#JongStemme: Die eenkleurige reënboognasie

Deur Nelri van der Merwe

Nelri van der Merwe

Die HAT se definisie van “regverdig” is: “In ooreenstemming met wat reg is; regmatig; onpartydig; billik; eerlik: regverdig teenoor iemand optree.”

Wanneer ek na sport in Suid-Afrika kyk, sien ek trotse spelers wat met passie en volharding hulle drome uitleef, maar wat ek nie sien nie, is regverdigheid. Weens die kwotastelsel wat op Suid-Afrikaanse sport toegepas word, word daar baie onregverdige keuses gemaak oor die spelers wat tot ʼn span verkies word.

Hoekom is daar ʼn kwotastelsel in plek gestel? Sodat ons, die mense van Suid-Afrika, voorheen benadeelde mense nou ʼn regverdige kans op alle vlakke kan gee. Maar wat is regverdig daaraan as iemand wat swakker as ek speel steeds bo my in die span gekies word?

Volgens wat ek verstaan, is apartheid in 1994 gestop en ons het die “nuwe Suid-Afrika” voete gegee sodat almal in ons land – ongeag van watter ras jy is – oor dieselfde kam geskeer kan word. Wat ons moet besef, is dat apartheid vanjaar al 28 jaar terug verby is. Dit beteken dat die persone wat nou deur die kwotastelsel benadeel en bevoordeel word nog nie eens in 1994 gebore was nie.

As jy in 1994 gebore is, word jy vanjaar 28 jaar oud. Dit wil sê dat daar geen persoon op skool of op universiteit is – wat vir sy universiteit se rugby- of netbalspan mag speel – wat enigsins by apartheid betrokke was nie. (Jy mag slegs tot op 25 vir jou universiteit aan sport deelneem.) Swart studente is nie geraak deur apartheid nie en wit studente het niks met apartheid te doen gehad nie. So, waarom word daar steeds ʼn kwotastelsel geïmplementeer as daar dan niemand in skool- of universiteitsport is wat daardeur benadeel is nie?

Wanneer ek vir my universiteit se rugbyspan gaan proewe speel, is daar ongeveer 23 mense wat in die span moet wees. Ongeag hoeveel swart spelers in die span is, moet daar ten alle tye sewe swart spelers op die veld wees. Dit beteken ook dat daar genoeg swart spelers op die reserwebank moet wees vir ingeval al die swart spelers op die veld beseer word, sodat daar steeds sewe swart spelers op die veld kan wees. So, as ek sestiende beste was by die proewe, selfs vyftiende of veertiende beste, sal ek nie in die span gesit kan word nie omdat ek wit is en nie swart nie. En ja, selfs al is die swart speler wat bo my gekies is swakker as ek.

As daar iemand bo my gekies word omdat hy beter as ek speel, sal ek dit aanvaar. Maar wanneer ek nie gekies word nie omdat ek met ʼn sekere velkleur gebore is, sal ek dit nie aanvaar nie. Hoekom sal ek eendag kinders in ʼn land wil grootmaak waar ek vir my dogtertjie moet verduidelik dat sy nie Vrystaat Netbal kan speel nie, net omdat sy wit is?

Daar is nie meer voorheen benadeelde persone wat nou bevoordeel hoef te word nie. Wanneer ek na proewe toe gaan, sal ek graag wil hê die keuringsproses moet op talent en vermoëns gebaseer wees; nie op die kleur van my vel nie.

Ons weet dat hierdie stelsel baie onprakties is omdat ons die enigste land in die wêreld is wat ʼn kwotastelsel toepas. Net so is ons die enigste land wat apartheid geïmplementeer het; ek sou dink ons sou uit vorige foute leer. As ʼn kwotastelsel logies sin gemaak het en die diversiteit in ʼn land verbeter het, sou baie ander lande in die wêreld (veral eerstewêreldlande) dit ook toegepas het.

Destyds, toe swart persone benadeel is, het die res van die wêreld met walging na Suid-Afrika gekyk en alle ondersteuning aan die land, in watter vorm ook al, onttrek. In vandag se tyd word wit persone benadeel en niemand het iets om daaroor te sê nie.

Sport gaan nie oor watter kleur jy is nie. Dit is ook hoe ek sou redeneer as ek lank gelede tydens apartheid as gevolg van die kleur van my vel benadeel is – niemand op aarde kies met watter kleur vel hulle gebore word nie. Ons het ook geen sê gehad in die destydse apartheidstelsel nie, so dit is onvanpas dat ons generasie steeds die gevolge van ander se keuses moet dra, amper drie dekades later.

Wat ons almal wél kies, is hoe hard ons werk, hoe gereeld ons opdaag, hoe graag ons daardie posisie in die span wil hê, hoe gereeld ons oefen en in hoe ʼn mate ons ons talente en vermoëns verbeter.

Wanneer jy die vaardighede het, hard werk, tyd en moeite insit en wanneer jy werklik ʼn talent vir ʼn sekere sportsoort het – dan en slegs dan verdien jy om vir ʼn span gekies te word. Wanneer jy die slegste speler by die proewe was, maar jy was een van die enigste swart persone daar, verdien jy nie om in die span ingesluit te word nie.

Wanneer jy die beste spelers by proewe kies en almal is toevallig wit, beteken dit nie dat jy ʼn rassis is nie. Wanneer jy die beste spelers by die proewe kies en almal is toevallig swart, beteken dit ook nie jy is ʼn rassis nie. Dit beteken jy is ʼn afrigter wat graag die beste spelers in sy/haar span wil hê en dat jy spelers op grond van talent en vaardighede kies.

Ons kan nie ʼn reënboognasie bou as daar net op een kleur gefokus word nie. Dit is tyd vir verandering en dit is tyd om alle vorms van apartheid te beëindig – vir óns generasie en vir ál ons nageslagte.

  • Nelri van der Merwe gaan vanjaar BCom Ekonomie en Regte aan Akademia studeer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Ons is die die enigste land wat “apartheid” ingestel het nie. In teendeel ons het dit ge-erf. Ons het dalk seker net die langste daarmee aangehou. Voor en tot en met 1994 het mense ‘n klomp fantasie gehad en voor en daarna ook by verbeeld oor watteer paradys Suid-Afrika nou eintlik bestem is om te word. Fantasie verdwyn soos mis voor die son omdat dit op meestal om onwerklikhede gegrond is. Dit maak nie saak hoeveel akademici daaraan help uitdink en hoeveel fopnuus groepe daaroor lofliedere gesing het nie, dit bly nog steeds fantasie. Die grootste gevolg van sulke verbeeldingsvlugte… Lees meer »

Bertie

Omgekeerde rassisme sal aanhou, want dis die enigste manier om SA spanne na ‘n reënboog te laat lyk. As almal op meriete gekeur word, gaan die reënboog taamlik effe kleurig wees en politici sal nie daarmee tevrede wees nie.

Jack

Nelri jy is reg.Ek het al voorheen ook genoem dat enige span wat teen SA speel op die stadium van die geveg al weet hulle speel teen ‘n KWOTA en GETRANSFORMEERDE span.My vraag is dus hoekom sê hulle nie iets nie, ? Hoekom aanvaar hulle dit net ? Hoekom sal byvoorbeeld Engeland teen SA wil speel as hulle weet die span word gekies om ‘n rasse teiken in die span se saamestelling te verseker ? Hoekom die oponente se tyd mors met ‘n KWOTA SPAN ? Hoekom die Meriete speler in die span se tyd mors met spelers om hom… Lees meer »

Michael

Liewe Jack,
dit is alles politiek . Die engelse span gee nie om of hulle teen n kwota span speel nie. Die mense wat vandag in beheer van SA is, stel nie belang inn span wat die beste spelers van SA het nie. Ek dink die spanne van die buiteland weet hiervan maar hulle bly eenvoudig stil omtrent dit. Kyk bietjie na die laaste olympiese spele in china. Daar het die sportswereld ook maar net weggekyk.

Andre

Baie eenvoudig, die ANC is swart en hulle sal swart mense altyd bo wit mense sit.