#JongStemme: ‘Alles sal regkom’

Deur Lucas Janse van Vuuren

Hoeveel van ons het al dié gerusstellende woorde gehoor (of self gesê) wanneer dinge skeefloop? Het jy al regtig gedink oor die filosofie agter die frase? Watter implikasies dié tipe wêrelduitsig op ons toekoms het? Laat ons agter die kap van die byl kom.

Ek skryf vandag: Néé, niks sal regkom, tensy ons dit nie self reg maak nie.

Daar is nie meer tyd oor vir diegene wat te gemaklik is om saam in te span vir die “vuilwerk” van veg vir ons toekoms nie. Moet nie daarmee tevrede wees om ’n magtelose passasier te wees nie. Dit is tyd om agter die stuurwiel in te klim en beheer oor ons eie toekoms te neem.

Die huidige pandemie, ekonomiese ineenstorting en politieke nagmerrie wat ons tans ervaar, stoot al meer mense uit hierdie gemaksone en so ook uit apatie. Soos die skille van die mense se oë begin afval, laat hulle dan hulself rig aan pragmatiese en betekenisvolle bewegings.

Ek hoop persoonlik dat mense hulself sal rig tot libertynse beginsels – onder meer dié van individuele vryheid, van die ondersteuning van vrye ondernemings, van die beskerming van die vrye markte, en die vewerping van onnodige, ongegronde, en immorele staatsinmenging en -krag.

Plato skryf in Die Republiek oor die gevolge daarvan om nie deel te neem nie: “Maar die grootste straf sal altyd erger wees as ’n man nie self sy amp wil dra, en heers oor wat hy moet nie.”

My interpretasie van die skrywe is dat as die sterk, geleerde, en charismatiese onder ons nie braaf opstaan om te lei nie, sal die leiband deur swakker en minder goed bedoelende leiers opgetel word, en sal die bestaande toestand nie verander nie, of selfs verder verswak. Die oplossing: deelname. In die politiek, akademie, kerk, taalgemeenskap, en elke faset van die samelewing.

Edmund Burke skryf aan Thomas Mercer oor politiese apatie in Thoughts on the Cause of the Present Discontents: “The only thing necessary for the triumph of evil is for good men to do nothing.” Ons kan nie meer terugsit terwyl ons vryhede van ons ontneem word nie. Ons kan nie blatante onregte aan ons as burgers gedoen, laat nie.

Dit is tyd vir ons generasie om met haas op te staan as Vrye Denkers. Om enige gedagte dat daar ’n ridder op ’n wit perd gaan kom om ons te red te verwerp – ons moet elkeen self helde word. Ons moet ’n plek vir onsself uitkerf hier op die suidelike punt van Afrika, want niemand gaan dit namens ons doen nie. Ons moet baklei vir wat reg is, vir dit wat regtig reg is, en nie net dit wat ander vir ons voorskryf nie.

Lees wyd, begin gesprekke, vorm jou eie opinies, gegrond op feite en bewyse, en nie bloot net op wat die media braak nie, en dan: skryf, debatteer, praat, sing, of skree, maar moenie stilbly nie.

  • Lucas Janse van Vuuren is n vyfdejaar- mediese student aan die Universiteit van Pretoria, nasionale jeugleier van die Kaapse Party, en is behep met bewysgedrewe probleemoplossing.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leeuwyfie ·

Baie goed gesê Lucas, jy gee my hoop vir die jeug.
Hopelik is mense nou bereid om deel te neem in hul eie toekoms en die van hul kinders hier in Suid Afrika. Hoe minder mense afhanklik is van die staat, hoe beter. Ons is te gewillig om niks te doen nie, want ‘iemand’ sal tog iets doen. Mense moet begin besef dat hy/sy diè ‘iemand’ is.
Diegene wat dink; “als sal met my goed gaan, want ek is wetsgehoorsaam, lief vir my land en die mense wat hier woon,” hulle moet besef dat dit die meeste Afrikaners se gevoel is. Dit maak nie saak nie. Wette word steeds teen ons ingestel. Selfs diegene wat hul eie besighede het moet hul besigheid deel met iemand wat hulle nie self kies nie. Baie van ons keuses is alreeds weggeneem sonder ‘n piep. En die uiteinde daarvan was dat ons toegelaat het dat mense wat nie ons waardes deel nie nou besluit wat ons kinders mag leer in die skool. Ons moenie te gemaklik wees en die een na die ander kompromis aangaan nie. Dan sit mens op die ou end met niks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.