Jeugdag: ʼn Hernieude verbintenis tot die bou van ʼn beter SA

Prof Linda du Plessis (Foto: Verskaf)

Prof Linda du Plessis (Foto: Verskaf)

Prof. Linda du Plessis, waarnemende kampusrektor van die Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit, skryf op Jeugdag dat ons liewer die bagasie van die verlede moet agterlaat, en saam daarop fokus om te bou aan ʼn nuwe toekoms.

Op 16 Junie, wanneer ons land Jeugdag vier, kyk ons terug op die verloop van 40 jaar sedert die ontstellende tonele wat in 1976 in Soweto afgespeel het. Ná al dié tyd kan ons met sekerheid erken dat ons nie ongedeerd daarvan afgekom het nie. Hoewel die meeste van ons studente en sommige van ons personeel nog nie in daardie stadium gebore was nie, het die opofferings van die jeug in 1976 die Suid-Afrika waarin ons vandag leef, tot groot mate help vorm.

Martin Luther King het gesê: “Darkness cannot drive out darkness; only light can do that. Hate cannot drive out hate; only love can do that.”

Ons sal moet kies of ons die swaar bagasie van die verlede wil saamdra en nuwe haat daarop wil bou, en of ons eerder onsself daarvan wil bevry en vir almal ʼn nuwe toekoms gun – altyd bedag daarop om dít wat ons uit die verlede kan leer, saam met ons te neem op ons lewensreis vorentoe. Op Jeugdag moet ons veral nadink oor hoe ons opstaan vir die goeie en hoe ons veg vir wat reg is: veg vir die ondergang van werkloosheid, teen korrupsie, teen misdaad en vir dienslewering.

Hierdie verantwoordelikheid lê egter in ons eie hande. Ons kan nie net aandring op verandering deur ons regering of enige ander entiteit wat dit, volgens ons, aan ons verskuldig is nie. Alvorens ons elkeen nie proaktief deel word van die oplossing nie, sal daar geen verandering kom nie.

Mag ons met die viering van Jeugdag vanjaar ons hernieude verbintenis tot die bou van ʼn beter Suid-Afrika vir almal kan verklaar. Mag ons elke dag al meer ʼn eenheid met ʼn verbintenis tot sosiale geregtigheid word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kobus ·

Dit is ‘n jammerte dat vandag Jeugdag genoem word. Vandag 16 Junie , Jeugdag, dit word jaarliks deur 16 Junie 1976 onluste se herdenking gekaap, deur al wat koerant redakteur en rubriekskrywer is. Almal het ‘n nare storie uit die geskiedenis om te vertel.

Die jeug van daardie tyd, is vandag almal oor die 50 jaar oud, gee die jeug ‘n ander dag om positief die toekoms op te bou.

hans ·

Prof wat van die vyandigheid teen Afrikaans op NWU kampusse u swyg daarooor. Hoeveel van die lesings op u kampus word nog in Afrikaans aangebied?

Jan Jooste ·

Prof Linda, uitstekend gestel! Ons kan maar beelde afbreek – maar kan niks aan gister verander nie. Ons kan en moet bou om more ‘n beter Suid-Afrika te bewerkstellig. Die dilemma is dat politici graag gister gebruik om vir hul persoonlik ‘n beter toekoms te bou. Voorspoed.

Justa ·

Professor u se ons moet proaktief help om n oplossing te vind. Ek vra hoe? Ons word orals eenkant toe gestoot. Ons menings tel nie en as ons nog iets voorstel word dit as rassisties beskou. In 1994 het almal gehoop op n beter toekoms vir almal. Ongelukkig het daardie hoop verander in n troostelose toekoms behalwe vir n paar wat hulleself verryk het in die hele proses en die land en sy mense aan hulle eie lot oorgelaat het.

Ampie ·

Ek verstaan nie heeltemal wat die skrywer probeer oordra nie. Dit wil blyk of die “boodskap” op die Afrikaners gerig is aangesien dit in Afrikaans geskryf is en op Maroela Media gepubliseer word. Moet Afrikaners die “bagasie” van die verlede afskud deur te aanvaar alle Afrikaans moet uit onderrig verdwyn? Dan weer die liberale en “getransformeerdes” se retoriek dat “ons” moet bou aan ‘n beter toekoms en die opstaan wat “reg is” ens.
Die Proffie kan brug bou tot sy blou in die gesig is, maar die eise is dieselfde: aanvaar dat die blankes geen regte of bestaansreg in SA het nie en dra alle eiendom, besighede, sport, ens. oor aan die massas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.