirek, alles behalwe objektief. As Comey volgens Scholtz “te na naan die waarheid gekom” het, kan hy ( Comey) mos nou sy hart uitpraat. Hy is mos nie dood nie? Wat Yates aanbetref: as jy ‘n wettige opdrag van die President willens en wetens verontagsaam, dan waai jy. Dit is ‘n redelik-eenvoudige beginsel wat oral toegepas word, maar natuurlik maak dit haar dan ‘n liefling van die liberaliste. Scholtz ry ook nog steeds die anti-Trump “Moslem”-perd: die tydelike verbod op sekere immigrante was, heel tereg, gerig op die binnekoms van “mense” vanuit bepaalde lande en nie op Moslems as sodanig nie.

Lampies ·

En Maroela Media hou aan om nie-beledigende anti-Scholtz kommentaar te verwyder!

DewaldS ·

Kyk, dis nou maar die ding van ‘n goeie spindoktor – maak nie saak wat gebeur nie, hy sal altyd die storie spin om dieselfde te klink. As jy ons eie spindoktor sou vra om oor die rugby te skryf sal hy by een of meer van die volgende uitkom i) Russiese aggressie ii) ver-regse gevaar in Europa op die vlak van Nazisme iii) Trump se onvermoë en ongewildheid iv) die onskuld en goeie intensies van Obama, Clinton, McCain, Nuland en al die ander mense-slagters van ons tyd v) die goeie deugde en staatsmanskap van al die geld-mag lakeie (basies sy ‘peers’) wat vorentoe gedruk word in invloedryke posisies en vi) die betroubaarheid van die hoofstroom-media en hulle bronne en die futiliteit daarvan om enige van hulle narratiewe te bevraagteken.

humor ·

Dewald S jy skryf oor spindoktors, maar wragtag dit klink my jy praat nou reguit van Leopold Sholtz Stem saam met jou.

Arra ·

“Check the scoreboard!” Goeie leierskap gaan gepaard met resultate. Amerikaanse markte haal rekord hoogtes, werkspepping by die miljoene, massiewe investering, daadwerklike wet en orde wat herstel word, onwettige immigrante word gedeporteer by die duisende, oorlogsveterane word na gekyk en belangrikste van allles kry Christene weer ‘n plek in die son en word Bybelse waardes weer voorgehou. God seen die VSA en mag God vir die RSA ook ‘n nuwe hoopvolle dispensasie laat aanbreek! Die liberale media kan nie kernwaarhede verdra nie…. wat nog deurgee aan die wereld…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.