#JongStemme 2020 – ʼn Stem teen die storm

Deur Paul Maritz

Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. (Argieffoto)

Wat ʼn jaar was 2020 nie!

Die pandemie was dalk die begin, die katalisator, die Oros wat die water oranje gemaak het, maar 2020 was die proses waarin ons hierdie pandemie moes indrink, moes verwerk, en ons bes moes probeer om in een stuk aan die ander kant uit te kom. Hoewel jong mense in meeste gevalle ligter van die Covid-19-virus afgekom het as ouer persone, is jong mense op hul eie manier baie hard getref deur die virus, maar veral deur die inperking wat dit veroorsaak het.

Seuns en dogters wat dalk ʼn lewe as professionele sportlui oorweeg het se laaste kans om keurders te beïndruk is in ʼn oogwink daarmee heen. Eerstejaarstudente wat hare wou losmaak en net vir ʼn slag jonk wees, is skaars uit die ouerhuis toe word hulle weer teruggeboender, en vir hulle wat vanjaar klaar studeer, lê daar ʼn werksoekberg voor wat daagliks groter en steiler word.

Dit was teen die agtergrond van hierdie uitdagings dat ons by Solidariteit Jeug en Maroela Media in April besluit het dat ons jong mense gaan help op die beste manier wat ons kan: deur vir hulle ʼn stem te gee. Waar ons gewoonlik twee #JongStemme-stukke per maand geplaas het, het ons besluit om ten minste twee per week te plaas, soms selfs drie of vier. Uiteindelik staan ons nou op 85 stukke vir die jaar, met ʼn amper ondenkbare 610 000 unieke besoeke aan #JongStemme-meningstukke in 2020. Die stukke wat ons ontvang het, was hartroerend, opreg, teleurgesteld, opgewonde en sommer alles tussenin, soos wat jong mense van regoor die planeet hul frustrasie in hul moedertaal uitgedruk het.

Ons het gelees van matrieks wat nie weet hoe nou nie, ons het verneem van au pairs in Nederland, stropers in Amerika, en sommer net van vasgevangde studente in Pretoria – elkeen met ʼn unieke storie, elkeen met iets om te vertel.

Soms gebeur dit, soos wat dit in 2020 gebeur het, dat ons hele wêreld ewe skielik op sy kop gedraai word en ons kan absoluut niks daaromtrent doen nie. In sulke tye is dit nodig om die gedagtes wat in ons koppe ronddwaal op papier vas te vang, om dit uit ons uit te kry, en soms, as ons wil, om dit die wêreld in te stuur.

Vir die jong mense wat in 2020 braaf genoeg was om ons in julle harte en koppe in te laat wil ons baie dankie sê. Dit was pure leesgenot om te sien hoe julle ons pragtige taal warm maak en buig en vorm om dit wat op julle harte gedruk het vir ons aan te bied. Julle het hoop geskep, afleiding gebied, en ʼn stem gegee waar daar andersins net stilte sou wees.

Vir die jong mense wat nog nie die moed bymekaar kon skraap om ʼn meningstuk soos ʼn posduif die wêreld in te stuur nie, ons hoop dat 2021 jou jaar is. Deel met ons hoe jy voel, deel met ons jou ambisies, drome, giere en geite, ons kan nie wag om daarvan te lees, en dit met die hele wêreld te deel nie!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.