#JongStemme: Die jeug in Jeugdag

Deur Kayla Vogler

Kayla Vogler.

Franklin D. Roosevelt het gesê ons kan nie altyd die toekoms vir ons jeug opbou nie, maar wel ons jeug vir die toekoms opbou.

Verbeel jou: Dit is 2021 en jy word wakker in ’n jong mens se liggaam, die koronavirus-pandemie regeer oor ons almal, jou omgewing is in die slegste toestand wat dit nog ooit was en onregverdigheid en haat seëvier soos nog nooit tevore nie – maar almal kyk na jóú.

Jý is mos die jeug, dit is jóú verantwoordelikheid om net in te spring en met jou towerstaf die wêreld ’n beter plek te maak.

Roosevelt was reg in sekere aspekte, maar ek stem nie heeltemal saam met sy stelling nie. Ek glo dat die toekoms wel voorberei en gebou kan word vir ons jeug. Kyk so daarna: as elke generasie verwag dat die volgende generasie eerder die probleme moet oplos, gaan daar nooit probleme opgelos word nie. Die tyd het aangebreek om op te hou vingerwys en self iets daaraan te doen.

Ja, natuurlik wil ek hê ons generasie se kinders moet eendag nog ’n lewendige renoster sien, maar ek wil ook hê my ouma se kleinkinders moet ’n renoster sien. Dit is belangrik vir ons om, nie net as land nie, maar as wêreld saam te staan en ’n toekoms te verseker wat ál ons generasies bevoordeel – dié wat nog kom, ingesluit.

Ek sê nie dat ons ’n Derde Wêreldoorlog moet begin of optogte hou totdat ons blou in die gesig is nie. Nee. Maar ‘n mens sal verbaas wees hoe groot die gevolge van ’n klein aksie kan wees: Dra ’n masker, was jou hande, skenk so min as R5 aan die DBV, tel ’n papier op (ja, al is dit nie joune nie!) of help net om te herwin deur papier en glas in jou huis te skei.

Ek stem wel saam met Roosevelt dat ons jeug voorberei moet word vir die toekoms. Ons jeug moet leer hoe om op te staan vir dit waarin ons glo, want as ons kan opstaan teen iets wat teen ons waardes gaan, sal ons kan sorg dat die omgewing en ons omstandighede nie handuit ruk nie.

Ek het die volgende paar Afrikaanse uitdrukkings deurmekaar gegooi as ’n kort opsomming van die jeug van vandag:

Dit is dalk goed dat ’n man die juk in sy jeug dra, want dit maak ons net sterker. Al sê hulle dat die jeug geen deug het nie, sal ons leer uit ons foute. Ons is nou in ons prille jeug, so maak die beste daarvan! Ons sal ’n jeug soos ’n arend hê en ’n verskil maak in die wêreld om ons, want miskien sal dit dan nie nodig wees vir ’n tweede jeug nie, want ons sal nooit oud word nie!

Ek wil jou uitdaag om vandag die jeug in Jeugdag raak te sien, of dit nou is om ons jeug voor te berei vir die toekoms, of om die toekoms voor te berei vir ons jeug. Elke bietjie help.

Helen Keller het gesê alleen kan ons so min doen, maar saam kan ons soveel doen.

Gelukkige Jeugdag, Suid-Afrika!

  • Kayla Vogler is 19 jaar oud en is tans in haar eerste jaar aan die Universiteit van Pretoria, waar sy BCom regte studeer.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem ·

Bravo!! In plaas daarvan om verantwoordelikheid bloot oor te gee aan die volgende geslag moet ons aan die werk spring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.