#JongStemme: Die emigrasie­vraagstuk en die prys van ’n siel

ernst-van-zyl

Ernst van Zyl. Foto: Verskaf.

Deur Ernst van Zyl 

As jong Suid-Afrikaner kom ek toenemend jongmense teë wat pessimisties voel oor hul toekoms in ons land. Misdaad, swak regering, min werkgeleenthede en kulturele onderdrukking in ag geneem, kan ek hulle nie verkwalik nie. Tog is daar binne elke mens twee teenstrydende stemme: sy hart en sy kop; daarom reken ek hierdie is ook ’n kwessie van perspektief.

Baie jong Suid-Afrikaners hunker na die groen weivelde in die buiteland. Hulle wil wegkom van die dor, stowwerige en windverwaaide wintergras van die ou Transvaal. Ek persoonlik word egter nie moedeloos as ek die asvaal hoëveldheuwels in die wintermaande beskou nie, want die verlede het my geleer dat die lente met sy bekorende, krakende donderweer wel uiteindelik getrou ná die winter opdaag en die Transvaal met ’n verfrissende nuwe groen mantel beklee.

Die vraag oor emigrasie is vir my, persoonlik, ’n vraag oor hoe waardevol my identiteit as Afrikaan, Suid-Afrikaner, Afrikaanssprekende en Afrikaner vir my is. Ek dink, droom, het lief, vloek en bekommer my in Afrikaans – dit is die taal van my kop en my hart. Geen wyn proe so lekker soos een uit die Boland nie, geen Desembervakansie kan kompeteer met ’n Somerkersfees by die see nie, niks bring kalmte oor my siel soos die stilte en sterre van die Karoo nie, en daar is nie ’n sonsondergang ter wêreld wat kan kersvashou met een in die bosveld nie.

Suid-Afrika is waar my gees gewortel is, waar dit gegroei het en waar dit tuis voel, ’n vakansie af en toe hierheen gaan nie my sieledors kan les nie. Jou huis is waar jou hart is en ek is nie bereid om ’n stuk van my hart en my siel prys te gee nie.

My familiegeskiedenis in hierdie land kon ek terugspoor tot by 1688, wat my die 9de generasie op die Afrika-vasteland maak. Ek waardeer die voorreg om hierdie brief in my pragtige moedertaal te skryf, terwyl ek op my stoep sit en nog ’n hartroerende Afrika-sonsondergang aanskou. Dit alles is slegs te danke aan my voorouers se bloed, sweet en trane en die rou vernuftigheid, veerkragtigheid en vasbeslotenheid wat hulle in die donkerste dae van ons geskiedenis aan die dag gelê het. Dit is heel waarskynlik my Franse Hugenote-bloed wat my so rebels-hardnekkig maak. As ek nou moet pad vat omdat die teerpad weer in ’n grondpad verander het, sal dit vir my vasbytbloedlyn ’n antiklimaks van formaat wees in hul epiese verhaal op hierdie donker, maar tog magiese en magnetiese kontinent.

My pa herinner my al van jongs af, “Daar is ’n groot prys om te betaal vir die voorreg om in een van die mooiste en beste lande in die wêreld te leef.” Daardie woorde weerklink nog tot vandag toe in my gewete soos ’n uitdagende stem teen die kranse van die Drakensberge. Suid-Afrika is ’n kulturele woestyn en doodloopstraat slegs as jy dit van ’n afstand met ’n onaangepaste, kliniese Westerse blik aanskou.

Vir my is Suid-Afrika die enigste plek waar ek ’n kans staan om my ware plek in die son te vind, waar ek nie soos ’n opdrifsel of vreemdeling voel nie, maar soos iemand wat iets kan beteken en ’n verskil kan maak, al gaan dit soms hier ook hoe skrikwekkend rof.

Dis al

Dis die blond
dis die blou
dis die veld
dis die lug
en ‘n voël draai bowe in eensame vlug
dis al

Dis ‘n balling gekom
oor die oseaan
dis ‘n graf in die gras
dis ‘n vallende traan
dis al

 – Jan F. E. Celliers

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan! 

  • Ernst van Zyl werk vir AfriForum as strategie- en kommunikasiebeampte, is ’n medeaanbieder op die Podlitiek-podsending en is die gasheer van die regstreekse Stream of Consciousness-onderhoudprogram op YouTube. Hy is oorspronklik van die Wes-Kaapse platteland, maar woon nou in Pretoria. Ernst maak gewoonlik plasings op Twitter en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal (“Bewuste Rooikat”).

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

55 Kommentare

Hermien ·

Ernst, jy gee ons oueres weer moed vir die toekoms. Bly die jonges voel ook so!

van der Merwe ·

Pragtig. Sien SA nou weer in ‘n vars lig. – jammer oor al die vlugtelinge wat hulle heil buite ons grense soek.

Na my mening was daar niks so erg soos die boere oorlog nie. Seuns so jonk as 12jaar het na die oorlog weer terug gegaan plase toe, alles wat afgebrand is weer opgebou, en vir hulle weduwee ma en sussies gesorg. Hulle het met swaarkry weer opgebou wat weggeneem was, en een reuse sukses daarvan gemaak.

Die gemiddelde jongmens het ongelukkig nie eers amper dieselfde deursettingsvermoë as hulle voorsate nie. . .

Ek is gelukkig – my kinders stel glad nie belang om die land te verlaat nie – Seun 35 en dogter 32. Hulle is gevestig in hulle beroepe, met gesinne, en voel gelukkig nie die wêreld skuld hulle nie. Hulle is hier om ‘n verskil te maak. My seun het sy eie fabriek en gee boonop werksgeleentheid vir heelwat persone. Dogter veearts met ‘n gesonde praktyk.

OK – stenig nou maar – dit is my mening en ek volstaan daarby. :)

Reinhardt ·

Die verskil is die oorlog sou tog een of ander tyd tot ‘n einde kom. Maar hierdie situasie in SA mag dalk nooit verbeter nie. Nee wat, ek’s uit, gaan nie wag dat iets met my of my familie gebeur nie.

Out of Africa ·

Onthou net die ouderdoms perk vir Aus visas is nou afgebring na 45. Mense verander gou van deuntjie as die tyd uitloop.

Gerhard Vermeulen ·

Pragtig verwoord!

Dit is goed en wel vir jou om so te voel, maar dit klink vir my soos ‘n bietjie te veel hart en ‘n bietjie te min kop.

Die vasbeslotenheid van ons voorouers is nie ‘n bewys van enige karaktereienskap nie, maar was ‘n vereiste vir oorlewing in daardie moeilike tye. Indien hulle die opsie gehad het om, soos ons vandag, relatief maklik uit hierdie gemors uit te kon ontsnap, sou hulle dit waarskynlik met beide hande aangegeryp het. Dit is immers hoe baie van hulle hier beland het!

Ja, dit is ook mooi hier, maar glad nie die enigste mooi om te ervaar nie. Vir my is dit genoeg om hierdie mooi slegs nou-en-dan te sien, om slegs nou-en-dan deur Afrikaans omring te wees (die bietjie wat nog oor is). Veral wanneer dit die prys is wat betaal moet word vir persoonlike vooruitgang vir my en my familie.

Nee wat. So mooi soos jou woorde is, is daar belangriker dinge vir my.

Reinhardt ·

Daar raak jy aan die een ding wat niemand ooit noem nie. Indien ons voorouers kon trek, sou hulle. Ons het gevlug uit Frankryk in 1688, toe vlug ons uit die Kaap in 1834, toe vlug ons na wit afgebakende areas in 1948, wat keer ons om nou te vlug?

Ek dink eerder ons moet ons vestig in beter lande om daar n verskil te maak, want hier is geen hoop nie. Ons mors ons tyd en energie met mooi praat en hard werk, dit gaan nie n verskil maak nie. Nie totdat die massas begin saamwerk nie. Laat ons eerder buiteland toe gaan en daar netwerke en gemeenskappe opbou in n land wat ons kennis en vaardighede sal waardeer. As ek nou elkgeval my kinders in Engels moet laat skoolgaan, dan doen ek dit eerder in n veilige land.

Patch ·

‘n Familielid se dogter probeer nou al paar jaar vir medies gekeur word, let wel met baie goeiepunte… En’ n ander graad reeds agter haar naam. Lang storie kort… Sy het keuring gekry by n Europese universiteit en vertrek binnekort. Welgedaan aan haar en voorspoed. Daar kan jy jou droom bewaarheid. My seuns wil ook oorsee vir hulself n toekoms gaan skep en ek sal nie in hul pad staan nie want hier in ons sonnige SA is hul velle te wit. Moet nie verkeerd verstaan nie ons is almal lief vir ons land maar n toekoms vir jong mans veral… Nie so seker. @Dirk, ek verstaan jou kommentaar volkome. Nuwe begin, nuwe hoofstuk, vir die onthalwe en oorlewing van hul nageslagte.

Dirk ·

Afrikaner jongmense wat hulself nie laat beinvloed deur mooi beloftes van diegene wie verbete bly vasklou aan die groen weivelde van die verlede, aan grond, aan sakeryke, is die dapper jongmense wie emigreer. Hulle doen dit nie vir groener weivelde nie, maar vir n nuwe begin, n nuwe hoofstuk, vir die onthalwe en oorlewing van hulle nageslagte.

Liberaal ·

Onthou ons linkses is hard besig om europa ook te transformeer, en amerika, dis waarom ons trump so probeer bespot. NZ en kanada is ook vinnig aan die transformeer.

JongKonserwatiewe ·

Ons het voorheen hierdie “transformasie” gesien in 1936, so julle bring nie rerig iets nuut tot die tafel nie. Net nog black shirts wat die strate volstaan en almal intimideer want net hulle opinie tel…Sterkte.

Michelle ·

Wow!!! Ek het dit nou 2 keer hardop gelees en Al2 kere hoendervleis gekry… Dis PERFEK gesê!!

Mr G ·

Hmm, jong. Ek is self in twee geskeer hieroor. Ek woon ook ak lank in hierdie land, en besef ander lande het hul eie probleme wat ons dalk nie het nie. Die rede hoekom ek op emigrasie besluit het (volgende jaar is die plan sover) is vir finansiele en persoonlike redes. Ek sien nie ‘n veilige toekoms vir my of my toekomstige gesin hier nie. Ook nie ‘n veilige kwaliteit lewe of opvoeding vir die kinders wat ek nog eendag wil hê nie (as ek so geseënd mag wees). Baie mense sal my ‘n ‘verraaier’ of iets anders noem, maar partykeer moet mens weet watter gevegte om aan te vat. Ek sien nie ‘n beter toekoms in die volgende 10-15 jaar vir SA nie, nie met die ANC en hul doelbewuste afbreking van onderrig in ons land nie.

Sideliner Opinions ·

Baie mooi uitgedruk Ernst met stukkies siel wat tussen woorde uitlek en blootgelê word. Jou oortuiging is wat jou krag gee om die pad met sy opdraendes en draaie met blydskap en vasbeslotenheid te stap. Dankie vir wat jul by Afriforum doen om die gemoedstoestand positief te hou.

‘n Moeder ·

Jong man, jy het seker nog nie kinders nie. My hart en my siel sien ek in my kind se oë, en dit is die rede hoekom ons die pad slaan en van die grondpad af klim.

Michelle ·

Presies hoekom ons ook gaan. ‘n Paar jaar gelde toe my man dit opbring toe weier ek… Na my 1ste kind se geboorte, het ek ‘n ander siening gekry.

Dirk ·

@ n Moeder. Niemand sal dit beter verstaan en verwoord as jy nie.

Gerhard ·

Ek is bly die skrywer erken dit is ‘n emosionele standpunt en nie ‘n logiese standpunt nie.

Trojaanse Donkie ·

Ons het self in Vancouver en Brisbane gebly en gewerk maar het teruggekom net om saam met ons kinders en kleinkinders te kon wees. Was dit nie vir hulle nie was ons vandag Kanadese burgers.

Andre ·

Enige iemand wat die kans kry om te trek moet dit met albei hand gryp, en dit is jammer om te se. Die land het nie tyd vir wit of Afrikaner mense nie, alhoewel ons so hard probeer om te red wat ons kan. Die land gaan tot niks gaan a.g.v ons goeie ANC stemmers en volks manne.

Barry H ·

Tog interessant om die kommentare te lees. Ek wonder hoeveel sit reeds oorsee en soek maar net geselskap.

Ernst, mag meer mense dink soos jy!

Kol ·

Ek is oorsee en daar is 3 SA families in my street! Defnitief nie n tekort nie!

John ·

… ja, interessant. Die feit dat die skrywer werk het en advertensiewerk vir AfriForum doen.. soos dit hoort. Binnekort gaan ons glo weer trek… net nou vat ons die Kaapses saam… nie weer so suffer sonder moeilikheid nie. Dit is werklik makliker en mind you meer modieus om in te pas in die New Age Movement wat Zoros bevonds. So kan ons Afrikaners via Afrikaans, krom en skeef maar basta, verdwyn in die massa. Ons was glo deel van Suid-Amerika, nou kan ons weer saamsmelt. Onthou net om jul maandelikse bydraes aan AfriForum en Solidaiteit te betaal anders kom hulle nie uit as skaduwees in die tuin beweeg nie en dan volg ‘n graf in die gras en ‘n vallende traan: my uniebydrae vergeet, demmit! En my vel is nog te wit!

Petrus ·

Die ANC en EFF gee nie om wat wittes doen nie. Hulle gaan jou nie smeek om te bly nie, hulle gaan jou nie vra om te gly nie. Ons is op ons eie en moet emosies opsy skuif en rasionele besluite neem.

Sideliner Opinions ·

Net soos Ernst, is ek nie verbaas oor die algemene pessimisme oor die toekoms van SA in die kommentaar nie. Dit is waarmee hy sy skrywe wegtrek. Die punt wat hy maak is tweeledig. Die wat kan, maak ‘n keuse vanuit sy persoonlike perspektief. Daar is nie noodwendig ‘n regte of verkeerde keuse nie. Die meeste mense het egter geen keuse nie. Vir hulle en vir die wat die doelbewuste keuse gemaak het om te bly en die oorlewingstryd te stry, is dit noodsaaklik om positief te bly en nooit maar nooit moed op te gee nie. Vaarwel aan die wat kies om ‘n ander heenkome te vind. Mag dit met jul beter gaan. Dink egter aan ons wat bly en bid vir ons. Respekteer ons keuse of praat die wat nie kan gaan nie, ten minste moed in. Ons gaan dit bitter nodig he. En wie weet, dalk verras ons julle eendag, Julle sal altyd welkom wees om terug te kom.

Gerhard Vermeulen ·

Ek stem 110% hiermee saam! Nie net die woorde nie, maar ook die gesindheid.

My oorspronklike kommentaar was bloot gemik daarop om die ander kant van die kwessie te verduidelik. Tog veroordeel ek niemand wat bly nie, hetsy uit eie keuse of omdat die keuse nie daar is nie. Aan almal van hulle/julle wens ek niks behalwe voorspoed nie.

Stan ·

Mense moet ophou on so naïef te wees. Die wêreld word kleiner. Dink die ANC, EFF en hulle maatjies dat Afrikaners in die buiteland nie ook met hulle kinders die Suid-Afrikaanse geskiedenis deel soos hulle met hulle kinders doen nie?? Afrikaners oorsee werk hard en my ervaring is dat hulle by die dag sterker raak. Suid- Afrika staan nie net swak Sosiale bestuur in die sig nie maar ook geweldige landbou en natuurlike uitdagings soos aardsverhitting. Ek glo werklik dat die besluite wat gemaak word en die diskrimenerende sosiale aard waarmee dit alles gepaard gaan, gaan in die toekoms op die massas ‘back fire’. Geskiedenis het ‘n manier om homself te herhaal.

Erick ·

As jy kan gaan, gaan. Skuif emosionele hunkeringe opsy en probeer jou naïewe impulse beheer wat weerstand wil bied teen gesonde verstand en denkwyses.

JAN ·

Dankie Jong man vir jou opregte skerp siening.
Dis opreg en eerlik – sonder die vervloekte dialektiese dislektiese misbruik van taal van die ou spul psy-ops van ouds.
Skryf nog .

Sam ·

Ons het 11 jaar gelede Brisbane toe getrek. Na 2 jaar het ons teruggekom. Ek kon net nie heel voel nie … iets het aan my siel gevreet en innerlike vrede het ontbreek. Ek het gelewe vir die dag dat ons hopelik sou terugkeer. Die hunkering na jou land en mense is so groot soos ‘n geliefde aan die dood afgestaan. Niks kan die leegte vul nie.

Ons is op geleende tyd op aarde en sal ‘n stryd stry waar ons ookal is, maar ek sal hom eerder hier stry, waar ons dalk om oorlewing veg, maar my hart heel voel.

Eendag sal ons eets rus hê …
Eers as Hy weer kom.

Oom Harry ·

Ernst. Dit is n baie goeie en positiewe skrywe. Eenbelangrike gedagte vir jou:
Jy het n WERK. En ek aanvaar nagraadse kwalifikasie. Al is n man hartstogtelik lief vir SA enjy kan nie werk kry nie met baie goeie kwalifikasies, moet jy elders soek en ek dink dit is wat in meeste gevalle gebeur. Drie van ons kleinkinders het hier aansoek gedoen by universiteite met bogemiddelde prestasies op skool (een met 13 A’s) en hulle is afgekeur. Nou kry hulle aldrie grade elders in die buiteland – – – 1 tandarts, 1 M-graad in Ruimte ingenieurswese en 3e as mediese dr. Hulle het nie n ander keuse gehad nie. Ons kan ons nie blindstaar in mooi SA nie. Dit sit nie kos op die tafel nie.

Sarie ·

Oom Harry nou praat jy. My twee kinders het geweet hulle gaan hulle werk hier verloor. In albei gevalle sou die maatskappy se deure nie lank oopbly nie. Hulle is goed gekwalifiseerd en het poste in die buiteland gekry waar hulle nou woon. Na drie jaar voel hulle nou tuis in hulle nuwe land, al verlang hulle om ons te sien. Ons verlang baie maar ons weet hulle is beter af. Elke dag wat ons die huis verlaat, kyk ons rond en voel dit al hoe meer dat ons in Nigerie woon.

Lynette ·

‘Mooi Suid-Afrika’….mmm…..wat is nog mooi aan n land waar jy nie een jou neus by die traliedeur kan uitsteek om die natuur te geniet nie? Waar jy nie eens in jou AGTERTUIN kan braaivleis hou sonder die daadwerklike bedreiging van n gewapende aanval op jou nie? Pfttt….

marco polo ·

Ek kuier op die oomblik in SA, vanaf China waar ek al n tydjie woon. Jy KAN in die buiteland woon en steeds SAner wees. Wat my opval in die jaar sedert ek laas hier was is hoe pessimisties en depressief mense is en hoe gevaarlik dit geraak het. Ek kyk oor my skouer as ek alleen op straat stap en word afgeraai om te kamp by plekke waar ek jare gekamp het. Mense het afgestomp geraak vir gewld en moorde wat nou daagliks tussen hulle gebeur, en is net dankbaar dat dit hulle nie die slagoffers is nie. Ek het gedink dat my lewe in die buiteland maar bra vervelig is, maar liewer dit as om heeltyd in onsekerheid en swartgalligheid te lewe, sonder hoop vir n beter toekoms. Ek sal maar vootgaan om in die buiteland SAner te wees en die mooi dinge te onthou en te droom van n volkstaat wat seker nie in my leeftyd sal wees nie.

Blourrom ·

Mooi gestel…………totdat jou ouers, broer of suster, vrou en kinders vermoor word. Dis iets wat daagliks met baie mense gebeur. Die mooi Suid Afrika is nog net n illusie en die mense wat die land so prys is afgestomp. Hoe mooi is n sonsondergang in die bosveld as jou vrou die vorige dag verkrag en vermoor is?

Rerig ·

Skrywer, jy is bitterlik naief. “Daar is n groot prys om te betaal om in een van die mooiste plekke te bly…”
Wat n stelling… tot daardie prys die lewe is van jou kind of jou geliefde of jou oupa wat nog nooit n vlieg seergemaak het nie…
En, was jy al ooit in Skotland? Nogals mooi. Strande van Australie, skoon en veilig.

Hierdie land bied lankal nie meer n toekoms vir my kinders nie; ek is hier, maar ek sal my kinders buiteland toe stuur om te gaan studeer en n nuwe lewe te skep vir hul nageslagte.

Tina ·

Nooit gedink ek sal kommentaar lewer op iemand se skrywe, maar hier is dit.
Die briefskrywer kan maklik praat omdat hy ‘n werk het. Gaan uit en gesels met jong mense met kwalifikasies wat glad nie ‘n werk kan kry nie. Dan kyk jy deur ‘n ander bril.
Dis soos om in ‘n glas huis te bly en met klippe te gooi.

Lynette ·

Ja….my seun het drie grade, onder meer ‘n meestersgraad in Risiko-en-Beleggingbestuur en kry nie werk nie…..

Diepte van die see ·

Ons is nou ‘n jaar en 5 maande oorsee… Dit is ‘n wipplank van emosies. Soms is dit wonderlik ander kere aaklig, met ‘n tipe depressie (sleg waneer ek dink dié is my huis). Soos om ‘n boompie met wortels en al uit te pluk… MAAR wat is die toekoms in SA?
Ek was 2 weke terug vir die eerste keer terug om te kuier en dit was voorwaar wonderlik. Alles was fantasties, familie, die bekende, my plek, my mense… Ek wil verseker teruggaan… eendag.
My groot hoop is op Solidariteit en Afriforum en dit is hoekom ek hulle van hier af finansieël ondersteun. Dit is die enigste manier wat ons weer ‘n toekoms daar kan hê. Intussen toer en ervaar ek die wêreld.

NPVWL ·

Ek moet bieg, die invalshoeke en aggressie van meeste kommentare hier vanaf Suid-Afrikaners in die buiteland is teleurstellend. Met invalshoeke bedoel ek, hulle kommentare lees as of hierdie meningstuk hulle persoonlik aangeval het.

As enige akademici belangstel, hierdie kommentaar afdeling bevat genoeg materiaal vir ‘n uitstekende Meesters Tesis in Sielkunde!

Therese ·

Vreemd, kon geen aggressie in enige kommentaar opspoor nie, verál nie uit die buiteland nie.
Het die artikel, sowel as al die kommentare, baie interessant gevind.

Erik ·

Dit bly moeilik, en as iemand in ‘n hoek is wat werkgeleenthede betref of avontuur soek sal ek die eerste een wees wat emigrasie voorstel. Ek weet ek is bevoorreg, maar ek het werk, en geniet my werk! My vrou ook en ons het ‘n heerlike huis met groot erf. Hoekom dit verruil vir ‘n klein woonstelletjie in Londen? Of van voor gaan begin Australie? Ek weet ek gaan gekruisig word, maar blankes het ‘n vreeslike slagoffer mentaliteit ontwikkel. Ek is so moeg vir mense wat kla dat hul velkleur nie reg is nie? Daar is soveel meer swart mense in ons land wat werkloos is en swaarkry, en soveel meer van hulle wat onder misdaad deurloop. Dit maak nie misdaad beter of reg nie, maar dis nie slegs rasgedrewe nie. Ek voel jammer vir die mense wat nie hul neuse by hulle deure kan uitsit nie uit vrees. Ek bly in ‘n stad en ons braai gereeld buite, kinders speel buite en in strate en voel veilig. Posisioneer jouself net reg as moontlik en geniet ons wonderlike land met al sy uitdagings. Suid-Afrika hou ons naby aan die Here…

Frank ·

Op hierdie stadium lyk dit of die enigste potensieële oplossing vir die wit/afrikaner ‘probleem’ is Solidariteit en Afriforum. Verbeel jou net die 1m Suid Afrikaners in die buiteland dra maandeliks by tot hierdie organisasies? (R100 x 1m)
Ek skat binne 5 jaar hét jy jou kanton stelsel of ‘volkstaat’ in watter vorm ook al…

Soos ‘n wyse destyds al gesê het … eendrag …

Stan ·

Frank en dit is presies wat ons Suid Afrikaners in die ‘buiteland’ moet doen ????

Rafie ·

Alles goed en wel Erik as die son altyd op jou rug skyn, maar as jy met twee grade en jare se ervaring na byna dire jaar steeds hoor jy is “too bright and too white”, is dit nie meer snaaks nie. En glo my: jy doen alles in jou vermoë om vir jouself werk te soek, te skep. Om aktief hard te probeer om jou plek in hierdie land te vul en hier te kan bly en ‘n eerlike bestaan te kan maak….. maklik om dan te sê jy het ‘n slagoffer mentaliteit as jy en beide jou gade met goeie werke en ‘n stabiele inkomste het en lekker knus in julle voorstedelike woonbuurt bly en braai. Al wat ek kan sê: wees dankbaar, want dis net genade EN dit kan oornag van jou af weggeneem word!! Die maatskappy waarvoor jy werk, maak toe en jy verloor jou werk. Dis nie maklik daar buite nie en ons wil dit nie graag so hê nie…. maar dit tref jou onverhoeds en dan kom jy agter hoe erg die diskriminasie teen minderheidsgroepe regtig is. Onthou die bevolking hou aan groei en die meeste poste gaan deesdae vir die massas, jong werklose swart jeug.

Erik ·

Ek hoor wat jy sê en stem in groot mate saam met jou. Ek weet dis net genade en kan enige oomblik verander. Ek besef party mense voel asof hulle in skaakmat situasies is. Ek dink ook dat die regering groot blaam dra, maar die punt wat ek probeer maak is dat daar baie mense is wat swaarkry, ongeag velkleur, en dat dit ‘n maklike verskoning geraak het om te sê daar is nie werk vir ons nie agv ons velkleur. Watter verskoning gebruik die miljoene swart mense wat nie werk kry nie? Die werkloosheidsyfer is baie hoër onder hulle en hulle is dikwels gewillig om vir ‘n minimum loon te werk – iets wat ek gesien het uit ondervinding blankes nie bereid is om te doen nie.

Andreas ·

“Ek persoonlik word egter nie moedeloos as ek die asvaal hoëveldheuwels in die
wintermaande beskou nie, want die verlede het my geleer dat die lente met sy
bekorende, krakende donderweer wel uiteindelik getrou ná die winter opdaag en die
Transvaal met ’n verfrissende nuwe groen mantel beklee,” vertel jy.

Kom kuier by my en leer die dor aarde lief in die winter, die roesbruin wuiwende grasvlaktes teen die voetheuwels van die Drakensberge … natuurgeluide so ver as die Heer se ganade …

Pickering ·

Het destyds in my gap jaar in Londen ‘n ou ontmoet wie se gesin voor hom tereggestel is. Twyfel of Cilliers se gediggie hom sal prikkel. Hou asseblief op om te maak of mense wat emigreer verraaiers is, help werk skep vir hulle, want meeste wil in SA wees. Die land het hulle eerder verraai. Julle gaan ‘n ander deuntjie sing wanneer julle bakhand gaan pleit by julle neefs in verre lande wanneer die Rand nikswerd is oor ‘n jaar of twee, drie as ons gelukkig is.

Antwoord op Pickering ·

Ek wil 100% saam met jou stem Pickering. Dit is die werklikheid, dit is baie braaf om jou lewe op te pak en te gaan waar daar n geleentheid is vir jou en jou kinders. Eendag sal my kinders en hulle kinders ons bedank vir wat ons op gegee het en deur gemaak het om vir hulle te beskerm met aanvaar de veiligheid, wet en order, goeie onderrig, vir soveel geleenthede op meriete en nie vel kleur nie, en vir deel wees van n groeiende land.

Merie Perd ·

Soos baie skrywers hierbo genoem het van die boerevolk van ons protestandse voorouers, en opstaan uit die moeras van verwoesting, wat oor die Afrikaner deur die jare gebring is, is waar.
Die Afrikaner is nie n slawe volk nie.
Die Afrikaner het nog altyd oor sy eie lot beskik.
Die Afrikaner het nog nooit voor afgod dienaars gebuig nie.
Die Afrikaner sal homself nooit afbring na swak lewens standaarde nie.
Die sogenaamde vryheids vegters het nog nooit gesien hoe n gewonde leeu kan veg nie, nie net fisiek nie maar ook verstandelik.
Die ware Afrikaner was nog nooit ander se slaansak nie.
Daar kom n tyd waar die kruitvat op baie maniere en plekke sal ontplof … leterlik en figuurlik.

Out of Africa ·

Ons expats was destyds verraaiers, chicken-runners, hanskakies en dies meer genoem omdat ons die vooruitsig en moed gehad het om ‘n nuwe toekoms oorsee te gaan soek. Die outjie wat so kla oor ons aggressie kan gerus sy spul akademici aanspoor om hierdie verskynsel te bestudeer. Dis uniek aan SA, geen ander land se mense tree so op teenoor emigrante nie.
Wel hierdie ou chicken-runner is nou ‘n “free-range” chicken in Oz. Sterkte vir die agtergeblewenes.

Wonder maar net ·

Ek lees al hierdie komentare en kan voel dis my mense wat hier praat. Tog is ons eensaam en alleen al vir die afgelope 20 jaar in Centurion. Ons familie is nie te ver nie en ons sien mekaar redelik gereeld. Maar om 20 jaar gelede Centurion toe getrek het, en nie een vriend of vriendin te hê nie, spreek vir my boekdele van “ons Mense” se snobistiese houdings en absolute high polify kultuur wat hulle vir hulself geskep het die afgelope 20 jaar. As jy met jou click Centurion toe getrek het, geluk – jy het darem vriende en kuier seker elke naweek. Maar om daar te probeer inskakel is ‘n nagmerrie. Ek luister so na almal wat gegly het soos mense dit noem en hoe hulle hulle mense mis en moes terugkom want hulle mense was hier. “Ons mense” het hulself in hul kokonnetjies toegespin met hulle clicks om hulle en dis hoe hulle deur die lewe gaan. Geen plek vir enige iemand anders nie. Mens sien dit elke dag op skool hoe ons arme kinders sukkel om hegte vriendskappe te vorm. En voor iemand nou vir my hulle verhaal van kinderlewe vriendskappe en hul kinders se jare lange virendskappe wil vertel – ja ek weet dis nie vir almal so nie. Maar dis vir my so. Ek sal more emmigreer as ek die kans kry – kultuur is samesyn en kultuur is eensgesind. Ons kultuur is dit glad nie meer nie. So baie word uitgesluit….

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.