#JongStemme: Die Groot Trek het al baie menings gehuldig

Deur Katherine Mostert

Katherine Mostert.

Prof. W.M. MacMillan het dit as Suid-Afrika se grootste krisis beskryf.

Prof. E.A. Walker het dit gesien as “die sentrale gebeurtenis in die geskiedenis van Europese mense in die suide van Afrika”, en op ’n ander tyd as “daardie lang reeks vlugte weg van die komende negentiende eeu in Britse uniform…”

Takties het prof. C.W. de Kiewiet later beweer “die Groot Trek verteenwoordig ‘n besluit om die frontaanval op te gee en ‘n buitengewone beweging te onderneem … Die Groot Trek het die toekoms van die hele Suid-Afrika onoplosbaar met die Boereras verbind.”

Dr. D.F. Malan het dit heel moontlik die beste gestel: “As erfenis het Die Voortrekkers ons ’n groter Suid-Afrika nagelaat… Hul oneindig groter prestasie was dat hulle aan die nageslag nie slegs grondgebied nagelaat het nie, maar grondgebied wat tegelyk draer en verdere kweekplaas was van ’n volksiel. As die grondslae van ’n eie Suid-Afrikaanse nasieskap in die ou Kolonie langsamerhand gelê was sedert die dae van Adam Tas, en as dit in dié mate by die Groot Trek daarom reeds bestaan het, het Die Voortrekkers met hul stryd en lyding en hul groot prestasies sodanig daarop voortgebou, en het hulle daardie nasieskap sodanig tot sy uiterse konsekwensie uitgeleef, dat hulle byna as die skeppers daarvan gesien kan word.”

Die Groot Trek was nie ’n spontane volksverskuiwing nie. ’n Groep Afrikaner-grensboerleiers het dit gesien as die beste oplossing om ’n deel van hul grensboergemeenskap te verwyder uit ’n situasie wat vir hulle baie ondraaglik was.

Al was die Groot Trek ’n fisieke migrasie, moet dit meer as ’n versetreaksie van die Afrikaner-grensboere gesien word, en dat die Groot Trek in sy dieper wese die elemente van rebellie ingehou het.

Dit is die jaar 2020. Die lewe is meer modern, maar nie veel makliker om te benader nie. Soos ons voorvaders, ervaar ons tans ’n krisis. As die Boerevolk, vind ons onsself in ’n baie moeilike situasie.

Die land se Wet is teen ons sukses opgestel, en só ook die massas teenoor ons bestaan. Plaasaanvalle en -moorde raak al hoe meer barbaars en daagliks word opnames op sosiale media gelaai waar vêrlinkse groepe soos die EFF geweld aanhits teenoor wit mense, en dan ook word daar aan wit mense vertel dat hulle sak en pak terug na Europa toe moet gaan, want ons is blykbaar nie meer welkom in die land waarin ons voorvaders na hul nageslagte se vryheid toe getrek het nie.

Dit is tyd dat ons weer trek, alhoewel dit dié keer meer van ’n geestelike stryd sal wees as ’n fisieke een. Ons moet onsself uit ’n ondraaglike situasie verwyder en ’n buitengewone beweging onderneem.

Ons moet diep in ons siele delf en daardie elemente van rebellie weer vind, want as ons nie saam staan en rebelleer teen die massas en hul negatiewe opmerkings oor ons taal, geskiedenis en kultuur (wat hulle nie meer deel wil hê van hierdie sogenoemde reënboognasie van Suid-Afrika nie), wie anders gaan dan vir ons volk en ons nageslagte se vryheid van assosiasie baklei?

  • Katherine Mostert is tans besig met haar Baccalaureus in sosiale wetenskap, waar sy fokus op sielkunde en kommunikasie. Katherine is die aanbieder van ’n podsending, StadsmeisiePlaasmeisie, waarop sy gesels oor Suid-Afrika se geskiedenis.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.