#JongStemme: As die virus aan jou huis se voordeur kom klop

Deur Robert-Andrew Adshade

Robert-Andrew Adshade.

Covid-19 is vir die laaste paar maande op almal se lippe. Almal is oorbewus daarvan, maar niemand besef regtig die realiteit daarvan nie, totdat dit aan jou huis se voordeur klop.

My pa werk vir ʼn bekende koeldrankmaatskappy, en hul produk is ook as noodsaaklik geklassifiseer. Hy moes daagliks tussen mense rondbeweeg. Hy was versigtig en baie gesteld op higiëne, ontsmettingsmiddels en natuurlik sy gesigmasker. Hy moes seker maak hy bly veilig, want hy is oor 50 en ʼn diabeet. Lang storie kort. My pa het ongelukkig die virus opgedoen en onwetend huis toe gebring. Twee weke van gesinskwarantyn het begin, twee weke van wéér nie skool toe gaan nie.

Aangesien ek in matriek en ʼn asmalyer is en nie kans sien dat nóg ʼn ramp my finale skooljaar tref nie (ek gaan nou nie eers van die rugby praat nie), het ek alles in my vermoë gedoen om gesond te bly. Ek het volgens die boek geleef. Ons het maskers gedra in die huis, hande gewas, ensovoorts. Al het my pa homself in ʼn kamer afgesonder, moes my ma steeds vir hom kos neem en sy wasgoed was. Iewers, sonder dat jy dit kan vermy, raak jy aan iets waaraan die virus kleef. My pa is in die hospitaal opgeneem toe sy gesondheid begin agteruitgaan het. Teen daardie tyd was my ma ook reeds positief sonder dat sy dit besef het.

My pa was ʼn week in die hospitaal, regtig baie siek. Hy is op ʼn Dinsdag ontslaan en ek sou die volgende Maandag weer kon teruggaan skool toe. Teen die Woensdag het ʼn krapperigheid in my keel begin pla. Ek het myself wysgemaak dat ek net met ʼn gewone lugweginfeksie begin het, soos vorige jare, met die winter aan die kom. Ek het mos nie dieselfde simptome as my pa gehad nie. Tog het my ouers dit goedgedink dat ek getoets moes word voordat ek teruggaan skool toe. Ek is die Saterdag na Pathcare, vas oortuig daarvan dat ek nie Covid-19 het nie. Sondagmiddag het die uitslag my omgetêkkel. Ek het met my kop in my hande op my bed gesit toe my ouers die slegte nuus met my gedeel het.

Nóg twee weke van gesinskwarantyn. Nóg twee weke weg van die skool af. My pa en ma het my deurentyd bemoedig en aangemoedig. Stadig het ek besef dat ek steeds soveel het om voor dankbaar te wees. My pa was genadiglik gespaar en was sterk op die herstelpad. My ma en twee sussies, wat ook intussen positief getoets het, was ook besig om te herstel. Ek het besef dat ons baie beter daaraan toe was as ander families wat geliefdes aan die dood moes afstaan.

Daar is baie negatiewe gevolge van hierdie virus, maar tog het daar ook soveel positiewe dinge daaruit gespruit. Ons as gesin het baie nader aan God en aan mekaar beweeg, en ons het besef dat ons wel die wil het om te veg vir drome wat ons vir ons toekoms het. Ek het tot die besef gekom dat niks vanself kom nie en dat ek net harder sal moet werk, al was daar nie elke dag ʼn onderwyser in klasverband om te help en te motiveer met my skoolwerk nie. Dit het my ook geleer om die klein dingetjies in die lewe te waardeer, aangesien dit in ʼn oogwink van jou af weggeneem kan word. Ons as mensdom MOET leer om gedissiplineerd te wees, om by alle reëls te hou en verantwoordelikheid te neem vir ons eie lewens en almal om ons.

Ons gesin gaan definitief sterker aan die anderkant uitstap, met die wete dat ons Covid-19 beveg en gewen het. Ek weet verseker my toekoms is steeds blink. Die lewe lê voor my. Net soos ons dapper voorgeslagte ná elke krisis, konsentrasiekampe of oorloë, moet ek bly voortbou, en elke geleentheid in die lewe aangryp. Ek moet met waardering en pligsgetrouheid hard werk vir die drome wat ek wil bereik.

Ons mag nooit moed opgee nie.

  • Robert-Andrew Adshade is ʼn gr. 12-leerder en hoofseun van die HTS Drostdy in Worcester, waar hy ook ʼn kranige rugbyspeler is en sedert 2019 vir sy skool se eerste rugbyspan uitdraf. Hy beoog om volgende jaar BEd Senior en Verdere Onderwys en Opleidingsfase aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus te gaan studeer. Hy het grootgeword in Worcester en is ʼn trotse Bolander in murg en been.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jan ·

Robert as die angs wat al die vermy-pogings meegebring het en jul immuniteit afgetakel het, eerder vervang was met gesonde leefstylpraktyke soos om gesond te eet, stresvry te lewe en met liefde en deernis uit te reik na minderbevoorregtes sou julle almal waarskynlik ligter daarvan afgekom en vinniger herstel het. Dis alles misleiding, want bv. in 2018 is 36 000 mense in SA aan griep dood. Elke jaar sterf meer as 60 000 weens die hoogs-aansteeklike TB. Griepsterftes beloop meer as 9% van bevestigde gevalle terwyl covid-19 maar slegs net oor die 2% is. Die media is besig met die grootste liegstorie in menseheugenis.

Willie ·

Ek verskil van Jan, hierdie is n pragtige getuienis van n seun en gesin wat verantwoordelik opgetree het. Hierdie virus is baie meer virulent as die gewone jaarlikse griepepidemie en nog selde het het ons in SuidAfrika soveel opgeoffer om virusbesmetting te vermy.
Ongelukkig het die regering die bevolking gefaal deur taxis toe te laat om volvragte te vervoer en die inwoners in plakkerskampe het ook gedink dat hierdie siekte n witmenssiekte is. Helaas die resultate is bedroewend…..

Human ·

Jan hoekom? Volgens jou is die media besig met die grootste liegstorie in menseheugenis. Weet jy wat is gevaarliker as die virus, dit is mense wat allerande stellings maak en hulle voorgee as alswetend. Dan word die regering geblameer vir die sotlikhede wat hul aanvang, wat reg is, maar as die klaers dit kwytraak dan is dit reg en normaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.