#JongStemme: Die innoverende Afrikaner

Deur Morné Bester

Morné Bester

“Afrikaans” en “konserwatief” word dikwels in dieselfde asem gebruik om die Afrikaner te beskryf, sonder dat enigiemand daaraan dink om dit te bevraagteken. Om te praat van ʼn Afrikaanssprekende wat aan die verlede vasklou of nie oop is vir verandering nie, is vir baie mense nie buitengewoon nie, maar as ons ʼn bietjie dieper na die Afrikaner se geaardheid gaan kyk – in die verlede en soos wat dit nou lyk – sien ons ʼn ander prentjie.

Dit was nog altyd vir Afrikaners nodig om innoverend te wees, of dit nou was om teen Britse kolonialisme te veg, of om ʼn nuwe toekoms na ʼn skandalige geskiedenis van Apartheid te skep. Daar is voortdurend van Afrikaners vereis om die koppe te kraak om te oorleef, en daarvoor het ons nodig gehad om oop te wees vir verandering.

Vir 17 000 Afrikaners om in 1830 uit die “gemaklike” Kaap na die binneland te trek is nie konvensioneel nie; om in 1961 ʼn hele nuwe republiek te stig is nie konserwatief nie. Inteendeel, hierdie gebeurtenisse spreek boekdele oor die Afrikaner se vermoë om nuwe uitdagings aan te pak en aanpasbaar te wees, maar tog nie van die waardevolle tradisies en lesse uit die verlede ontslae te raak nie.

Selfs vandag is Afrikaners meer liberaal en innoverend as wat ons besef, en meer as wat ander ons krediet voor wil gee. Ons boere is bekwaam met slim boerdery tegnologieë en ons voer hierdie tegnologieë al na ander lande toe uit ook.

Ons is voorstanders in die land wanneer dit by opleiding kom, soos die Wolkskool wat reeds in gebruik was voor die pandemie sulke tipe platforms genoodsaak het. Kyk ook maar na Akademia wat afstandsonderrig in Suid-Afrika na ʼn hele nuwe vlak geneem het.

By Solidariteit Helpende Hand, waar ek onlangs begin werk het, maak ons van kunsmatige intelligensieprogramme gebruik om kwessies in ons gemeenskap beter te identifiseer en aan te spreek, en so word die Afrikanergemeenskappe nog meer bemagtig om hul nuwe en verbeeldingryke idees te laat realiseer en seëvier.

Afrikaners is nie outyds of onveranderbaar nie. Afrikaners is kreatief, innoverend en oop vir verandering. As die ander gemeenskappe dit nie ook besef nie, gaan die Afrikaner net nog groter deurbrake maak en ons eie gemeenskappe gaan alleen die voordeel trek. Maar, belangriker: Dit is tyd dat ons dit self besef, sodat ons nie in die stereotipe vaskyk nie, en sodat ons op die idees kan bou wat ons reeds op die been gebring het.

Ek stel nie voor dat Afrikaners meer oopkop moet wees nie, net dat hulle moet besef hoe oopkop hulle rééds is, en om die voordeel daaruit te trek.

  • Morné Bester is ʼn meestersgraadstudent in bedryfsielkunde by die Universiteit van Pretoria en werk ook as menslikehulpbronbeampte by Solidariteit Helpende Hand.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Goeie werk met goeie mense. Ek reken die volgende groot trek gaan weer gebeur, nie na die buiteland nie maar wel na selfstandige selfbestuur areas. Ons is al hier oos van Pretoria met 1500 mense en 500 huise met eie dienste (water, krag, riool, paaie, gesondheid en welsynsdienste) onafhanklik vanaf die metro. Ons wag vir goeie hardwerkende, innoverent mense (jonk en oud) om skouer aan die wiel te slaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.