#JongStemme: Die emigrasie­vraagstuk en die prys van ’n siel

ernst-van-zyl

Ernst van Zyl. Foto: Verskaf.

Deur Ernst van Zyl 

As jong Suid-Afrikaner kom ek toenemend jongmense teë wat pessimisties voel oor hul toekoms in ons land. Misdaad, swak regering, min werkgeleenthede en kulturele onderdrukking in ag geneem, kan ek hulle nie verkwalik nie. Tog is daar binne elke mens twee teenstrydende stemme: sy hart en sy kop; daarom reken ek hierdie is ook ’n kwessie van perspektief.

Baie jong Suid-Afrikaners hunker na die groen weivelde in die buiteland. Hulle wil wegkom van die dor, stowwerige en windverwaaide wintergras van die ou Transvaal. Ek persoonlik word egter nie moedeloos as ek die asvaal hoëveldheuwels in die wintermaande beskou nie, want die verlede het my geleer dat die lente met sy bekorende, krakende donderweer wel uiteindelik getrou ná die winter opdaag en die Transvaal met ’n verfrissende nuwe groen mantel beklee.

Die vraag oor emigrasie is vir my, persoonlik, ’n vraag oor hoe waardevol my identiteit as Afrikaan, Suid-Afrikaner, Afrikaanssprekende en Afrikaner vir my is. Ek dink, droom, het lief, vloek en bekommer my in Afrikaans – dit is die taal van my kop en my hart. Geen wyn proe so lekker soos een uit die Boland nie, geen Desembervakansie kan kompeteer met ’n Somerkersfees by die see nie, niks bring kalmte oor my siel soos die stilte en sterre van die Karoo nie, en daar is nie ’n sonsondergang ter wêreld wat kan kersvashou met een in die bosveld nie.

Suid-Afrika is waar my gees gewortel is, waar dit gegroei het en waar dit tuis voel, ’n vakansie af en toe hierheen gaan nie my sieledors kan les nie. Jou huis is waar jou hart is en ek is nie bereid om ’n stuk van my hart en my siel prys te gee nie.

My familiegeskiedenis in hierdie land kon ek terugspoor tot by 1688, wat my die 9de generasie op die Afrika-vasteland maak. Ek waardeer die voorreg om hierdie brief in my pragtige moedertaal te skryf, terwyl ek op my stoep sit en nog ’n hartroerende Afrika-sonsondergang aanskou. Dit alles is slegs te danke aan my voorouers se bloed, sweet en trane en die rou vernuftigheid, veerkragtigheid en vasbeslotenheid wat hulle in die donkerste dae van ons geskiedenis aan die dag gelê het. Dit is heel waarskynlik my Franse Hugenote-bloed wat my so rebels-hardnekkig maak. As ek nou moet pad vat omdat die teerpad weer in ’n grondpad verander het, sal dit vir my vasbytbloedlyn ’n antiklimaks van formaat wees in hul epiese verhaal op hierdie donker, maar tog magiese en magnetiese kontinent.

My pa herinner my al van jongs af, “Daar is ’n groot prys om te betaal vir die voorreg om in een van die mooiste en beste lande in die wêreld te leef.” Daardie woorde weerklink nog tot vandag toe in my gewete soos ’n uitdagende stem teen die kranse van die Drakensberge. Suid-Afrika is ’n kulturele woestyn en doodloopstraat slegs as jy dit van ’n afstand met ’n onaangepaste, kliniese Westerse blik aanskou.

Vir my is Suid-Afrika die enigste plek waar ek ’n kans staan om my ware plek in die son te vind, waar ek nie soos ’n opdrifsel of vreemdeling voel nie, maar soos iemand wat iets kan beteken en ’n verskil kan maak, al gaan dit soms hier ook hoe skrikwekkend rof.

Dis al

Dis die blond
dis die blou
dis die veld
dis die lug
en ‘n voël draai bowe in eensame vlug
dis al

Dis ‘n balling gekom
oor die oseaan
dis ‘n graf in die gras
dis ‘n vallende traan
dis al

 – Jan F. E. Celliers

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan! 

  • Ernst van Zyl werk vir AfriForum as strategie- en kommunikasiebeampte, is ’n medeaanbieder op die Podlitiek-podsending en is die gasheer van die regstreekse Stream of Consciousness-onderhoudprogram op YouTube. Hy is oorspronklik van die Wes-Kaapse platteland, maar woon nou in Pretoria. Ernst maak gewoonlik plasings op Twitter en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal (“Bewuste Rooikat”).

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

55 Kommentare

jongste oudste gewildste
Barry H

Goed gedoen!

Lekker om te lees!

van der Merwe

Pragtig. Sien SA nou weer in ‘n vars lig. – jammer oor al die vlugtelinge wat hulle heil buite ons grense soek. Na my mening was daar niks so erg soos die boere oorlog nie. Seuns so jonk as 12jaar het na die oorlog weer terug gegaan plase toe, alles wat afgebrand is weer opgebou, en vir hulle weduwee ma en sussies gesorg. Hulle het met swaarkry weer opgebou wat weggeneem was, en een reuse sukses daarvan gemaak. Die gemiddelde jongmens het ongelukkig nie eers amper dieselfde deursettingsvermoë as hulle voorsate nie. . . Ek is gelukkig – my kinders… Lees meer »

Gerhard Vermeulen

Pragtig verwoord! Dit is goed en wel vir jou om so te voel, maar dit klink vir my soos ‘n bietjie te veel hart en ‘n bietjie te min kop. Die vasbeslotenheid van ons voorouers is nie ‘n bewys van enige karaktereienskap nie, maar was ‘n vereiste vir oorlewing in daardie moeilike tye. Indien hulle die opsie gehad het om, soos ons vandag, relatief maklik uit hierdie gemors uit te kon ontsnap, sou hulle dit waarskynlik met beide hande aangegeryp het. Dit is immers hoe baie van hulle hier beland het! Ja, dit is ook mooi hier, maar glad nie… Lees meer »

Dirk

Afrikaner jongmense wat hulself nie laat beinvloed deur mooi beloftes van diegene wie verbete bly vasklou aan die groen weivelde van die verlede, aan grond, aan sakeryke, is die dapper jongmense wie emigreer. Hulle doen dit nie vir groener weivelde nie, maar vir n nuwe begin, n nuwe hoofstuk, vir die onthalwe en oorlewing van hulle nageslagte.

Mr G

Hmm, jong. Ek is self in twee geskeer hieroor. Ek woon ook ak lank in hierdie land, en besef ander lande het hul eie probleme wat ons dalk nie het nie. Die rede hoekom ek op emigrasie besluit het (volgende jaar is die plan sover) is vir finansiele en persoonlike redes. Ek sien nie ‘n veilige toekoms vir my of my toekomstige gesin hier nie. Ook nie ‘n veilige kwaliteit lewe of opvoeding vir die kinders wat ek nog eendag wil hê nie (as ek so geseënd mag wees). Baie mense sal my ‘n ‘verraaier’ of iets anders noem, maar… Lees meer »