Deur Luan de Waal
Die sogenaamde sprokiesverhaal van Februarie het ons land en lewens gegrief met ʼn harde realiteit in Maart. Ons lewens soos ons dit ken, het binne ʼn halwe oogwink verander van ’n vry lewe na ’n vreesbevange een.
Pessimiste op sosiale media het die helderste toekoms vaal laat lyk en klink. Optimiste het vir die eerste keer besef dat goeie woorde nie die omstandighede kan verander nie. Vir baie wêreldlande was die werklikheid die bitterste pil nóg om te sluk.
Dit is deur en deur bewys dat die mensdom geen beheer het oor wat die toekoms vir ons inhou nie…
Soos enige ander skolier het ek hoë ambisies en groot sukses in gedagte gehad toe my matriekjaar aangebreek het. Nooit in my lewe het ek gedink dat ek ʼn masker sou hoef te dra net om in Pick n Pay se ry te staan nie. Dit het my egter getref dat dit nie gaan oor jou omstandighede nie, maar wat jy daaromtrent doen en hoe jy van die vloer af opstaan wanneer realiteit só ’n grendel om jou lewe plaas.
Vir my, wat baie oor goed kan tob en nadink, kon die Covid-19-pandemie my maklik ondergekry het as dit nie was vir die huis waarin ek grootgemaak is nie. My ouers het my al van kleins af sonder oogklappe grootgemaak en blootgestel aan situasies wat my kreatiewe denke in die regte rigting gestoot het. Dít is vir ons as die jeug een van die grootste struikelblokke: Om iets te deurdink, maar nie te óórdink nie!
Ek het aan die begin van 2020 besluit om dié jaar slegs goed te doen wat my gelukkig maak. Ek het myself beloof om elke metaforiese berg tree vir tree te benader en te oorkom met die Here aan my sy. Dit is ook bevestig toe die pandemie ons land tref, dat dít juis die manier is hoe ek oor die Covid-19-berg saam met my geliefdes moes kom. “My planne” is wel vernietig, maar God se plan, wat voor die grondlegging van die aarde al in opgestel was, sal volhou tot in lengte van dae!
Ja, die lewe het in ’n enkele oomblik verander en té veel dood is, na my sin, gespreek. ’n Mens sou dink dat mense teen dié tyd gewoond sou wees aan verandering. Elke week ’n nuwe slimfoon op die mark. Oseane wat vernietig word. Vuil lug, strate, gedagtes… Verandering is reg rondom ons. Die vraag bly staan: “Wat gaan ons daaraan doen?”
Te min tyd is nog altyd ’n faktor waaroor baie mense heeldag kla, maar noudat ons tyd het, is dit juis dít wat ons teen die mure uitdryf. Daar was ʼn gejaag na drankwinkels, maar nie na kerke toe nie. Mense smag na die gevoel van tabak in hul longe, eerder as kos en water wat hul lewens onderhou.
Die geheim is om lewe te spreek in ’n onophoudelike verandering in omstandighede. ’n Goeie ondersteuningstelsel is óók van kritieke belang. Vir wesens wat 24/7 moet aanpas, is ons redelik in ons weë geprogrammeer. Om hierdie probleem te oorkom, sal ons ons hele gedagteraamwerk moet aanpas om sodoende ook die geestelike geveg teen Covid-19 te oorwin.
As matriekleerder is my wedloop nie veel anders as dié van enige ander burger van ons land nie. Ons as land moet goeie moed hou en weet dat Covid-19 óók verby sal gaan. Ons sal sterker hieruit stap as wat ons ooit tevore was.
Die matrieks van 2020 kan nog roem en trots wees: ons het ’n pandemie oorkom. Julle gaan in die toekoms nog van ons hoor en sien!
Vroeë oggende verdrink in die sterrelig.
Voetstappe in skoolgange is stil.
164 jaar se tradisie-gedruis van jong stemme
is onderdanig aan Covid-19 se wil.
Interskole buig ook knie.
Provinsies word gesluit.
My vrye wil word onderdruk,
en vir die eerste keer baat ’n land daaruit.
Die wind waai skaars,
maar die reën bly kom.
Tog uit die gemors
bloei n sonneblom.
’n Teken van God se herstelwerk!
Nimmereindigend en voldoende.
Net so kyk Hy uit vir sy mense.
Ons is die geliefdes, die versoendes!
- Luan de Waal is ʼn matriekleerder aan Grey Kollege in Bloemfontein. Hy is ’n kranige swemmer en sportman.
#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!
As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.
BAIE GOED GESTEL LUAN.