#JongStemme: Covid-19-matrikulante is ontdekkingsreisigers van 21ste eeu

Deur Willem Kurpershoek

Willem Kurpershoek.

Matriek. Maskers. Ontsmetmiddel. Sport. Skool.

Vyf woorde wat elkeen hierdie jaar ’n ander betekenis gekry het. Vyf woorde wat meer deur Suid-Afrikaners geuiter is hierdie jaar as ooit tevore. Vyf woorde wat elkeen sinoniem is met een woord:

Covid-19!

Tog is daar vyf ander woorde wat, volgens my, selfs nog ’n groter weerspieëling van die jaar 2020 is.
En dit is nie iets soos “Hierdie maskers is vreeslik irriterend!” nie.

Nee, die vyf woorde wat my 2020 opsom, is: “Dit is hoe dit is”.

Ek weet dit klink dalk vreemd, want hoe kan ons alles wat ons misloop, bloot net aanvaar? Hoe kan ons nie elke krieketwedstryd wat ons sou speel, elke redenaarstoespraak wat ons sou voordra en elke skoolfunksie wat ons sou aanbied en bywoon, mis nie? Hoe kan ons nié verlang na maskerlose dae, sonder ontsmettingsmiddels en sosiale afstand nie?

Wel… wat anders kan ons doen as net verlang en droom oor wat kon gewees het? Kan ons dalk ’n daadwerklike verskil in ons huidige omstandighede maak? Die antwoord is ’n ongelukkige, harde, hoeserige Covid-19-NÉÉ!

Want, kom ons wees eerlik: daar is nie veel wat ’n mens kan doen nie. As jou bootjie in die see is, dan vat die stroom jou waarheen hy wil. Al wat jy kan doen, is om te sit en wag totdat die stroom jou los – eers dán kan jy bepaal waarheen jy wil vaar.

Dis presies wat Covid-19 is: onstuimige seewaters wat ons meesleur, weg van die vasteland van bekende dinge af, in die rigting van onsekerheid. So maak Covid-19 van ons ’n Bartolomeu Dias of ʼn Vasco da Gama van die 21ste eeu – ons is ontdekkingsreisigers! Ons word gedwing om die bekende te verlaat en die onbekende in te gaan – om iets te bereik of te doen wat nog nooit voorheen gedoen is nie.

Maar nou vra ek julle: wat doen ontdekkingsreisigers as hulle in onstuimige waters beland? Kla hulle oor hoe erg die boot skommel? Kla hulle oor elke brander wat oor die skip breek? Nee, as ek enigsins my laerskoolgeskiedenis kan onthou, was hulle twee van die eerste manne wat vanuit Europa die grote see aangedurf het en in Suid-Afrika aangekom het. Ten spyte van vele storms, teëspoed en selfs skeurbuik, het hulle aanhou vaar. En die uiteinde – hulle ontdek Suid-Afrika as halfwegstasie, iets wat hulle in die toekoms baie sou help.

Nou vra julle dalk: wat het laerskoolgeskiedenis met my te doen in matriek? Ons bevind onsself in onseker waters en daarom is die vraag eenvoudig: Seil jy of sink jy? Ontdek jy of dooi jy? Dis presies die punt wat ek probeer aandui: ons het die geleentheid om ons Covid-19-matriekjaar ’n donker jaar te maak, vol mislukkings en klagtes. Maar, ons het ook die geleentheid om van ons Covid-19-matriekjaar ’n suksesvolle jaar te maak, vol unieke prestasies en ervarings.

Ek is oortuig daarvan dat die verskillende uitkomste oor wat met ons gebeur, op ons houding berus. Aanvaar ons dat ons in die situasie is en probeer ons om die beste daarvan te maak? Of sien ons die omstandighede as ’n onoorkombare storm?

Matrieks van 2020… of miskien moet ek eerder sê Covid-19-matrikulante. Kom ons wees ontdekkingsreisigers. Kom ons ontdek nuwe dinge. Kom ons herontdek ou, vergete dinge. En in die proses, kom ons los ons Jannie Jammergat-houdings in die diepe seewaters van die Covid-19-storm. So kan ons, wanneer die onstuimige waters bedaar, opstaan en ’n blink toekoms invaar.

Covid-19 het ’n groot impak op ons almal. Ons almal moes kosbare dinge prysgee. Kom ons sien hierdie pandemie nie net as ’n lewensbedreigende monster nie, maar ook as die geleentheid wat dit eintlik is: die geleentheid om aan die einde van ons 2020-matriekjaar uit ons matriekbootjie te klim as geharde ontdekkingsreisigers wat in die geskiedenisboeke neergepen sal word! Saam kan ons ’n skitterende toekoms skep!

  • Willem Kurpershoek is die hoofseun en eerste krieketspan-kaptein van die Hoërskool Middelburg in Mpumalanga. Hy hoop om matrikulante oor die hele Suid-Afrika te bemoedig en hul siening van die Covid-19-pandemie te verander.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Nie een woord oor geloof in ons almagtige hemelse Vader nie. Maar nou ja, godsdiens is mos verbode in skole.

Human ·

Nog ‘n uitstekende skrywe van ‘n jongmens, wat sy positiewe en nugtere uitkyk op die lewe, oordra aan die wat hulself daarmee kan vereenselwig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.