#JongStemme: Deel 1 – die probleem

Deur Wian Spies

Wian Spies.

Toe ek jonger was, het ek altyd gesê ek wil eendag ʼn polisiebeampte word. Dit mag dalk net gewees het omdat byna elke seuntjie van blou hou. Baie ander hou dalk van die vinnige polisievoertuig, of dalk selfs die idee om ʼn vuurwapen aan jou sy te dra. Die mooi rede sal seker wees omdat die polisie altyd die “goeie” span is wat die skelms oorwin, wat goeie mense beskerm en dien.

Indien jy ʼn Suid-Afrikaanse burger tussen 18 en 30 jaar oud is met ʼn geldige bestuurslisensie, skoon kriminele rekord, vlot in Engels en ten minste een ander amptelike taal is, kan jy ʼn polisiebeampte in Suid-Afrika word. Natuurlik is dit nie al nie. Daar is ook ʼn paar kursusse en ander toetse wat geslaag moet word. Verder is daar ook aspekte soos regstellende aksie en ander vereistes wat jou dalk gaan help óf keer om ʼn moontlike toekoms in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te hê.

Op 22 Augustus 2021 het ek om 20:30 ná kerk van Waverley in Pretoria na my koshuiswoning in die Brooklyn-omgewing gery. Die pad was baie stil. Agter my het ek ʼn bakkie gewaar wat sy ligte vir my geflikker het asof hy wou hê ek moes stop. Daar was egter geen blou ligte nie en ek het gevoel dat dit veiliger sou wees om bloot aan te ry. Toe ek die bakkie van nader gewaar, het ek opgemerk dat dit ʼn polisievoertuig is en dadelik van die pad afgetrek.

Twee polisiemanne het uitgespring, die een met ʼn R5-geweer die ander met sy 9mm-pistool in die hand. Hulle het my versoek om uit my motor te klim en my op ʼn baie aggressiewe wyse deursoek. Hulle het my ingelig dat die rede waarom hulle my gestop het, is omdat ek nie heeltemal by die verkeersirkel stilgehou het nie. Ek wou aanvanklik stry, maar het vinnig besef dat dit beter is om die polisieman gelyk te gee en aan die man met die geweer in die hand te onderneem om voortaan heeltemal by verkeersirkels stil te hou, selfs al is die toegeeteken by die sirkel lewensgroot. Tevrede dat ek my vir daardie oomblik aan sy mag onderwerp het, het die polisieman my beursie, wat hy skynbaar sonder sukses vir kontant deursoek het, teruggegee en my laat gaan.

Hierdie ervaring van my met die SAPD is glad nie ʼn baie erge geval nie. Baie goeie wetsgehoorsame mense het al baie erger nagmerrie-ervarings met die polisie gehad. Dit het my egter baie laat wonder oor “wat as…”
Wat as dit daardie aand ʼn bejaarde persoon, met kontant in sy beursie, in my skoene was? Wat as dit daardie aand ʼn weerlose vrou in my skoene was? Hoe sou die polisiebeamptes dan gereageer het?

In my studietyd by die Universiteit van Pretoria se regsfakulteit wat nou ten einde snel, het ek al ʼn paar reëls en regulasies geleer oor wanneer die polisie jou mag deursoek. Ek het ook al geleer dat daar ʼn wesenlike verskil is tussen ʼn scenario waar die polisie jou aftrek en waar die metropolisie jou aftrek. Nodeloos om te sê, het ek besef dat dit nie eintlik regtig saak maak wat die reëls rakende die deursoek van ʼn privaat persoon se voertuig of persoon is nie. Dit hang alleenlik af van wie jou aftrek. Is dit ʼn persoon vir wie morele waardes belangrik is, of is dit ʼn persoon wat jou gaan intimideer in ruil vir ʼn paar blou buffels?

Ons land het baie misdaad en baie polisie. Ons land het baie korrupsie en baie ministers. Ons land het baie potensiaal, maar tog baie armoede. Ons land het baie stakings en baie werkloosheid. Daar is iets wat moet verander en al meer mense besef wat dit is.

(Kyk gerus volgende week uit vir: Deel 2 – die oplossing)

  • Wian Spies is ʼn finalejaar- meestersgraadstudent by Tukkies.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.