#JongStemme: Afrikaners kán saamstaan

Deur Louis van Wyk

Louis van Wyk.

Verdeeldheid onder Afrikaners is wyd bekend. Vra ook die Afrikaner wat sy grootste struikelblok is en oor die spektrum sal die antwoord waarskynlik wees: “Ons verdeeldheid.” Verskeie sosialemediaplatforms en media getuig hiervan – eindelose debatte tussen ʼn klein groepie mense wat sukkel om saam te stem. ʼn Tendens wat al spiere gewys het tydens die Groot Trek, en weer ernstig arms begin bult het nadat afstand begin doen is van die absolute apartheidsbeginsels.

Die Afrikaner het hierdie “siekte” al so lank onder lede dat ons nooit ons doelwitte wat van kardinale belang is vir ons voortbestaan sal bereik tensy ʼn definitiewe kopskuif plaasvind nie.

Dit bring ons by die vraag: Kán Afrikaners saamstaan?

Natuurlik kan hulle. Na die Anglo-Boereoorlog bevind die Afrikaner hom in ʼn ellendige situasie. Hy is arm, verpletterd, gestroop van basiese onderwys, uitgesluit van die hoofstroomekonomie, en verder ook sonder ʼn erkende taal wat literatuur en akademiese opvoeding betref. Tog slaag dié minderheidsgroep daarin om uit ʼn bedenklike situasie te herrys. Hoe? Deur saam te staan, selfs al was dit dalk net gedeeltelik. In hierdie tyd kom ʼn paar belangrike instansies tot stand: Die FAK, ATKV, Eskom en Yskor.

Goeie samewerking tussen kultuurorganisasies, skrywers en die regering het ook gesorg dat die Afrikaanse taal gedurende 1925 sy regmatige plek in Suid-Afrika kon inneem.

Gedurende die nasionalistiese tydperk het die Helpmekaarbeweging groot suksesse bereik wat vandag voortgesit word deur organisasies soos Solidariteit. Dink maar aan die Sol-Tech-kampus, Akademia en ʼn werkherstelprogram met die gepaste leuse “Ons sal self”. Hoekom dan die fokus op verdeeldheid? Interpreteer ons die idee van volkseenheid verkeerd? Hoop ons vir ʼn massasaamtrek van Afrikaners onder een leier wat ons na die beloofde volkstaat waarna ons so hunker en wat waarskynlik nooit sal realiseer nie sal lei?

Die verdeeldheid moet aangespreek en hanteer word, maar hoe? ʼn Indringende kopskuif is beslis nodig. Ek stel die volgende voor:

  • Sien die positiewe raak – die baie suksesse wat die Afrikaner oor eeue heen behaal het.
  • Vermy ekstremisme. Die geskiedenis het bewys dit verdien geen plek nie, hetsy dit konserwatief, liberaal links of regs is.
  • Probeer geskille met nugtere denke oplos. Hou emosie eenkant en fokus op die saak.
  • Vermy die kerk as politieke speelveld. Fokus op die primêre doel van die kerk, naamlik om die Here te dien. Die kerk is en moet ʼn soliede hoeksteen vir die Afrikaner wees, maar moenie misbruik word om politieke motiewe te bevorder nie.
  • Sien die groter prentjie en vertrou organisasies soos Solidariteit wat met mening vir die Afrikaner baklei. (Ek verwys hier na mense wat die organisasie wou verlaat nadat hul aanbeveel het dat mense hulself teen Covid-19 moet inent.) Dit is onnodige negatiewe optrede teen ʼn volkseie organisasie wat in beste belang op ʼn professionele wyse vir sy mense werk. Werk saam. Nie teen nie.

Ten slotte. Ja ek is oortuig dat die verdeeldheid onder Afrikaners wat deur eeue en om verskeie redes ontstaan het tot só ʼn mate uitgewis kan word dat daar ten minste ʼn oorweldigende mate van samewerking en samehorigheid verkry kan word om ʼn basiese gemeenskaplike doel te dien, naamlik die oorlewing en suksesvolle voortbestaan van die Afrikaner in Suid-Afrika. Ons kán en ons móét.

  • Louis van Wyk is ʼn derdejaarstudent in regte aan die Universiteit van die Vrystaat.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hendrik ·

Louis ek sien daar is twee groepe Afrikaners. Diegene wat die selfdoen selfstandige selfbestuur gebiede dryf en hardwerk daaraan. Daar is twee sulke areas nl, Kleinfontein 10km oos van Pretoria en Orania 30 km van Hopetown Noord Kaap. Hierdie groepering neem aktief deel aan Afrikaner kutuur en ondersteun ook die kultuur organisasies. Dan het ons die Afrikaners wat in dorpe stede vrywillig bly of geen ander keuse het om daar die bly nie. Nou vra ek gereeld so wie is die Afrikaners wat nie wil saamstaan nie want in ons gemeenskap werk ons kliphard aan ons selfbestuur eindoel. Ek nooi jou uit om ons in Kleinfontein te kom besoek of Orania en jouself te vergewis wat ons doen en dan vra ons weer die vraag van verdeeldheid. Word die verskoning van verdeeldheid net gebruik om nie saam ons, ander wat saamwerk, te werk nie. Ons staan beslis nie saam nie maar ons werk beslis saam.

ABDP ·

Ek kan nie na een van die twee plekke toe trek nie oor baie redes. Maar hopelik is dit in God se plan vir my en my gesin in die toekoms. God het ons nou eers op ‘n ander plek nodig. Maar dit is verseker iets waarna heelwat Afrikaners streef en hoop op. Moet a.s.b sê ons staan nie saam julle nie, dan skep jy die verdeeldheid. Ons werk weer op ons manier ook baie hard aan die Afrikaner se toekoms. Daar sal nog mense aansluit, maar sal altyd wees wat nooit sal kan aansluit nie. Daarmee moet ook vrede gemaak word. Daar is heelwat Afikaners bakens buite Orania en Kleinfontein se grense, wat van belang is vir die Afrikaner. Bv Voortrekker Monument, al is hy ‘n klipgooi van Klipfontein, is daar heelwat ander wat in die slag gaan bly. Wat gaan gebeur as hierdie bakens alleen hulle geografiese liggings moet trotseer en ons agglomereer op twee ander geografiese liggings. Die Afrikaner wat nog verspreid oor SA woon, is nie te sê “teen” ander Afrikaners nie. Kom almal werk net saam!!

Hendrik ·

Ek dink die oplossing is dat daar oral sulke gebiede is en wat my frustreer is dat leiers wat selfbestuur area propigeer nie self die gebiede ondersteun nie. Ek ken een Afrikaner leier van ‘n promenente organisasie wat getrek het uit Pretoria na Kleinfontein. Die res van die leiers sit lekker in Pretoria.

Harley Davidson ·

My opinie is Afrikaners kan saamstaan maar dit moet eers vreeslik sleg gaan met hulle maar gelukkig / ongelukkig is ons op pad soontoe .

Fluisterwind ·

Daar is NIKS wat so kan vereenig soos ware geloof nie. Die vier beelde op die hoeke van die Voortrekker monument is beelde van ‘n vorige generasie wat ALLEEN deur geloof alles oorkom het wat die sondige wêreld na hulle kon slinger. Hulle het onwrikbaar op God en sy Woord vertrou. Dit was die resultaat van ware kerk wees. Die kerk het ‘n tweeledige roeping wat lei tot aksie nl. die verkondiging van die Woord van God (roep die wêreldling tot bekeering , verkondig vergifnis van sonde deur Christus Jesus aan te neem as persoonlike Verlosser en Saligmaker),tydig en ontydig.Hieruit vloei die tweede aksie nl. ondelinge gemeenskap, (die gemeenskap van die heiliges) wat lei tot die diens van barmhartigheid. Alleen dan is daar ‘n gemeenskaplike faktor wat samehorigheid teweeg bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.