#JongStemme: Afrikaner het geen reg op oorlewing, net ʼn verantwoordelikheid

Deur Joost Strydom

Joost Strydom

Ek wil julle graag vertel van ʼn geborduurde, geraamde boodskap wat in ʼn baie interessante ou oom se huis gehang het. ʼn Treffende boodskap van lap en gare, roerend in sy eenvoud, nie sy spoggerige blinkheid nie.

Voordat ek dit kan doen, moet ek julle eers ʼn bietjie konteks gee oor die ou oom, vir wie ek nie net hope respek gehad nie, maar wat indrukwekkend in elke opsig van sy lewe was.

Sien, oom WC Botha, het nie ʼn maklike stel kaarte in die lewe gekry nie – inteendeel: hy is in ’n algemeen moeilike tyd gebore (twee wêreldoorloë, depressie, pessiektes, armoede, ensovoorts was die verstek eerder as die uitsondering). Oom WC was egter die verpersoonliking van “doodkry is min”, ʼn film uit ʼn vorige tyd wat sommige dalk sal onthou.

Ten spyte van baie uitdagings, die grootste daarvan dalk die feit dat polio hom ernstig getref het, kon hy nie gebreek word nie. As oom WC tien keer geval het, het hy elf keer opgestaan. Fier, regop en nooit moedeloos nie.

Glo my, oom WC was nie maar net iemand wat ’n uitdagende tyd in menseheugenis oorleef het, en slegte persoonlike omstandighede oorkom het nie. Hy het floreer. Hy het as Krygkor-ingenieur die Ratel-projek se ontwerp gelei, ’n prominente rol gespeel by die ontwerp van die legendariese G6-kanon en vele ander projekte wat Suid-Afrika ’n wêreldleier gemaak het in die ontwikkeling van militêre tegnologie.

Pyn, uitdagings en ongemak, soms ten spyt, het hy ieder en elk se “Hoe gaan dit?” beantwoord: “Met ’n lied in die hart!”

Die lewe se onregverdighede wat hom toegeslinger is, het hy breëbors en met beide voete stewig op die grond hanteer, en altyd na die beste gestreef. Terloops, die benaming “Ratel” is sorgvuldig gekies sodat dit nie te maklik na Engels vertaal kan word nie.

Nou vertel ek julle ’n storie van ’n oom terwyl ek eintlik oor regte wil skryf.

“Regte” en “vryhede” word gereeld deur politici rondgegooi, dat ons al neus optrek soos vir iets wat vuil en goedkoop is. “The right to suitable housing”, “The right to health care”, natuurlik die immer gewilde “The right to education” en “The right to free association”.

Ek noem hierdie maar so op ’n ligter noot, want my mond proe bitter as ek moet dink aan elke plaasboer wie se “Reg tot lewe” (hoofstuk 2, artikel 11) hom onseremonieel ontneem is, terwyl sy reg “om op geen wyse gemartel te word” (hoofstuk 2, artikel 12, 1 (d) ) net ’n leë stuk papier geword het waaroor ’n groepie politici met ernstige gesigte en ernstiger motiewe in oorgangstye staan en hand skud het, en daarmee wêreldwyd koerantvoorblaaie verower het; die helde van gelykheid! Kampioene van regverdigheid! O, die selfaangestelde priesters in die geloof van regte!

Vryhede het ’n gonswoord geword, want ons is mos verlos van alle onderdrukkers. Juis deur hierdie “checks and balances”-verlossers. Regte het ’n kontantkoei geword wat ambisieuse politici elke paar jaar aan Suid-Afrika se mense verkoop, paar miljoen stemme ter prys.

Ek glo egter, vryheid wat nie van God af kom nie, is vryheid om te sondig. Regte sonder verantwoordelikhede is regte wat ʼn mens kan gebruik as goedkeuringsdokument vir ’n volgende staking.

Net so min as wat die reg tot lewe vir ’n bejaarde boer beteken as ’n moordbende van elf of meer hom aanval, net so min as wat die reg tot ordentlike behuising vir ’n hawelose of plakkerkampbewoner beteken, en net so min as wat die reg tot ordentlike onderwys vir die woedende Liberation Before Education-bende met hul petrolbomme en swartgebrande skoolmurasies beteken, net so min beteken die reg op oorlewing, vrye assosiasie en vryheid vir Afrikaners wat dit nie opneem nie.

Ons heil lê in geen verklaring, geen dokument of selfs geen geskiedkundige ooreenkomste nie, want respek daarvoor het saam met die “gronddiefnarratief”, soos mis voor die son verdwyn.

Dit is nie verkeerd om op ons regte te hamer nie – morele hoë grond, internasionale bewusmaking en dies meer is beslis van waarde. Net soos wat elkeen van ons seker (transformasie vir ’n oomblik opsy geskuif) die reg het om ’n Springbokkaptein te word of groot akademiese prestasies te behaal, is die ware toets in die verantwoordelikhede wat ons opneem.

Dit bring my terug na die geborduurde kunswerk in oom WC se huis, eenvoudig dog treffend.

“GAAN STEEDS WAAR PLICHT U ROEP”

My vaste oortuiging is dat die Afrikaner sy regte kan opneem, maar net in ’n gebied waar hy homself kan handhaaf. Ek glo werklik dat ons nog ’n baie goeie kans in hierdie land het, as ons onsself kan handhaaf in ’n gebied waar ons verantwoordelikhede kan en wil opneem, verantwoordelikhede om ons eie instellings (kerke, skole, besigheidsforums, sosiale hulp, universiteite, ensovoorts) uit te bou en die verantwoordelikheid om ons eie werk te doen, want dit raak toenemend ononderhandelbaar.

Oom WC is nie meer met ons nie, hy het gegaan waar die groter plig hom geroep het. Die Afrikaneroom se kanniedoodhouding leef nou in die volgende geslag jong Afrikaners.

En, ons wíl wees waar plig ons roep.

  • Joost Strydom is die uitvoerende hoof van die Orania Beweging.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Du Preez ·

Baie mooi Joost! Jy kan slegs ‘n beskawing bou en in stand hou as jy bereid is om meer in te sit as wat jy ontvang.

Johannes ·

Die opskrif is uiters misleidend. Afrikaners het nie net die reg op oorlewing in die land wat in so ‘n groot mate onder hulle leiding ontwikkel is nie. Hulle behoort ook die reg te he om sonder rassediskriminasie hulle talente ten beste te benut.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ek stem saam. Die grootste onreg wat enige iemand kan doen, is om niks te doen en nie omgee vir gevolge nie.

Bernhardt ·

Ek vind jou poging tot die aanwakkering van skuldgevoelens, in terme van die opneem van ‘verantwoordelikheid’, in die jong Afrikaner wat jy ook nog versigtig toedraai in jou ver-regse, konserwatiewe narratief, uiters onsmaaklik. Nie almal van ons voel soos jy nie, en nog minder praat jy namens ons. Met die vlak van sosiale wetenskap wat beskikbaar is vandag, navorsing en geskiedkundige gevallestudies, gaan dit my verstand te bowe dat jy vandag, in 2020, enigsins kan dink dat etniese skeiding n oplossing is. Dit gaan nie, en ek herhaal, dit gaan nie ons talle probleme wat ons mee sit vandag as moderne, jong Afrikaner oplos nie.

Christo ·

Ek stem saam. Die artikel is uiters onsmaaklik en sou van pas gewees het in 1948.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.