Jeugdag: Hiervoor sê ek nee dankie

Deur Marike Labuschagne

Marike Labuschagne.

In die konsentrasiekampe van die Tweede Vryheidsoorlog waar duisende vroue en kinders aangehou is en gesterf het, het die Britse regering met spesiale geleenthede soos Kersfees en die kroning of verjaarsdag van koning Edward VII, geld vir feestelikhede bewillig. Of selfs vir die uitdeel van koningin Victoria se verjaardagkoek.

Nie al die kampbewoners het egter hierdie feesgeleenthede bygewoon nie vanweë hulle bittere gevoelens teenoor die Engelse. Maria Pretorius verseker haar pa in ’n brief dat nie een van sy kinders die feesgeleentheid bygewoon het nie. Van die sportgeleenthede wat deur die kampowerhede gereël is, skryf Miem Fischer: “… die aardigheid sal weer aan ons vyande die geleentheid gee om die nadelige sy van die kampbestaan goed te maak. Natuurlik sal die kiekies wat daarvan geneem word, die wêreld ingaan om die geselligheid en vryheid van die kampbestaan van al die vroue te bewys.”

’n Ander tipe koek word al vir jare aan ons opgedis deur die ANC-regering. 16 Junie: Jeugdag. Die dag waarop die jeug kwansuis gevier moet word. Elke jaar moet ons die foto sien van Hector Pieterson wat tydens die Soweto-opstande doodgeskiet is en elke jaar neem ons deel aan die “feesvieringe” om Jeugdag te vier. Waarom? Hoekom wil ons ons vereenselwig met iets wat die ANC vier, terwyl hulle ons ontsê van werksgeleenthede, beurse en identiteit …?

Op 16 Junie 1900 is die verskroeideaardebeleid ingestel wat tot gevolg gehad het dat ongeveer
34 000 vroue en kinders in konsentrasiekampe gesterf het. Na die oorlog het dié wat dit oorleef het, teruggekeer na hul afgebrande plase en van voor af begin met dit wat oor was, sodat ons vandag nog hier kan wees. Dít is my inspirasie vir die toekoms.

So nee, ek soek nie jou verdomde koek nie. Ek soek na dié wat soos ek voel sodat ons kan voortbou op ons ryk geskiedenis.

Met dank aan Caitlin Hewitt vir haar gedig getiteld “Soektog” asook aan J.E. Krugell vir inligting uit proefskrif getiteld: “Die lewe van ingekerkerde gemeenskappe: ’n Vergelykende studie uit kampdagboeke en -herinneringe gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog, 1899-1902”.

Soektog
Deur Caitlin Hewitt 16 Mei 2016

Hulle is honger, sê sy, gee vir hulle koek.
Wat weet sy van die honger van my trots?
Van die verlang en na my mense soek?

Hulle het gevat, verbrand, vermoor.
Wat ons s’n is gesteel,
my siel in as vertrap.

Wat weet sy van die smaak van bloed
as ek vergeefs na my mense soek?
ʼn Hele volk is uitgewis.

Ek sal opstaan as jy sal
Ek soek nie jou verdomde koek nie,
Ek soek my kind, my vrou, my land.

  • Marike Labuschagne is nasionale koördineerder vir jeugontwikkeling by AfriForum Jeug.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Ek stem saam met jou, Marike.

Snowball

Jou sentimente word deur duisende gedeel; hulle wat daagliks verraad beleef in die nuwe SA, wie se kinders en ouers vermoor is tydens plaasmoorde, of dié wat moet emigreer want hier is nie meer ‘n toekoms nie. Selfs oorsee word die koek versier sodat SA moet lyk na iets geloofwaardig. Die teendeel is egter waar vir wit en swart; dié wat honger gaan slaap ná vandag se Jeugdagvieringe sal dalk, dálk onthou wie die argitekte van hulle ellende is, maar mens moenie jou asem ophou nie – die Bose Witman word ná 27jaar steeds lewend gehou op dae soos vandag.… Lees meer »

Cecilia

Stem saam.
Plaas moorde en grond onteiening is niks anders as dit wat d Engelse in d 1900’s aan ons ou Boerevolkie gedoen het nie.
SAners lewe in Konsentrasiekampe vandag – ons noem dit nou ons huis. Want mens se erwe is erger toegemaak teen ongewenste besoekers as d destydse konsentrasie kampe. Al wat skort is uKhonto wag met n onwettige geweer

Chrisp

Puik

Danie

Dit is goed geskryf en maak my hart weer hoopvol.