#JongStemme: As ek 2020 kon oorbegin

Marisha Hermann. (Foto: Verskaf.)

Deur Marisha Hermann

As ek 2020 kon oorbegin, sou ek niks verander nie. Ek sou nie die virus wegneem nie, nie een keer se angstige gevoel wegneem nie en ek sou nie meer glimlagte bysit nie. 2020 is perfek. Ek sal ’n Covid-19-matrikulant wil wees, want dis ’n voorreg om ’n matrikulant in die pandemie te wees. Dit is ’n leertyd en ’n karaktervormende tyd. Ek is die oudste van vier kinders. Ek is die proefkonyn vir vele eerstes. Dis ’n voorreg om die pad vir my susters te kan baan.

My liewe medematrikulant, ek het ’n nuwe normaal, saam met menigte van julle, betree. Ek het my masker ongemaklik op my gesig gehou. Ek het my gereinig totdat ek gevoel het ek is gevul met alkohol. Ek het my sosiale afstand met moeite gehou en gesmag na ’n drukkie. Ons het vandag as die oudstes van die skool ’n weg gebaan vir die res van die skool.

Maandag (8 Junie 2020) het ek besef dat die oë dalk die vensters van die siel kan wees, maar die mond en wange is die emosiewysers. Ons lyk emosieloos agter die masker. Tog ervaar ons ongelooflik baie emosies. Ons matrieks betree ’n vreemde toekoms. In hierdie tyd moet ons besluit waar en wat ons wil gaan studeer, ons doen steeds aansoek, want ons het steeds vertroue in die toekoms. Ons sien uit na die ander normaal.

Dis ’n voorreg om ’n matriekleerder in die middel van ’n pandemie te wees. In die grendeltyd het ons lewenslesse geleer wat ons nooit kan vergeet nie. Uithouvermoë, selfbeheersing, selfdissipline en in hierdie tyd het ons emosioneel gegroei. Ons het geleer hoe om aanpasbaar te wees. Ons het die voorreg gehad om ons gesinne op ander maniere te leer ken. Ons het die voorreg om die waarde van menseverhoudings en asems te verstaan. Ons as matrieks moenie vra waarom die pandemie juis in ons matriekjaar gebeur het nie. Ons moet sê: Hoekom nie?  Ons moet die pandemie aangryp met al sy onsekerhede, want die virus het ’n doel in ons lewe.

Liewe mede-jonger leerder, leer uit die Covid-19-pandemie. Skree jou hart uit by elke atletiekbyeenkoms. Beleef drama-, kuns- en koorgeleenthede. Woon soveel as moontlik sportgeleenthede by. Lewe elke dag voluit asof dit jou laaste geleentheid is. Waardeer elke emosie wat jy ervaar, want dit maak ’n verskil in jou toekoms. Moenie wag vir jou matriekjaar om alles voluit te ervaar nie.  Jy weet nooit wanneer jy dalk ingeperk word nie. Maak elke dag herinneringe.

Medematrikulante van 2020, ons is ’n unieke groep en sal vir ewig as die Covid-matrieks, wat unieke uitdagings oorkom het, bekendstaan.

  • Marisha Hermann is ‘n matriekleerling aan Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria. Sy sing in die Blou Engele-koor, en het ‘n groot liefde vir skryf.  As sy mense kan laat dink oor haar woorde, het sy haar doel bereik.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

twinkletoes ·

Ek ken jou al jare en geniet jou skryfwerk vreeslik! Van die gedig wat jy geskryf het oor n onderwyser, ‘n paar briefies en ‘n baie spesiale gedig op my troudag! Lief vir jou kleinsus! Dis tyd vir ******tee!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.