#JongStemme: Boeliery in die werksplek

Deur Lindy Steyn

Lindy Steyn.

“Life is brutal out here” is die lirieke in een van Olivia Rodrigo se treffers. Dit is ook hoe baie mense die lewe sien.

Die stad van geleenthede het, net soos op ander plekke op die aardbol, ook maar sy krake. Vandag raak ek spesifiek aan die volgende: Boeliery in die werksplek.

Boeliery – dit is iets wat ons net gereeld tussen kinders sien gebeur, nie waar nie? Toe nou nie. Wat gebeur met boelies sodra die laaste skoolklok gelui het, die volwasse wêreld aanbreek en hulle die arbeidsmark betree?

Op skool was dit redelik maklik om te weet wie die boelie is en hoe om hom of haar te vermy, maar in die werksplek is dit ʼn ander geval omdat jy soms dagin en daguit met die persoon te doen kry. ʼn Boelie se metodes kom in verskeie vorms soos manipulasie, afknouery, bedrieglikheid en selfs verkleinering voor, en soms is dit net bloot onvermydelik.

Ek glo die sogenoemde “politiek” binne die werksplek gaan hand-aan-hand met onderliggende boeliery. Werknemers wat hulle stemme dik maak om werklik die onderneming te bevorder en daar vir die regte redes is, sien boelies as ʼn bedreiging, en in plaas daarvan om dit wat gesê word in ag te neem, word die persoon persoonlik aangeval – jy word ʼn teiken.

Ek het vriende wat vir oënskynlik perfekte ondernemings werk, maar hulle het ook maar krake; diep ingekeepte krake wat geen nuweling of hardwerkende werknemer ooit met opregtheid en eerlikheid kan probeer opvul nie.

Alles het krake. Roger Crawford se aanhaling spreek vanself: “Being challenged in life is inevitable, being defeated is optional.”

Ons jaag loopbane na omdat dit is waar ʼn mens veilig voel en waar ʼn mens kan groei, net om uit te vind dat dit nog méér gebroke is as die wêreld daarbuite. Boeliery en afknouery binne die werksplek kan ʼn verwoestende uitkoms op een se loopbaan hê; absoluut katastrofies!

“Pick a side and stay loyal to it.” Dis die woorde wat ek altyd van Harvey Spector in die televisiereeks Suits sal onthou. Hy was reg. Dis soos om jou vrou of man te kies en tot die dood toe, deur dik en dun, by daardie persoon te staan. In die werksplek moet jy ook die mense waarmee jy meng baie goed kies. Dit is amper soos op skool, want jy word aan die mense saam met wie jy jou tyd spandeer geken.

Ons het sogenoemde “vryheid van spraak”, maar word ook gereeld daaraan herinner dat dit eintlik net teoreties is; die werklikheid is egter ʼn ander saak. Waarom moet ons saam met iemand stem en aan hulle kant staan omdat ons in die werksplek bemagtig wil word? Waarom nie eerder vir die waarheid staan nie? Vir dit wat eties en reg is. ʼn Mens moet deesdae 20 stappe vooruit en strategies dink sodat jy die regte keuse maak om te verseker jy staan nog ʼn kans om die korporatiewe leer te klim. Waarheen verdwyn regverdigheid? Is mense dan so gejaagd na mag en geld dat hulle nie meer hul waardes ken nie? Is hulle so gejaagd dat hulle nie eens meer hul medemens in ag neem nie? Wys jou net hoe selfsugtig die mens kan wees.

Vir boelies is daar geen simpatie en geen empatie nie. Dis soos om in skaakmat te wees. Staan jy teen ʼn boelie by die werksplek op, verbeur jy jou kans tot bevordering; doen jy elders aansoek vir ʼn pos, lewer hulle valse getuienis net om jou weer in die rug te steek en te wys wie baas is.

Gelukkig kom baie mense daaruit en kan hulle weer geluk in hul werk vind. Ek sien ʼn tyd gelede ʼn plasing van Leadership First op LinkedIn wat lees: “Know your worth. You must find the courage to leave the table if respect is no longer being served.” Ek het dadelik aan my vriend se werksnagmerrie gedink.

Ek wil graag die volgende gedagte by elke liewe skolier of werknemer wat daarbuite geboelie word agterlaat: Moenie dat jou lig ooit demper nie! Fokus op die positiewe, dit wat goed en rein is. Maak jou oë toe, sak op jou knieë en bid vir die boelie se oë om oop te gaan. Sommige dae gaan dalk ondraaglik wees, maar jy KAN weer die lig sien. Jy kan ʼn verskil in jou stiltes ook maak!

  • Lindy Steyn is ʼn studentewerwer asook ʼn nauurse finalejaar BCom (Ondernemingsbestuur)-student aan Akademia. Sy dien ook tans as voorsitter op die studenteraad.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

VaalDonkie ·

Dis veral die ou Broederbonders wat nie gewoond is daaraan dat ander mense ook regte het nie. Seg een van hulle vir my ‘n paar maande nadat my kind oorlede is “ek is keelvol vir jou wat so in ‘n slegte bui is. Ek wil nie vir jou ‘n prestasie bonus gee nie”.

Liewe Land ·

Werk is skaars en ongelukkig gebruik werkgewers dit as ‘n wapen

Moeilikheid ·

Kom ek julle nou vandag iets vertel. ek het geen idee gehad wat boelie in die werksplek is nie tot ek in New Zealand gaan werk het. Ek en my vrou wat in Tandeelkunde is was so geboelie dat ons besluit het ons kom terug SA toe. In my lewe het ek dit nog nooit beleef nie. ons het Januarie terug gekeer huis toe.

Fluisterwind ·

Ons afdeling het vyf jaar terug met 24 werkers die firma se navorsing en ontwikkeling behartig. Ons is tans 3 werkers oor waarvan die bestuurder nie ‘n gekwalifiseerde persoon is nie, maar eerder ‘n narsis is en net sy manier van dinge doen is reg. Nou word ons twee oorblywendes gedreig met vrae soos hoe ons onself nog “relevant” gaan hou. My senuwees is gedaan.

Erika ·

By my werksplek is dit algemene Norm…..-Ek is enigste Vrou wat deel van Miinority groep is in werks situasie waar meerendeels mans Allowel n sekere ras groepe hulle self juis skuldig maak hieraan.is die minority ook die wat hulle ook skuldig maak hieraan..wat diselfde Mentaliteit deel
Ek beskou myself as n “Extraordinary Woman” want dit sit nie in elkeen se broek/Rok nie en boonop volwaardig vrou te wees. nie

Kerneels ·

Jip. Het ook so donker episode oorleef. Die twee eienaars van die maatskappy was die boelies. Daar was ‘n geweldige “staff turnover” – min mense het langer as ‘n jaar daar uitgehou. Een (slim) knaap het bedank op dieselfde dag wat hy daar begin het! Nog lank nagmerries gehad nadat ek daar bedank het. Verstommendste was die wonderlike getuigskrif wat ek van hulle ontvang het. As ek dan so wonderlik is, hoekom het hulle my soos drek behandel?

AmY ·

Ek was op skool geboelie deur kinders én onderwysers.
Dit was in die 80’s toe jy nie by die huis gaan vertel het wat by die skool gebeur het nie.
Later is ek in die werkplek geboelie deur bestuurders (ek kon hulle ma gewees het) én deur kollegas. Dit was só erg dat ek met disability moes gaan. Ek kon glad nie op my werk konsentreer nie. My een bestuurder was ‘n narsis én twaalf jonger as ek. Hy het my lewe hel gemaak in die werkplek.
Lyk my ek is gebore om geboelie te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.