Jesus staan op die skerpkant van kultuur

Die Martin Luther-standbeeld in Wittenberg. Foto: (Hendrik Schmidt/dpa via AP)

Op 31 Oktober 1517, vanjaar 502 jaar gelede, het Martin Luther se gewete met hamerslae en spykers teen die kerkdeur van Wittenberg tot uitdrukking gekom.

Elke stelling was ’n opstaan vir vryheid. Vry van die beklemmende magsmisbruik van die Roomse Staatskerk. Vry van die teologie van vrees wat teer op skuldgevoelens en boetedoening. Vry om egte mens te wees wat leef binne die liefdevolle ruimte van ’n genadige God.

Vryheid in Christus het ook Luther se kulturele identiteit bevry. Geloofsvryheid het Luther nie minder Duits gemaak nie, eintlik meer Duits. Luther se gewetensstryd het nie by hamerslae en spykers gestop nie, maar met sintaksis en semantiek tot uitdrukking gekom in die vertaling van die Latynse Bybel in Duits. Die Duitse arbeider was bevry om die Bybel self te lees, self die woorde daarvan te bid en self dit op sy lewe van toepassing te maak.

Niemand bestaan in ’n identiteit- en kultuurlose vakuum nie. Om dié rede misken die Bybel nie mense se kulturele identiteit nie, maar bied ook nie die evangelie en kultuur as sinonieme aan nie. Die Bybel is baie eerlik oor die gawe en gevare van kulturele identiteit.

Kulturele identiteit is meer as individuele psigologiese samestelling, persoonlike vermoëns, kwalifikasies, prestasies, beroep en posisie in die samelewing. Identiteit word ook gevorm deur ons herkoms, gesin, familie, gemeenskap en die kulturele waardes wat ons lewensuitkyk beïnvloed. Die uniekheid van mense en kulture is ’n geskenk en gawe van die Here wat ons samelewing verryk en verdiep.

Daar is risiko’s. Bykans elke volk, taal of kultuur het sedert die ontstaan van die mens probeer om God na hulle beeld te vorm. Enige een wat “Jesus” Google sal wit, swart, bruin, Indiër, Joodse, Amerikaanse, Chinese Jesus-inbeeldings vind. Dit is maklik om ’n Jesus te vind wat sê wat jy wil sê en doen wat jy wil doen. ’n Jesus vir wie jou vyande ook Sy vyande is. ’n Jesus wat ingespan word om jou prioriteite en jou agenda Sy agenda te maak.

Om Jesus ondergeskik te stel aan eie belang en volksbelang, is net so ʼn dwaalleer as om mense se kulturele identiteit te misken. Luther het nie met die Duitse Bybelvertaling Jesus ’n Duitser probeer maak of Jesus vir Duitse volksbelange ingespan nie. Luther het Jesus op die skerpkant van kultuur geplaas. Op die skerpkant van kultuur hervorm Jesus deur Gees en Woord ons totale identiteit en kultuur, totdat ons al meer na Sy beeld lyk. Die Bybel maak ons vry om as egte mense persoonlike en kulturele identiteit binne die vryheid van Christus uit te leef.

Wat sê dit vir Afrikaners in 2019?

Dr. Danie Langner. Foto: Reint Dykema.

Die dinamiese uniekheid van verskillende kulture, identiteite en gemeenskappe in Suid-Afrika is nie ’n las wat aan die dwang van ’n grys, gesiglose eenvormigheid onderwerp mag word nie. Wat ons land nodig het, is nie ’n Jesus wat soos wit mense, swart mense, bruin mense lyk en hul belange napraat nie. Ons het wit, swart en bruin mense nodig wat in hul daaglikse doen en late al hoe meer soos Jesus lyk en optree. Dit is die krag van die evangelie wat grense afbreek, brûe bou en ware versoening tussen mense, rasse, tale en kulture bewerkstellig.

Vandag is dit ongelukkig hoogmode om Christenskap te gebruik om mense skuldig te laat voel oor hulle Afrikanerskap. Asof ons nie Christen en Afrikaner kan, of mag, wees nie. Afrikaners word voortdurend onderwerp aan onophoudelike skuldigbevinding oor die verlede, die hede en sommer ook wat nog verkeerd kan gaan in die toekoms. Afrikaners kan net nie genoeg boete doen oor die verlede nie. Asof Jesus se vergifnis en genade net nie vir Afrikaners genoegsaam is nie. Afrikaners word dikwels byvoorbaat geëtiketteer as bekrompe, selfsugtige, meerderwaardige mense wat alles net vir hulself wil doen en by wie daar ’n verskuilde rassistiese agenda is wat ontmasker moet word.

Die waarheid is dat Afrikaners saam met miljoene ander Christene voor Jesus op die skerpkant van hulle kultuur staan. Hulle sing opreg uit die Liedboek: “Hervorm my krag, my hart, my rede.”

Derduisende Afrikaners het toe nie spreekwoordelik saam met Jona na Tarsis toe gevlug nie, maar leef en werk vandag voluit in Nineve. Ek weet van geen Afrikaner wat nie wil hê dat ons ekonomie moet herstel; dat die munisipale infrastrukture moet werk; dat onderwys suksesvol moet wees; dat misdaad hok geslaan moet word en dat almal in vrede moet saamwoon nie. Ek weet wel van derduisende Afrikaners wat elke dag hard werk om bogenoemde te help verwesenlik.

Afrikaners doen die een ding, maar laat nie die ander na nie. Binne die raamwerk van die kultuuropdrag bewoon, bewerk en bewaar Afrikaners ons taal en kultuurhistoriese bedding. Ons pas dit wat vir ons kosbaar is op. Terselfdertyd bid Afrikaners vir die owerheid, betaal belasting, is diensbaar in hulle gemeenskap en is sout en lig waar hulle gaan. Miskien moet ons meer bewus wees van kultuurbalke in eie oë en minder splinters soek en uitkrap in ander se oë waar dit nie is nie.

Om aan Christus te behoort, maak ons nie minder Afrikaner nie. Ons mag Afrikaner wees. Ons mag trots Afrikaner wees. Ons mag ons kulturele identiteit koester. Ons mag lief wees vir ons taal. Ons mag ons helde en prestasies bevestig. Dit is nie verkeerd nie en nog minder sonde.

Christus se genade stel ons in staat om ons foute, mislukkings en die breuklyne in ons kultuur en geskiedenis eerlik in die oë te kyk en dit grootmoedig te bely. Niemand is volmaak nie.

Christus ontmoet ons in ons gebrokenheid en maak wonde gesond. Omdat Jesus ook vir Afrikaners lief is, beitel hy met liefde, deernis en genade die skerp en onooglike hoeke en kante van ons kulturele identiteit geleidelik af, totdat ons ook as Afrikaners beter, doelgerigte, diensbare instrumente in Sy hande is.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Die groot debat is, is om gay te wees sonde.
Elkeen het sy opinie en hy is geregtig op sy opinie.
Persoonlik het ek niks teen gays nie. Ek het wel op verskeie plekke in die Bybel gelees dat homoseksualiteit is sonde. Ek interpreteer homoseksuliteit as die praktisering van ‘n seksuele verhouding as jy gay is. Dit sien ek persoonlik soos die Bybel as sonde. Ek het baie gay mense geken in my lewe en baie goed oor die weg gekom. As heteroseksuele het nooit gevoel ek wil ‘n verhouding hê nie.
Ek sal nou seker gestening word, maar ek voel dat as jy gay is, bly weg van ‘n seksuele verhouding soos die Bybel voorskryf.

D ·

Jy is reg, ek sien dit ook so: bly dan weg van so n verhouding. En nog meer: neem dit na Jesus toe. Vir seker sal Hy herstel bring as dit in opregtheid vir Hom gevra word.

Pieter ·

Ek is bly hier is nog iemand wat lief is vir Jesus en die Afrikaner. Ons het mos die sondebok geword van hierdie wonderlik verwoeste land waarin ons bly terwyl ons weet ons het dit opgebou met die oog gerig op God en met Sy hulp en bystand. Mag ons weer in die posisie kom om die land reg te maak nadat die verwoesters nie meer iets verder kan vernietig nie.

Feite ·

Omdat niemand volmaak is nie moet ons mekaar maar net vergewe, terwyl wanneer dit ons pas en ons naam is afriforum, dan soek ons geregtigheid. Wat sal jou aandadigheid wees by die uitfassering van afrikaans by universiteite en die isolering van afrikaans by solidariteit vir die bou van n sakeryk!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.