Jan Taks wil gróót gaan met tegnologie

Deur Riana Crafford

Riana Crafford

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het aangekondig dat hulle nuwe tegnologie wil implementeer om Suid-Afrikaanse belastingontduikers vas te vat.

Hulle gaan blykbaar hul inligtingtegnologie grootliks opskerp deur te fokus op datagedrewe insigte, selflerende programmatuur en kunsmatige intelligensie (KI).

“Hierdie stap volg na […]  ʼn herdefiniëring van die belastinggaarder se strategiese doelwitte,” sê SAID se kommissaris, Edward Kieswetter.

Hoe moet die man op straat voel oor hierdie voorgenome projek? My beskeie mening is dat dit ʼn stap in die regte rigting is. Hopelik verstaan die man en vrou op straat dat ons nie kwaad is vir Jan Taks nie, net vir die regeringsinstansies wat die geld vermors wat hy ingesamel het. Dit baat iedereen as almal gelyk die wa deur die drif trek; ons het nie lyfwegstekers nodig nie. Hoe meer mense die belastinggaarder “ondersteun”, hoe minder hoef elkeen individueel by te dra. Daarom is ons bly as Jan Taks se stelsels doeltreffend werk, om die gewillige (of dan ten minste gedienstige?) belastingbetalers se lewens makliker te maak wanneer hulle hul verpligting nakom, sowel as om diegene wat probeer om die belastingman te kul, op te spoor en in te katrol.

Hier is hoe Kieswetter dit wil regkry (en dit is goeie nuus vir konsultante en ander professionele persone in Suid-Afrika): Jan Taks gaan ʼn aggressiewe werwingsperiode in. Hulle wil die SAID met Groot Data en KI bemagtig, en gaan kundigheid nodig hê om dit reg te kry.

Sien, die een hand was die ander. Die privaat sektor beskik oor die ter sake kundigheid, en dus gaan van ons belastinggeld deur SAID aangewend word om van hierdie mense in diens te neem: data-ontleders, asook tegnologiese innovasie- en aanskaffingsbeamptes. So gee hulle die Suid-Afrikaanse arbeidsmark (en veral die IT-bedryf) ʼn hupstootjie.

Dit is goed dat die SAID die belang van Groot Data -ontleding en -benutting insien; heeltemal belyn met tendense van suksesvolle ondernemings van die 20’s. Hierdie wetenskap (Groot Data-ontleding) help organisasies om hul data doelmatig in te span en sodoende nuwe geleenthede raak te sien en daarop te kapitaliseer. Hoekom sou die SAID dit nie ook doen nie? Belastingbetalers behoort verlig te wees om te hoor dat Jan Taks ook graag slimmer wil werk; vernuftige aanwending van Groot Data sal lei tot meer doeltreffende bedrywighede rakende “ondersteuners” se belastingbydraes, meer effektiewe aanwending van hulpbronne, en gelukkiger belastingpligtiges.

Laastens: Die man op straat hoor al ʼn geruime tyd van die Vierde Nywerheidsrewolusie (4NR). Net ingeval ons gedink het dat dit slegs ontwikkelde lande is wat hieraan deelneem, is dit verblydend om die kommissaris te hoor verklaar: “Verby is die tyd om bloot te praat oor die 4NR, ons wil toekomsgereed wees, en dit kan ons slegs wees deur te bly belê in ʼn intelligente organisasie, wat weer soos in die verlede wêreldklasdiens aan belastingpligtiges lewer. (Een van die maniere om dít te doen, is om dit moeilik en duur vir belastingontduikers te maak!)

Dus, ʼn wenk vir elkeen wat ʼn IT-verwante loopbaan oorweeg: Die aanvraag na data-ontleders gaan in die onmiddellike toekoms al hoe meer toeneem.

  • Riana Crafford is ʼn dosent in Bedryfsinligtingstelsels aan Akademia

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gato ·

Dit klink nou alles baie mooi en goed maar is dit nie maar ‘n geval van Groot broer gaan jou nou nog fyner dophou nie. Werknemers wat vir organisasies werk het in elk geval met die huidige stelsel ‘n minder as nul kans om geld weg te steek vir die ontvanger. Hulle kry jou IRP5 lank voordat jy dit van jou werkgewer kry.
Interessant dat SAID die Staats departement is wat die meeste moeite doen om by te bly met tegnologie ontwikkeling. Hulle wil seker maak hulle mis geen geld wat hulle kan insamel nie. Die res van die staats departemente en Munisipale rade val uitmekaar en raak by die dag verder agter.

Henk ·

Die gans wat die goue eiers lê was van die begin af goed opgepas deur die ANC. Zuma en Moyane het amper daarin geslaag om hom nek om te draai, maar gelukkig (ongelukkig?) het die regering besef dat hul besig is om vir hulself nog ‘n dieper gat as vantevore te grawe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.