Jongmense moenie deur ras geskop word nie

Dirk Hermann.

ʼn Herrie het losgebreek oor Michiel Kühn, een van Suid-Afrika se toppresteerders, se aansoek om medies aan die Universiteit van Kaapstad (UK) te studeer.

Hy het 99% vir Wiskunde, 97% vir Fisiese Wetenskap, en ʼn algemene gemiddeld van 96% in die matriekeksamen behaal.

UK skryf toe vir hom dat sy aansoek deeglik oorweeg is en dan kom die universiteit tot die gevolgtrekking dat sy aansoek nie “mededingend” is nie.

Toelatings word gedoen op grond van meriete. Volgens die brief word ʼn rangorde van hoog na laag gebruik.

Hierdie brief en Michiel se uitslae beland toe op sosiale media en mense is woedend daaroor.

In ʼn verklaring wat ʼn paar dae later uitgereik is, sê die UK die brief was ʼn “fout” en die universiteit het inderwaarheid ʼn aanbod aan hom gemaak.

Niemand het op sosiale media gesê: “Sjoe, dit lyk of die brief ʼn foutjie was nie.” Almal het aanvaar dit is waar, want in ons rassemal land is dit moontlik.

Ons land is gewoond aan rasselaagtepunte. Net nou die dag is hulp op grond van ras toegeken aan mense wat hard getref is deur ʼn pandemie – nee, nie op grond van hoe gróót jou nood is nie, maar hóé jy lyk.

As mense wat swaarkry op grond van hul ras uitgeskop word, waarom nie een van ons land se beste presteerders nie?

Terug by die UK – almal weet die woord “meriete” dui nie net op die beste punte nie. Dit is ʼn dekmantel vir ras.

“Meriete” is ook rassemeriete, daardie maatstaf waaraan studente niks kan doen nie. Hulle kan nie hul ras uitpresteer nie. Ons weet ook dat daardie rangorde waarvolgens toelating tot studie gemaak word, ook ʼn rangorde van kleur is.

Michiel se brief was dalk ʼn foutjie (alhoewel iets steeds nie klop nie). ʼn Soortgelyke brief is egter aan talle ander gestuur. Ja, vir diegene wat dit werklik op grond van hul punte nie gemaak het nie, maar ook vir hulle wat nie die rassemeriete gehaal het nie, hulle wat weens ʼn rassestrafpunt uitgeskop is.

Michiel se geval was in die nuus, want hy is die beste in die land. Die name van die 90% of 85% van jongmense wat ook ʼn rasseskop gekry het, ken ons nie eens nie. Wat nog te sê van ander gewone goeie presteerders wat hard werk? Hierdie rasse-absurditeit word al amper normaal.

Daar is talle van die gevalle – nie net by die UK nie, maar ook by Tukkies, Maties, Kovsies en by ander instellings. Dit geld nie net vir mediese studente nie, maar ook vir studie in talle ander beroepsrigtings. Nie net aansoeke vir plek word geraak nie, maar ook aansoeke vir beurse. Nie net beurse nie, maar ook internskappe. Nie net internskappe nie, maar ook aanstellings. Nie net aanstellings nie, maar ook bevorderings.

Almal het name, nie die beste in die land nie, maar uitstekende presteerders, met drome en met aspirasies. Hulle kom nie net uit die rykste huise nie, maar ook uit stabiele huise, uit moeilike omstandighede, sommiges sonder geld en ander wie se ouers net ʼn gedeelte van hul salarisse ontvang of hul werk verloor het. Dit is gewone jongmense wat ʼn rasseskop kry.

Daardie name word nie genoem nie. Daar is nie ʼn herrie oor hulle nie, maar die rasse-onreg teenoor hulle is dieselfde.

Kom ons vergeet hulle nie. Noem hul name, vertel hul stories in die kommentaar op hierdie artikel, op sosiale media, om braaivleisvure en in algemene gesprekke.

Moenie dat rasseskoppe wat ons jongmense moet verduur, normaal raak nie. Dit ís nie normaal of reg nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vrijburger ·

Goeie stuk.
Roep UK se bluf – vra hulle om ‘n volledige lys van studente wat keuring gekry het bekend te maak, wat hul ras en punte aandui.

OW ·

Uk net soos Maties wat kanse vat en as die aangeleenthede te warm raak in die media, en soos ‘n warm patat nie in die lug gehou kan word nie,is dit dan foute wat reggestel moet word.Daar word ook nie uit foute geleer nie.

annie ·

Kùhn moet die brief raam en naas sy matriekuitslae ophang. Die UK is glo die beste universiteit in SA wat net-net darem die wèreldranglys gehaal het. Was dìt nie dalk ‘n glipsie nie?

Elizbe ·

UK is verseker nie meer die beste universiteit in SA nie. Wits se opleiding is wêreldgehalte. En vreemd genoeg, dis die enigste universiteit waar my dogter NIE diskriminasie ervaar nie.

Boekwurm ·

Nee jong, iewers het die kommunikasie vas gehak. . Dié student het die universiteit laat weet, hy gaan iewers anders studeer, kort daarna toe stuur die universiteit n gestandaardiseerde brief uit toe hulle nie weer van dié student hoor nie. Lyk nou vir my iemand wil die universiteit se naam deur die modder sleep.

KhoiKhoi ·

Dink nie dit was ‘n administratiewe “glipsie” noe.
Mag dalk nie altyd met Dirk Hermann saamstem noe maar it is 101% reg.
Te veel Bruin en Wit kinders word gemartel op die brandstapel van politieke waansin.

Dit was ook nie hierdie generasie se skuld nie.

Vir die armer studente is NFSAS natuurlik die grootste sondebok

Eden ·

Hoe seker is jy bruin kinders wil in Afrikaans studeer? Na my mening stel die oorgrote meerderheid nie belang nie en wil graag in Engels studeer. Dit is ook ‘n situasie wat onder Afrikaanse blankes toenemend posvat.

KhoiKhoi ·

Jammer, maar die artikel gaan nie oor hoeveel Bruinkinders in Afrikaans wil studeer nie!
Jy is dalk ‘n dag vooruit!
Lees gerus Leopld Scholtz se artikel vandag en ook my antwoord aan Petrus Albertus.
Daar praat ek van my eie ondervinding en beslis ook van andere wat ek persoonlik ken.

Hier gaan dit bloot oor, myns insiens, onregverdigheid teenoor ‘n jong hardwerkende, skrander student!
Ek praat nie van sy ras of agtergrond nie!

Heksie ·

Ons kry gereeld inligting stukke van die universiteit in verband met beurse. Heel bo aan elke aansoek moet jou ras aangedui word . Almal weet wat dit beteken……

Alet ·

My kind is in Graad 11. Elke jaar in die top tien. Sy groot droom is om neurochirurg te word. Hoekom? Want mamma ek wil kindertjies help wie se ouers nie geld het vir duur operasies nie. Dis sy antwoord as ek hom vra. Van kleintyd af maak sy oë natkolle teen die tv as daar een of ander mediese program op is. Maar ek weet en hy weet sy kanse is baie laag om toelating te kry omdat hy wit is. Geen ander rede. Hy vertel my met trane in sy oë mamma ek weet dan niks van apartheid af nie hoekom word ons jongmense vandag so sleg behandel. En hy raak verbitterd. Erg verbitterd.

Elizbe ·

My dogter, wat ook matriek 2020 op die WKOD merietelys is, het ook diskriminasie by Universiteit Kaapstad ervaar – sy was veronderstel om, volgens haar prestasies, te kwalifiseer vir die maksimum meriete afslag, maar is slegs die minimum meriete afslag aangebied. Wits het egter baie moeite met haar gedoen, so dis waar sy opgeëindig het. Prakties was dit nie ‘n maklike besluit nie, want ons woon in die Kaap, maar minstens weet ons sy kry uitstekende opleiding in haar rigting sonder dat sy (tot dusver) diskriminasie ervaar. En finansies was ‘n groot oorweging, want t.s.v. prestasies, was geen beurse beskikbaar nie. “You did not meet the requirements…” (11 onderskeidings, 95,8 % gemiddeld, hoofdogter) was die boodskap wat sy keer op keer gekry het vanaf die privaatsektor ook, wat nogal kommerwekkend is.

Tino ·

Asb maak ‘n saak aanhangig by die MRK vir wat dit werd is. Dalk die internationale MRK.

Ondersoek asb alle keurings want selfs met die feit dat ek nie bevorder word nie agv ras, gaan ek my kinders ‘n tersiere opvoeding gee en dan moet hulle ‘n regverdig kans. Hulle is immers 25 jaar na apartheid se einde gebore

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.