#JongStemme: Covid 19 – die hemel én die hel van ons matriekjaar

Deur Nicolas Rust

Nicolas Rust.

Die gedagtes van ’n tiener is seker van die vreemdste onder die son.

Hoe hierdie gedagtes hulle onder grendeltoestande gedra, laat die mate van hierdie vreemdheid ongetwyfeld die hoogte in skiet. Selfkwarantyn is nie juis iets wat almal maklik gaan verwerk nie en die matrieks van 2020 op vreemde wyses beïnvloed.

Gelukkig berei sommige van ons onsself al lewenslank hierop voor deur die praktyk van selfisolasie te bemeester en vroegtydig die dier te tem. Vir hierdie individue, wat in die minderheid is, is lockdown niks anders as hul normale lewe nie. Dit is net sonder die ongerief van vroeg opstaan en die huis verlaat om te doen wat hulle in elk geval by die huis sou kon doen.

Nogtans is selfkwarantyn ’n hemelse nagmerrie vir die res van die matrieks. Moet my nie misverstaan nie – ek kan sekerlik nie namens alle leerders praat nie – maar die algemene konsensus tot dusver is dat die grendeltyd ons matriekjaar vernietig en, terselfdertyd, in ’n ander sin verbeter.

Ons matriekjaar is vernietig in dié sin dat ons al ons “laastes” misloop: ons laaste interskole, ons laaste herinneringe aan onderwysers en vriende, ons laaste kans om saam te doen wat ons nooit kon nie. Talle leerders wag ’n hele hoërskoolloopbaan lank vir die hoogtepunte wat die matriekjaar inhou. Die ergste is dat ons nie weet wát ons verloor nie. Ons weet slegs dat ons dit nie meer gaan ervaar nie.

As jy van buite daarna kyk, lyk ons kwale onbenullig teenoor die argumente en redes vir die staat van afsondering – ’n heel verstaanbare teenargument en heel moontlik ’n verklaring vir waarom die meeste matrieks op die positiewe aspekte van selfisolasie fokus.

Nietemin, is selfkwarantyn voordelig vir baie, omdat ons ’n voorsmakie kry van alternatiewe leermetodes, én van ’n gemaklike en ondersteunde oorgang na selfstudie, tuisonderrig en ’n student-gesentreerde benadering. Ons kan maak wat ons wil met ons tyd – ons hoef nie meer van 08:00 tot 08:45 in die wiskundeklas te wees nie. Jou tyd is joune en jy kan maak daarmee wat jy wil, jou dag kan lukraak volgens die gang van die sterre beplan word.

Dit is dus vir niemand anders van belang waarop ons hierdie tyd deurbring nie, dit is steeds ons s’n – of altans, meestal. Ongelukkig het my ma steeds die laaste sê.

Uit my persoonlike oogpunt is die grendeltyd eerder goed as sleg. Ek het in hierdie tyd dinge oor myself geleer wat ek nooit andersins sou nie en ek glo vas dat ek as ’n beter persoon hieruit gaan kom. Hierdie oorlooptyd het vir my baie stof tot nadenke gegee, en my tyd gegee waarin ek myself as persoon krities kon evalueer en besluit wat ek in die lewe wil bereik. Die beste belegging wat iemand in die loop van die lewe kan maak is in hom- of haarself.

Weer eens: ek kan nie namens almal praat nie. Ek voel asof hierdie grendeltyd die lewenstandaard wat ’n mens handhaaf, beklemtoon, en my simpatie lê by diegene wat nie die korrekte toerusting of genoegsame finansies het om die beste daarvan te maak nie. ’n Onvergeetlike lewensles en ’n waardevolle oefening in selfondersoek, is dit egter sonder enige twyfel.

  • Nicolas Rust is ’n matriekleerling aan die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en beoog om volgende jaar elektriese- en elektroniese ingenieurswese te studeer. Hy het grootgeword en bly steeds op ’n appelplaas buite Grabouw en beskou dit as ʼn besonderse voorreg.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Betzie ·

Tog so verblydend om te hoor van ‘n skrander jongman wat ingenieurswese gaan studeer , en nie in ‘n finansiële of mediese rigting belangstel nie. Boonop het jy die durf om op ‘n jong ouderdom reeds selfondersoek te kan doen . Dit is nie iets waarmee baie mense hulself bemoei nie. Mag dit jou wel gaan, Nicolas.

Jaco ·

Dis nou as hy ooit werk kry met sy wonderlike graad. Onthou tog net hy het die “verkeerde” velkleur. Ek het later gelieg op my CV deur niks te noem van my universiteitsgraad nie. Anders was ek seker permanent werkloos.

Axel ·

Hierdie jong man gaan dit nog baie ver maak in die lewe. Geluk, jou artikel het my weer laat nadink oor ons wat so maklik vinger wys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.