#JongStemme: Bekendes, beïnvloeders en die soeke na leierskap

Deur Magnus Stone

Foto ter illustrasie. (Foto: Erik Lucatero via Unsplash)

Die mensdom het nog altyd agter helde, konings en ander invloedryke persone aangeloop. Vandag het ons dalk nie meer baie konings om te volg nie, en ons helde maak nie drake dood nie, maar tog het niks verander nie. Die hedendaagse held is die bekendes (celebrities) soos filmsterre of musikante.

ʼn Nuwe vorm van held is deur sosiale media aan ons voorgestel, naamlik beïnvloeders (influencers). Hierdie is mense wat op een of ander manier beroemdheid verwerf het op ʼn platform soos YouTube, en nou hul invloed gebruik om idees en produkte aan mense te verkoop. Tog moet ons in gedagte hou dat hierdie ook mense is, hulle maak ook foute, dryf ook ʼn eie agenda en probeer op die einde van die dag hulself in ʼn beter posisie sit. Daarom verstom dit my om te sien hoe hierdie individue aangehang en aanbid word. Om hierdie punt te illustreer verwys ek na twee onlangse gevalle.

Eerstens, die Elon Musk-Twitter-sage. Sedert Musk aangekondig het dat hy beplan om Twitter te koop, heers daar ʼn hewige debat oor die toekoms van Twitter en of dit ʼn goeie ding is. Maar die kersie op die koek was einde verlede maand, toe Musk sy plan in werking stel om $8 vir ʼn sogenaamde “blue tick” te vra. Dit beteken dat hierdie blou merkies, wat voorheen gebruik is om mense van status te onderskei van die gepeupel, nou beskikbaar was aan almal.

Dit het die Blou-merk-adellikes en hul voetsoldate natuurlik hoogs die harnas ingejaag, en daar is geargumenteer dat enige persoon nou hom kan voordoen as ʼn bekende of ʼn nuusagentskap en fopnuus versprei. Hierdie is natuurlik waar, maar net omdat ons so baie waarde heg aan wat hierdie mense te sê het. Dit is een ding om ʼn akteur te geniet in ʼn goeie film, of om na jou gunsteling-sangeres se musiek te luister, maar as ons hierdie mense blindelings begin volg vir persoonlike, finansiële of politieke raad maak ons ʼn groot fout.

Net omdat hulle invloedryk en suksesvol is, beteken nie hulle het edele bedoelings nie, en moet hul met net soveel agterdog hanteer word soos die verkoopsman wat vir jou sê: “Ja, my lemoene is baie soet, kyk net hoe stil lê hulle!” (Hiermee wil ek nie bekendes se wysheid afkraak nie, maar wel die gevaar uitwys om enige persoon blindelings te volg, veral as die persoon nie eers bewus is van jou bestaan nie…)

Die sportdrankie Prime. (Foto: Dawid Brand)

Die tweede geval waarna ek wil verwys is meer onlangs. Twee beïnvloeders op YouTube het ʼn nuwe energiedrankie vrygestel, en hul aanhangers kon nie wag om hulle tande in te slaan nie. Checkers, waar die drankie teen ʼn stewige R40 vir 500 ml verkoop is, is blitsig uitverkoop in ʼn stormloop wat met Swart Vrydag vergelyk word. Hierdie drankie is maar net soos al die ander wat reeds op die mark is, ʼn konkoksie van kaffeïen en chemikalieë met lang name, tog het al wat ʼn tiener is Maandag in ʼn ry gestaan om hul hande op ʼn bottel te kry (volgens berugte was van hulle maar redelik teleurgesteld met die vrug van hul arbeid en reken dit is toe nie die prys werd nie).

Wat maak hierdie drankie anders? Dit is een of ander YouTube-sensasie se produk, en dit was genoeg om sy aanhangers te oortuig dat die drankie die moete werd is om douvoordag in ʼn ry te staan en R40 per bottel te betaal…

Dit wil dus voorkom asof die mensdom permanent opsoek is na leiers, na iemand anders wat vir hulle kan sê wat om te dink en hoe om te leef. Dit sal ons goed doen om te onthou dat ons klaar ʼn Leier het, ʼn perfekte Leier wat nie ʼn verskuilde agenda het of homself wil verryk nie, en hy het selfs vir ons ʼn Handboek gegee wat raad het vir alle aspekte van die lewe. Op die noot sluit ek af met 1 Sameul 8:11-18, wat ʼn waarskuwing is teen menslike leiers:

“En hy het gesê: Dit sal die reg wees van die koning wat oor julle sal regeer: Julle seuns sal hy neem en hulle vir homself aanstel by sy wa en by sy perde, dat hulle voor sy wa uit hardloop; en om hulle vir homself aan te stel as owerstes oor duisend en owerstes oor vyftig, en om sy land te ploeg en om sy oes in te samel, en om sy oorlogswapens en gereedskap vir sy strydwaens te maak.

Magnus Stone (Foto: Verskaf)

Ook julle dogters sal hy neem as salfmengsters en as kooksters en baksters. En van julle lande en julle wingerde en julle olyfboorde sal hy die beste neem en aan sy dienaars gee.

En van julle saailande en julle wingerde sal hy die tiendes neem en dit aan sy hofdienaars en sy dienaars gee. En julle slawe en slavinne en julle beste jongmanne en julle esels sal hy neem en vir sy werk gebruik. Van julle kleinvee sal hy die tiendes neem, en self sal julle sy slawe wees.

En in dié dag sal julle roep vanweë jul koning wat julle vir jul verkies het, en die Here sal julle in dié dag nie verhoor nie.”

  • Magnus Stone is ‘n 3de jaar BCom Ondernemingsbestuur-student by Akademia se George-sentrum.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.