#JongStemme: Deel 2 – ʼn oplossing

Wian Spies.

In my skrywe van verlede week het ek van ʼn persoonlike kennismaking met intimidasie en magsmisbruik deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens vertel.

My ervaring was, soos reeds genoem, glad nie so erg soos baie ander minder gelukkige slagoffers s’n nie, maar my ontnugtering en skok was tog genoeg om my opnuut te oortuig dat dit wat ons tans in Suid-Afrika het, nie die ideaal kan wees nie en dat ons beter oplossings moet kry as waarmee ons tans tevrede moet wees.

Te veel misdaad en te veel korrupte polisielede

Suid-Afrika is wêreldwyd een van die lande met die grootste hoeveelheid privaat sekuriteitsmaatskappye. Daar is reeds meer privaat sekuriteitswagte as polisielede. In byna elke woonbuurt kry jy ʼn gemeenskapspatrolliediens of ʼn plaaslike sekuriteitsmaatskappy. Gewone landsburgers offer hulle tyd op om vir ʼn uur of twee deur die strate van die buurt te ry en toesig te hou. Dié mense is gewoonlik ook die eerstes op die toneel. Waar gemeenskappe goedgekoördineerde misdaadbekampingstrategieë vir hulle woonbuurte het, daal misdaad, ten spyte van die bestaan van die polisie.

Te veel korrupsie en te veel ministers

Na afloop van die verkiesing in 2019 het president Cyril Ramaphosa op 29 Mei 2019 ʼn verkleining van die kabinet belowe. Dit het egter nie werklik gebeur nie.

Die kabinet bestaan uit 28 ministers en nog 36 adjunkministers. Duitsland het tot onlangs net 15 kabinetslede gehad wat die kanselier en adjunkkanselier insluit. Daar is waarskynlik nie een spesifieke rede waarom Suid-Afrika so baie kabinetslede het nie, behalwe die feit dat die president meen daar is “baie” werk om te doen. Hierdie “werk” is egter werk wat hulle vir hulleself maak deur te veel reëls en regulasies daar te stel en te min ruimte vir ondernemerskap te laat.

Toerisme, vervoer en water en sanitasie is van die portefeuljes waarvoor verskeie privaat ondernemings ʼn arm en been sal gee om oor te neem, maar die staat eien hierdie take vir homself toe en beperk daardeur die uitset tot sy eie beperkte vermoëns.

Die beste van als is dat in ʼn vrye ekonomie verskeie ondernemings vir die werk sal kompeteer, wat sal beteken dat die prys dalk selfs baie minder sal uitwerk. Juis daarom moet die staat kleiner raak en die werk aan privaat kontrakteurs beskikbaar gestel word.

Te veel stakings en te veel werkloosheid

Die werkloosheidsyfer groei jaarliks en is hierdie jaar, volgens Reuters, ʼn rekordtal van 34,4%. Tog word daar gestaak deur dié wat wel werk het. Die werkendes staak gewoonlik oor die loon wat hulle tans verdien. Daar word geargumenteer dat hulle nie kan oorleef met hulle maandelikse inkomste nie.

Die staat reageer dan deur die minimumloon te verhoog en sodoende verdere druk op privaat instellings te plaas om hulle werknemers ook meer te betaal. Privaat instellings moet gevolglik van die werknemers afdank weens salarisse wat onbekostigbaar raak. Suid-Afrikaanse sakeondernemings funksioneer nie meer in ʼn vrye mark nie. Daar word druk op besighede geplaas met verskeie wetgewing, soos strenger belastingwette, swart ekonomiese bemagtiging-wetgewing en -handveste, regstellende aksie-wetgewing en die jongste Covid-19-regulasies.

Die oplossing vir werkloosheid is eenvoudig: verlig die druk wat op besighede geplaas word sodat hulle kan floreer en meer mense in diens kan neem.

Hoe gaan dit gebeur?

Om die polisie te privatiseer is sonder twyfel ʼn onrealistiese verwagting. Om te verwag dat die president sy kabinet gaan kleiner maak, is ʼn droom wat nie gou sal waar word nie. Om te glo dat die regering die druk op privaat besighede gaan verlig, is nie iets waarop jy jou geld moet sit nie.

Daar is egter steeds hoop. Daar is meer en meer landsburgers wat besef die land is in die moeilikheid, dat die staat niks daaraan gaan doen nie en selfs deel van die probleem is. Daardie landsburgers steek self hulle hand aan die ploeg en begin só om nuwe werklikhede te skep.

Gemeenskappe raak gaandeweg sterker terwyl die staat gaandeweg sy invloed en mag verloor.

Doen dus die volgende: Gaan stem in die verkiesing. Sluit aan by ʼn burgerregte-organisasie. Word deel van jou omgewing se buurtwag. Ondersteun plaaslike ondernemings. Begin jou eie plaaslike onderneming. Dra tot ʼn liefdadigheidsorganisasie by. Bid en hou moed.

  • Wian Spies is ʼn finalejaar- meestersgraadstudent aan Tukkies.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Filistyn ·

Wow Wian Spies, Jy hoort in die parlement. Jou visie is presies wat nodig is. Respek. Met jongmense soos jy is daar weer hoop vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.