Japan se eerste minister bedank skielik

Shinzo Abe. (Foto: Franck Robichon/Pool Photo via AP)

Heel onverwags het Shinzo Abe (65), eerste minister van Japan, sy bedanking aangekondig. Die rede is swak gesondheid. Hy sal aanbly totdat ’n opvolger gekies is. Dikwels word gesondheidsprobleme voorgehou om die werklike redes vir ’n bedanking te verdoesel, maar in die geval van Abe is dit blykbaar die waarheid. Hy ly al lank aan ’n dermsiekte wat onder beheer was, maar nou glo versleg het.

Abe staan uit onder ’n reeks onopwindende en gesiglose Japanse eerste ministers wat kort regeer het sonder ’n nalatenskap en wat vinnig vergete geraak het. Abe het sedert 2012 regeer, wat in die konteks van Japan besonder lank is, selfs die langste van enige eerste minister in die 20ste eeu. Hy het selfs in 2006 en 2007 ’n kortstondige regering gelei, wat egter taamlik onsuksesvol was en waar hy ook weens gesondheidsredes voortydig bedank het. Daarna het ’n periode van onstabiliteit en gedurig wisselende regerings gevolg. Die Liberale Demokratiese Party (LDP), in wese konserwatief, het selfs vir ’n ruk in die opposisie beland. In 2012 kon Abe ná ’n interne leierskapstryd sy party triomfantlik na die mag teruglei. Hy het met talle hervormings begin en gelyktydig politieke stabiliteit verseker.

Op die ekonomiese front het hy suksesvol met sy sogenaamde Abenomics die lang stagnasie van die Japanse ekonomie weer in dinamiese groei verander. Die kern van Abenomics was om deur middel van die “drie pyle”, die verlaging van die wisselkoers (quantitative easing), meer staatsbesteding en strukturele hervormings uitvoer te verhoog en die ekonomiese aktiwiteit te stimuleer. Dit het tot ekonomiese groei, verlaagde skuld, stygende aandelemarkte en meer werkskepping gelei, maar die suksesse is deur die insinking weens die Covid-19-pandemie weer tot niet gemaak. Internasionale handel is ook deur liberalisering en verskeie ooreenkomste aangemoedig. Met die Europese Unie (EU), asook verskeie Asiatiese lande is bilaterale en multilaterale handelsooreenkomste gesluit. Abe het ook die rol van sy amp versterk en dié van die burokrasie verswak, om vinniger besluite te kon uitvoer. Immigrasie is ook effens vergemaklik en toerisme bevorder om Japan se sterk inwaartse kyk effens te verander.

Op buitelandse terrein was Abe ’n bondgenoot van die VSA en Donald Trump. Die noue skakeling met die VSA is vir Japan lewensnoodsaaklik as versekering teen ’n al hoe meer aggressiewe China. ’n Konflik oor die Senkaku-eilande sluimer steeds. Verhoudinge met Indië, Suid-Oos-Asië en Australië is versterk, ook met die oog op China se aggressie in die streek. Verhoudinge met Suid-Korea het egter verswak weens ekonomiese mededinging en ook weens Abe se meer nasionalistiese aanslag. Die verlede van die Tweede Wêreldoorlog, waar Japan vir Korea verower en sy mense verdruk het, is steeds ’n teer punt tussen die twee lande. Vir Abe was Japan se rol as ewige booswig wat sy hoof moet laag hou, nie meer aanvaarbaar nie.

Shinzo Abe. (Foto: Franck Robichon/Pool Photo via AP)

Een van Abe se hoofoogmerke was dan ook om Japan se status te normaliseer en om weg te beweeg van die post-Tweede Wêreldoorlogbedeling. Omdat Japan een van die verloorders van die Tweede Wêreldoorlog was, is dit, nes Duitsland, polities en militêr ontman, maar het in ruil ekonomiese hulp gekry en kon ’n merkwaardige oplewing toon en tot een van die wêreld se topekonomieë ontwikkel. Abe se gevoel was dat dit – meer as 70 jaar ná die einde van dié oorlog – nou tyd geword het dat Japan se spesiale status en selfopgelegde terughouding beëindig word en die land soos enige ander een ook sy belange met selfvertroue verteenwoordig, indien nodig ook militêr.

Dit sou ook beteken dat die land se grondwet verander word en die weermag wegbeweeg van suiwer selfverdediging na ’n meer uitwaartsgerigte beleid, wat ook deelname aan internasionale militêre aksies insluit. Binnelands was dit omstrede. Japanners het gewoond geraak aan hul pragmatiese pasifisme en om ’n ekonomiese reus en militêre dwerg te wees wat op die VSA vir sy beskerming staatmaak. Die grondwetverandering het dan ook misluk en slegs kleiner hervormings het die weermag se rol effens versterk.

Reeds in die afgelope paar maande het Abe sy dryfkrag verloor en kan nou talle van sy inisiatiewe nie enduit voer nie. Die Covid-19-pandemie het (ook) in Japan alles op die lange baan geskuif, by name die Olimpiese Spele wat hierdie jaar moes plaasvind (nog een van sy suksesse) – Abe beëindig dus sy lang bewind op ’n lae noot.

Die volgende eerste minister, wat intern deur die LDP verkies gaan word aangesien die volgende algemene verkiesing nog ’n jaar weg is, gaan waarskynlik weer ’n oninspirerende administrateur wees wie se naam gou vergete gaan raak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Dis nie die eerste keer dat Abe sy ‘face’ probeer red en bedank nie. Sy swak gesondheid, en wie kan stry, is sy uitweg. Ons weet Japanners se eer word gou gekrenk. Hy is nog redelik jonk, so ‘n terugkeer is nie uitgesluit nie.

Therese ·

Bitter jammer dat Shinzo Abe op dié lae noot moet eindig.
Hy verdien beslis beter en ‘n triomfantelike Tokyo Olimpiese Skouspel sou só gepas wees.
Die kansellering daarvan is slegs ‘n druppel in die oorlopensvol Covid19-emmer.
Die gesloer om alarm te maak uit China het onberekenbare skade wêreldwyd aangerig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.