#JongStemme: Die blou lug is oranje

Deur Henning Noëth

Henning Noëth.

ʼn Paradoks, ʼn vreemde stelling, maar tog is dit ons lewe van vandag.

Dit is ʼn jaar vandat ons die eerste keer ʼn inperking as gevolg van Covid-19 beleef het, dit is byna ʼn jaar nadat ons mense nog kon herken aan hul glimlag eerder as aan hul maskers. Dit is ʼn jaar vandat ons wêreld verander het.

Die afgelope jaar was ʼn besonderse jaar. Daar het soveel goed gebeur, al kon die normale goed nie gebeur het nie. Daar het ʼn tydelike nuwe normaal kop uitgesteek.

Dit is normaal om skool te gaan met maskers op, dit is normaal om kerk te gaan sommer in jou eie sitkamer deur die TV, dit is normaal om by elke plek waar jy kom, jou temperatuur te meet, maar dit was ’n jaar gelede nie die geval nie.

Die lewe gaan aan en jy kan nie dat vrees jou terughou nie. ʼn Mens moet die beste maak van ʼn eienaardige en/of moeilike situasie en jou kop oplig en vorentoe kyk.

Die blou lug het soms ʼn oranje kleur met sonsondergang, maar dit is steeds dieselfde blou lug wat jy vroeër die dag gesien het en dit is dieselfde blou lug wat jy DV môre weer sal sien. Die lug gaan deur kleurskakerings en net so gaan ons lewens deur tydperke. Soos die blou lug wat oranje lyk met sonsondergang, lyk jou en my lewe dalk net anders vir ʼn ruk, maar dit is die tydperk wat ons juis vorm en sterker maak.

Die mens is ʼn interessante wese wat vrees vir die onbekende en vrees vir dinge buite die normaal.

Moenie bang wees vir die tyd waarin ons lewe nie. Vrees kan jou terughou en jou verniel, vrees kan jou laat onttrek van die mense rondom jou, vrees kan selfs jou nuwe normaal word.

Ek sê nie dit is verkeerd om versigtig te wees vir die virus nie, dit is ook nie verkeerd om soms bang te voel in sekere situasies nie, dit is net belangrik dat daardie vrees wat jy dalk op ʼn gegewe oomblik mag hê, nie jou lewe oorheers en ʼn negatiewe impak op jou lewe hê nie.

Lewe voluit, al is dit met jou masker op, gaan skool toe, gaan klas toe, gaan winkels toe, gaan werk toe en gaan kerk toe. Wees daar vir die mense wat dalk met vrees lewe, ondersteun hulle en bemoedig hulle. Hulle kort dalk net vir jou om hulle deur hierdie tydperk te dra waar dit dalk vir hulle mag lyk of daar nie ʼn môre is nie, of daar geen hoop is nie.

Moenie in vrees lewe nie, staan op, kyk vorentoe, die blou lug kom weer. Maar tot dan, geniet die oranje lug, want dit is op die ou end net so mooi en dalk net wat ons nodig het!

Wees veilig, wees verantwoordelik, maar leef en oorwin jou vrees.

  • Henning Noëth het pas sy graad in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria voltooi, en pak nou sy honneursjaar aan.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.