#JongStemme: Bou studentiteit, taal en identiteit in nuwe era

Deur Heinz Schoeman-Struwig

Heinz Schoeman-Struwig

Die Noordwes-Universiteit (NWU) Potchefstroom-kampus se studentelewe is ’n ryk 150 jaar oud hierdie jaar, en dit kom met ’n massiewe voorreg asook verskeie uitdagings.

Omdat ons soveel jare gehad het om te bou aan ons studentiteit, sit ons met ’n vol studentelewe waartoe daar elke jaar bygevoeg word, maar min gekyk word na die wegdoen van vorige “maniere van doen”, en dit laat ons soms in die moeilikheid beland. Hierdie dinge sluit in, onder meer, van ons tradisies, asook ons aksies (sosiale geleenthede).

Verder het ons die ewigveranderende omgewing van die hoëronderwyssektor wat natuurlik met sy eie uitdagings kom – dít en die feit dat daar elke vier jaar ’n omset is van die studentetal wat konstant nuwe generasies met ander behoeftes, belange, en identiteite bevat.

Nou vra ek die volgende: “Is ons studentelewe reg om dié veranderinge suksesvol aan te pak? Is ons studentelewe op ‘n plek waar dié nuwe generasies aanklank kan vind by die huidige studentiteit?”

Dié vrae gaan gepaard met ander, soos: “Wie is ék om die NWU Potchefstroom-kampus se ryk geskiedenis te ‘hersien’ of te ‘verander’? Wat maak my die leier wat geregtig is om verandering aan te bring aan ’n eeu en ’n half se studentelewe?”

Ek sê nie ek het al die antwoorde nie – of dat ek die regte vrae stel nie – maar ek kan deel wat my visie is en hoe ek dit graag wil aanpak.

Ek kan ook vra dat my voorgangers en mede- sowel as oud-Pukke insette sal lewer – en dis tog iets waarvan ’n berig soos dié my kan verseker.

Dit bring my na die volgende: verandering is konstant, maar wat van aanpassing?

Só wil ek graag bogenoemde aanpak: Ek sê as ons op aanpassing in plaas van verandering in dié tyd fokus, hoef ons nie bang te wees vir dit wat voorlê nie – en dat nuwe tye nie beteken dat ons met alles moet wegdoen wat ons óns maak nie. Dit beteken ons kan eintlik aan die kern van studentelewe bou.

Dinge soos:

  • die leuse deur studente, vir studente;
  • ons waardestelsels en beginsels; en
  • die bevordering van meertaligheid deur plek te maak vir elke individu om sy/haar taal te praat en te bevorder binne ons studentesamelewing waar ons ook bymekaar kan leer, en nog meer.

Maar saam met die bou, kan ons ook wegdoen met van die praktyke wat nie meer ’n plek verdien in ons studentelewe nie. Dit sluit kwessies in soos militaristiese ontgroeningspraktyke wat nie konstruktief of opbouend is nie, en die feit dat studentelewe nie tans 100% gerat is om aanklank by alle studente te vind nie.

Die werklikheid waarmee ons tans sit, is dat die koshuise van die NWU se Potchefstroom-kampus volgende jaar ’n 50/50-rasinname van studente gaan hê (wat ’n gesprek is vir ’n ander meningstuk). Dit beteken ons studentelewe moet verseker dat dié nuwe studente, maak nie saak wie hulle is of wat hul agtergrond is nie, aanklank vind en ook hul eie identiteit in ons studentiteit vind, veral aangesien die nuwe jeug die toekomstige eienaars daarvan gaan wees.

Dit dring nie net aan daarop dat ons sekerheid moet hê in die inklusiwiteit van ons meertaligheidsbeleid nie, maar ook in ons tradisies en die inagneming van mekaar se verskillende agtergronde en behoeftes.

Ons sit dus met dringende veranderingsbestuur om te verseker dat ons nie die inkoop van ’n jaar se studente verloor nie.

Wat ons tot dusver gedoen het, is intensiewe opleiding vir alle studenteleiers, hersiening van ons praktyke om te verseker dat hulle almal inklusief en opbouend is, sowel as investering in ons meertaligheid, veral in koshuise – en ons hoop ons gaan die vrugte daarvan pluk. Die inkoop vir dié aanpassing is egter net so noodsaaklik soos die aanpassing self.

Ek vra dus vir inkoop, insette en geduld in dié verband. Dit gaan nie perfek wees nie, maar gee ons tyd om die nodige aanpassings te maak. My belofte is dat ons nêrens beoog om weg te doen met dit wat die kern vorm van ons ryk studentelewe nie, maar net wil bou op daardie kernpunte wat ons uniek maak.

Tye gaan bly verander, en dis ons verantwoordelikheid om by te bly, of om die stryd te verloor. Die volhoubaarheid lê nou in ons hande en nou is die tyd om aksie te neem. Ons uitdagings is dalk nie nuut nie, maar ons oplossings kan wees.

Dié berig is in die skrywer se eie hoedanigheid as studenteleier geskryf.

  • Heinz Schoeman-Struwig is die NWU se Potchefstroom-kampus se voorsitter van die kampusstudenteraad sowel as voorsitter van die NWU se verteenwoordigende studenteraad. Hy is besig met sy M.Sc.-graad in omgewingswetenskappe nadat hy sy BAHons-graad in Openbare Bestuur en Regering behaal het
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Feite ·

Baie mooi Heinz en mag jy hierdie helder denke nie deur politieke ideologiee laat besoedel nie. Jy slaan die spyker op die kop met aanpasbaarheid as die kern vir die verandering wat kom. Dit was nog altyd een van die ware Afrikaners se beste eienskappe en hierdie eienskap tesame met verstandigheid en verdraagsaamheid gaan nodig wees om te verhoed dat NWU se 150 jarige bestaanserfenis ook net weg gegee word soos met die ander universiteite!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.