#JongStemme: Alle BA-grappies op ʼn stokkie

Deur Lezahne Nel

Lezahne Nel.

Verbeel jou, (aangesien dit tans verbode is), dat jy en 150 ander mense by ʼn bring en braai is. Watertand pap-en-sous word voorsien en dit is heel gesellig. Teen 20:00 het drie mense jou al die ongemaklike vraag gevra: “Wat doen jy vir ʼn lewe?”. Jou antwoord is natuurlik: “Ek studeer BA …”.

Die rede vir die onvoltooide sin is dat werklik ʼn minderheid van mense omgee wat op die “BA” volg.   Gevolglik dink hierdie persoon, kom ons noem haar Susan, oortyd aan ʼn onvanpaste grappie wat sal dien as haar reaksie.

Susan: “Weet jy wat die verskil tussen ʼn BA-graad en ʼn pizza is?”

Jy: “Nee.”

Susan: “ʼn Pizza kan ʼn gesin van vier voer, maar ʼn BA-graad nie.”

Jou tong raak dik in jou mond soos wat jy grynslag, ‘n verskoning mompel en elders geselskap gaan soek.

Alhoewel jou beroep van talle faktore afhang wat, onder meer, finansies, vermoë, passie, geestestoestand, geleenthede en huishoudelike situasies insluit, kyk mense neer op wat jy vir ʼn lewe doen, sonder om ʼn oomblik in jou skoene te wees. Ongelukkig is dié stelling waar vir talle beroepe.

ʼn Briljante vriendin van my wou graag onderwys gaan studeer het nadat sy gematrikuleer het. Oë het gerek omdat sy mos briljant is, waarom wil sy dan onderwys studeer? Hierdie mentaliteit is deel van die oorsaak vir die tekort aan onderwysers en baie ander beroepe in ons land, asook vir die minderwaardigheid waarmee mense in verskillende beroepe mekaar hanteer. Is briljante, passievolle individue nie dan presies wie ons as onderwysers wil hê nie?

Daar bestaan ʼn hiërargie van vakke wat as belangrik geag word op skool en gereeld meer aandag geniet as ander om gevolglik “belangrike” werk eendag te kan doen. Heel bo is wiskunde en wetenskap, gevolg deur geesteswetenskappe en heel onder is die kunste. In die tyd wat hierdie hiërargie ontstaan het, het ons beroepswêreld totaal anders gelyk. Waarom ontwikkel die hiërargie van vakke op skool nie saam met die beroepswêreld nie?

Volgens my is daar ʼn plek vir elke beroep op aarde, dus, waarom gee individue hulself oor aan hierdie prominente hiërargie? Wanneer die mens ophou druk ervaar om spesifieke beroepe na te jaag, sal daar heel waarskynlik minder van ʼn ooraanbod en ʼn tekort wees aan persone in verskeie beroepe in ons land. Meer mense sal, byvoorbeeld, die onderwys as beroep kies as mense ophou neerkyk daarop en die erns van dié professie besef. Verder sal leerders die voorbeeld van die samelewing volg, deur onderwysers te respekteer, wat gevolglik ʼn positiewe impak op die skoolstelsel sal hê.

Jou beroep en passie maak ʼn groot deel van jou identiteit uit, dit is dus belangrik om nie aan ander gehoor te gee wat nie in jou skoene was of is nie. Aan elke Susan: as iets jou nie heeltemal raak nie, bly maar liewer heeltemal stil. Ons as mens is almal gelyk, geen persoon het die reg om te oordeel of om neer te kyk op ander nie. Dink jou in oor die moontlikhede daarvan as ons ʼn opbouende kultuur ontwikkel, in plaas daarvan om mekaar af te breek.

  • Lezahne Nel (22) is ʼn student aan die NWU se Potchefstroom-kampus en doen tans haar honneurs in Frans. Sy dien as joernalis vir die Wapad en vorm ook deel van PUKfm se bemarkingspan.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Barney ·

Goed geskryf. Kan ook byvoeg dat ouers hulle kinders dwing in rigtings waarin hulle nie wil wees nie weens hierdie spesifieke uitkyk van mense. Daar is baie uiters suksesvolle persone wat ‘n BA graad het en net soveel onsuksesvolle en werklose mense met ‘n BSC graad. Doen wat jou passie is en jy sal suksesvol en gelukkig wees

Eclectus ·

My pa wou hê ek moes ‘n ingenieur of ‘n ding word, toe word ek maar ‘n ding. Ek is die lewe in met net my matriek en 39 jaar later gaan dit baie goed met my.

Louis ·

Baie Geluk! Ek dink nie ek is verkeerd nie, as ek se: Ek glo jy is buitengewoon begaafd, slim en fluks en baie ander seeninge. Ek ken ook ‘n paar mense wat dieselfde kan se. Ek het baie in my lewe gesien dat grade sonder praktiese ondervindig net mooi niks beteken nie. Dit het maar net ‘n formaliteit geword in hierdie wereld, dat almal ‘n graad wil he. Voorspoed met jou suksesse!

Chris ·

Ek kan goed onthou dat ‘n vriend se suster my een dag vra waar gaan my broer skool. Ek antwoord toe by ‘n tegniese skool. O, antwoord sy, rol haar oë en verander die onderwerp. Sy weet nie dat my broer later ‘n elektriese ingeneurs diploma verwerf het nie. Hy het ook ‘n B.Adm graad deur UNISA verwerf. Ek het gedink (sosiale) snobisme sou teen die tyd al ‘n stille dood gesterf het. Ek is bevrees dit is nog steeds met ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.