#JongStemme: Die beste medikasie vir enige pandemie in jou lewe

Deur Henning Noëth

Henning Noëth.

Ek wens 2020 was ʼn beter jaar! Hoekom moet ons in die tyd leef met ʼn pandemie soos Covid-19? Kan ek nie maar net die jaar verder om slaap nie? So voel baie van ons oor die omstandighede waarin ons vandag leef. Maar net soos met ʼn pandemie soos dié, is daar ook pandemies in ʼn mens se lewe, waarvoor daar dalk ook nie ʼn teenmiddel is nie.

Maar dalk iets wat net so goed is: ʼn positiewe ingesteldheid, met so bietjie humor om die pil soeter te laat smaak.

Ek is nog jonk, onervare in die lewe en is nie baie wys nie, maar een ding wat ek nou al geleer het, is dat daar altyd ʼn positiewe en ʼn negatiewe kant aan alles in die lewe is, die vraag is net, watter kant kies jy?

ʼn Positiewe ingesteldheid maak probleme wat mens ervaar makliker om op te los, dit lig mens se gemoed en het vir seker ʼn positiewe uitwerking op die mense om jou ook! Soos ʼn virus versprei die positiwiteit tussen gesinne, tussen families, tussen vriende en gemeenskappe, maar anders as ander virusse, hoef mense nie in hulle huise opgesluit te bly nie; inteendeel, mens moet sorg dat jy dié “virus” kry. As jy kan kies tussen ʼn glas galbitter aalwynsap en ʼn glas vars uitgedrukte lemoensap om vitamines in te kry, hoekom dan die aalwynsap kies?

Dieselfde met jou ingesteldheid, hoekom kies om die negatiewe kant van alles te sien, eerder as om die opsie te kies wat jou sal goed doen: die positiewe kant?

Maar om positief te bly raak soms ingewikkeld; gelukkig is ons ʼn volk wat weet van grappe maak.

Humor is die een ding wat mens se kop van alles kan laat vergeet, al is dit net vir ʼn paar sekondes. Dit is die een van die goed wat mense kan saambring, gemoedere kan lig en ʼn negatiewe ingesteldheid positief kan maak. Wat is die eerste ding wat ons orals op sosiale media sien as die president ʼn nuwe reël vir die inperking afkondig, of slegte nuus met die land deel?

Grapperige foto’s, snaakse sêgoed, nuwe grappies…

Hoekom? Want dit is die mens se manier om verby die sleg te kyk en iets goeds uit die situasie te kan kry. Die grappies word dan ook al hoe meer onder mekaar gedeel en reg oor die land versprei en kort voor lank lag die hele land lekker saam. Met al die lag ontken ons nie die negatiewe praktyk nie, maar erken ons die krisis en kies ons hoe om die situasie te hanteer.

Dit is soveel makliker om positief te dink wanneer jy gelag het, as wanneer jy net die heeltyd morbied sit en jou lot bekla.

So die kort en die lank is, om enige pandemie suksesvol te beveg, moet jy die positiewe daarin kan raaksien en as dit kan, versterk sommer jou positiewe ingesteldheid deur ʼn grappie te maak of net te lag.

Daarom eindig ek ook die meningstuk met die volgende vraag: Wat sê die een neusgat vir die ander neusgat? Kom ons loop…

2020, Covid-19, ʼn moeilike jaar? Natuurlik ja, maar ek kies om positief en met humor vorentoe te gaan!

  • Henning Noëth is ʼn finalejaar‑ meganiese ingenieurswese-student aan die Universiteit van Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.