#JongStemme: 2021 – harte wat breek

Deur Marise Schoonraad

Marise Schoonraad.

Hoe klink dit wanneer ons harte breek? Ek dink dit is ʼn klank so akuut en dinamies, groter as die heelal self. Die klankgolwe waarvan ons so kranig in wetenskap leer, kan dit nie verklank nie – dit sal deur die hemelruim eggo, planete uit hul bane skuif en waarskynlik die engelekore daarbo onderbreek.

Die oor van die mens kan dit egter nie hoor nie, daarom die totale stilte van die hart se pyn. Dit eggo net in jou wese, skuif jou siel uit sy baan en bring jou menswees tot stilstand. Tóg hou die aarde aan draai, die nuus word (soos gewoonlik) om 19:00 gelees en die verkeerslig slaan oor na groen.

2021. Dit voel vir my of hierdie jaar ons harte herhaaldelik inmekaar laat tuimel. Sodra jy dink jy het die legkaart gebou, kruip die virus weer op ’n ander plek uit en krap soos ’n stout kleuter alles deurmekaar.

Ek het hierdie jaar my laaste eerste dag van skool, alleen en in my kamer, voor ‘n rekenaar spandeer. Daar was nie ’n effens beknopte, maar bemoedigende saalopening nie. Die skoollied is nie gesing nie, nie die vlae is nie gehys nie en daar was geen ʼn gebed om ons deur die jaar te dra nie. Net so nou en dan my juffrou wat onderbreek word, want die sein op die plaas is swak.

Die atletiekbaan was leeg. Ons het nie kliphard saamgesing en geskree nie, nie weggelê aan pannekoek en kerrie-en-rys nie en nie die skool se kreet soos ʼn kanonskoot afgevuur nie. Die redenaarslokaal was leeg. Niemand kon hul standpunt stel nie. Ek moes in kamera praat en maak of dit alles normaal is, of ons almal redenaars is.

My hart breek.

By die huis kan ek nie by my ouma (wat tien treë van ons af bly) net inval en weglê aan lekkernye in haar kombuiskas nie. Ek kan nie vir ure in my oupa se boeke krap of daar gaan wegkruip wanneer my ma die duiwel in is nie. Netnou maak ek hulle siek, gee ek hulle dalk die kiem. Ons praat maar deur die venster, oor ‘n afstand. So nou en dan stuur sy ietsie saam, maar beskuit moet nie alleen geëet word nie.

My hart breek.

Dan hoor jy dat die Onsigbare die rondte doen. Ek is uiters dankbaar hy het nog nie by my huis kom aansit nie, maar wel oral om ons. Bure, vriende en mense wat my ma groet in Pick n Pay. In ʼn tyd waar ons mekaar so nodig het, vreet hy van ons mense weg. Hy het selfs onse Fiela vannie Lange Kloof kom vat. Asof die 2021 jaar ’n punt wil bewys: as ek Fiela kan vat, kan ek enigeen vat. Nou is die Lange Kloof leeg en die hartseer eggo tot in die Knysna-bos en troon bo die trompetter van die Groot Voete uit.

Nes in ons harte.

Dié jaar het reeds by ons almal iets gesteel. By my het hy ʼn normale matriekjaar gesteel. ʼn Jaar wat gevul moes wees met pret en herinneringe wat saam met my vir die res van my lewe sou stap, maar hy het my grootgemaak voor my tyd. Hy het my belaai met ervarings en oomblikke wat altyd ʼn merk op my menswees sal los. Ek weet nie wat hy by jou gesteel het nie, maar een ding is seker – hy het iets geneem. Iets waaroor jy opgewonde was, waaroor jy gedroom het en jou ook gelos met ʼn letsel.

Dus, 2021… Hoe praat ons met jou? Hoe benader ons jou? Hoe verstaan ons jou? Jy plaas ons die hele tyd in skaakmat.

Ek skryf hierdie stuk as poging dat die heelal my hart en ook dié van julle wie s’n saam met myne breek, moet hoor. Ek salueer julle, want julle is soldate. Ek klop julle op die skouer, want julle is “survivors”. Ek omhels julle, want ons is saam.

Die enigste sekerheid wat ons in hierdie jaar het, is dat ons mekaar het. Ons voel mekaar se seer, sien mekaar se vrese en hoor mekaar se hartseer. Ons saam-wees dra ons. Dit wen hierdie jaar, want nog nooit was ʼn samelewing so vasgeketting aan hul omstandighede nie. Ons kan nie anders as om mekaar by te staan nie. En dít maak ons almal so ʼn bietjie meer dieselfde.

Saam kan ons dalk so tussendeur al die stukkies van die legkaart probeer bou. En vir ons iets moois van 2021 oorhou.

  • Marise Schoonraad is ’n matriekleerling aan die Hoërskool Standerton.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Filistyn

Pragtig Marise – jy het talent. Ek wonder ook wanneer alles weer kan wees soos dit was. Ek mis so baie mense in my lewe, maar uit respek en omgee verkies ek om hulle nie bloot te stel nie.

Anton

Wow. Dit is eerlikwaar merkwaardig geskryf. Pragtige woorde wat verseker waar is. 10/10

FM

Sulke regdenkende jongmense gee nuwe hoop vir ons Afrikaanse taal en land se toekoms. Dis puik!!!!!!