#JongStemme: Al weer agter in die ry…

Deur Dalena d’Assonville-Maritz

Dalena d’Assonville-Maritz.

Begin 2020. Soos ‘n eerstejaar op universiteit, was ek gereed vir die werk wat op my wag. Gereed om stadig maar seker die grootmenslewe aan te pak. Ná jare van betrokke wees by die georganiseerde studentelewe, het ek besef dit is tyd vir ‘n nuwe avontuur… ‘n avontuur waar ek die politieke speelveld en die harde realiteit daarvan vir ‘n wyle kan agterlaat.

So het ek gedink. As jong prokureursklerk het ek myself egter ingelaat vir ‘n verrassing – in ‘n mate selfs vir ‘n ontnugtering.

Daarmee bedoel ek geensins die werkspolitiek waarvan almal so gereeld praat nie. Nee, dit is die politiek omvou deur pragtige ou mure, weggesteek agter netjiese leertasse oorskadu deur blink gepolitoerde skoene en uiters gesofistikeerde regsterminologie. Dit is die politiek wat soos ‘n stroom stadig, maar steeds uiters beslis, vloei in ons staatsinstansies – instansies wat kragtens die Grondwet deur die mense vir die mense ingestel is. So word dit altans aan ons verkoop. Dit is in werklikheid ‘n politieke speelveld waar ek op ‘n daaglikse vlak ‘n definisie probeer uitdink, omskryf en neerpen vir diens. Elke keer tevergeefs. Nie eers die lang rye waarin ek staan om te wag vir diens wat blykbaar my grondwetlike reg is, is lank genoeg om tot ‘n sinvolle slotsom te kom nie. Ek vind myself herhaaldelik by punt nul van die bose kringloop. Die kringloop van die ideale beeld van diens wat so ver verwyderd is van my en jou realiteit. Ek praat nie eens van goeie of uitstekende diens nie. Slegs van diens as sodanig. Punt.

Om net daaraan te dink, hou my permanent in die skuld. So ewe asof ek sukkel om my maandelikse rekeninge te betaal. Want soos wat ek met die ry vorder, probeer ek positief raak en vir myself sê ek is amper daar. Ek sal net vriendelik glimlag en die diens wat my toekom, sal gelewer word. En tog kry ek myself skielik en weer eens in ‘n situasie waar ek verleë optree – ja, byna bakhand staan en smeek vir diens om gelewer te word. Wat het geword van my plan om selfversekerd en vriendelik die persoon agter die toonbank te nader? Of indien dit nie help nie, op ‘n hoflike, maar besliste wyse diens te verlang? Die realiteit het ingeskop. Die realiteit dat die enigste manier hoe ek vandag my werk gedoen gaan kry, is om te pleit vir dienslewering wat ’n gegewe moes gewees het!

Die interessante gedeelte van hierdie dilemma is dat dit nie slegs aan identiteitspolitiek gekoppel kan word soos wat mense so graag wil glo nie. Dit lê dieper as dit. Dit raak maklik deel van ons. Van alle volke en kulture in ons land. Ek blameer ’n tekort aan trots op jou eie werk. Werktrots wat dieper lê as die idee om die werk tot die beste van jou eie vermoë te verrig. Dit is veel eerder te vind in die idee wat eeue gelede so mooi deur Martin Luther beskryf is as die idee dat jy nie moet werk vir jouself nie – maar met die ingesteldheid dat jy dit vir die Here doen. Al het die sekularisasie dekades gelede lande in Europa oorrompel, is dit juis hierdie gedagte van die uitsonderlike werksetiek en dienslewering wat steeds vandag daartoe bydra dat ‘n land soos, byvoorbeeld, Duitsland so goed funksioneer.

Om daar in ‘n ry te staan, voel byna soos ‘n ry in ‘n koffiewinkel waar daar die heerlikste geure op jou wag… want jy voel verlig en weet jy gaan nie hartstogtelik hoef te pleit nie. Jy sal jou koffie spoedig, flink en heerlik ontvang.

En tog leer dit alles vir my waardevolle lesse. Lesse wat vir ons as Suid-Afrikaners te midde van vele frustrasies ‘n voorsprong gee teenoor baie mense wêreldwyd. Om geduld te probeer toepas, raak ons tweede natuur. Ons neem dinge meer gelate en probeer kreatiewe oplossings vind. Die toppunt daarvan is dat ons vinnige en goeie diens so baie waardeer, dat ons byna nie weet hoe ons dit verdien het nie. En soos hulle se …hou die glas halfvol.

Ons almal staan nou en dan in ‘n ry. Hy mag dalk lank wees, maar maak ten minste net seker jy staan in die regte een, dan het jy die stryd halfpad gewen.

  • Dalena d’Assonville-Maritz is ’n prokureursklerk, wat in 2020 vir die eerste keer die werksmag betree het. Sy woon in Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Joggie

Dankie Dalena, hoe verlang ek terug na Duitsland waar alles gewerk het, selfs die staatsdiens!

OW

Baie goeie skrywe en ek stem met die meeste van jou inligting saam.Duitsland is natuurlik een van die G8 lande en besit ‘n eenvormige bevolking van hoofsaaklik Duitsers wat aanleiding gee tot eerste wêreld standaarde.Suid-Afrika kan vandag nie eers naastenby met Duitsland vergelyk word nie.Ek het so twee maande gelede my bestuurders lisensie hernu.Alhoewel ek 3 ure in die ry gestaan het met die hernuwing en afhaal was ek nogal verras met die diens wat heel glad verloop het, ten spyte van die covid 19 maatreels.Ek self was vir meer as 3 dekades ‘n burokraat en wat my nogal opgeval… Lees meer »