#JongStemme: Die kanker van ons tyd

Deur Sven R. Spangenberg

Sven R. Spangenberg

Carl G. Jung het gesê die wêreld hang aan ʼn dun draadjie en dit is die psige van die mens.

Ons lewe in ʼn epidemie. Groter en meer gevaarlik as Covid-19 en die swart plaag. Die donker epidemie speel in die agtergrond, in die skadu van die wêreld en ons gedagtes af; soveel so dat ons die realiteit met verblinde optimisme miskyk. Ons psige is ʼn labirint. Soos Theseus lei misterie, mortaliteit en massamentaliteit ons al hoe dieper en dieper in waansin en histerie in.

Ons lewe in ʼn epog waar geestesongesteldheid die norm is, eerder as die uitsondering. Elke tweede Jan Rap en sy maat ly aan ʼn vorm van depressie en/of angs. Dit is die moderne ideologie en idee wat ons vir onsself vertel. Ideologieë is so kragtig dat dit ons soms kan besit, en psigies verteer. Die kragtige mense wat die vloei van inligting in ʼn samelewing beheer, en die ideologieë wat ons as die waarheid sien, oefen ʼn groot mag oor ons samelewing uit.

Volgens Jung lê die grootste bedreiging vir die samelewing en mensdom nie by die kragte van die natuur of oorloë nie, maar eerder by ons onvermoë om die kragte van ons eie psige te verstaan en te beheer. Ons samelewing leef tans in die grootste bedreiging vir ons spesie, en dit is ʼn massapsigose.

Die massas het nog nooit na die waarheid gesmag nie. Wie hulle ook al van droombeelde kan voorsien, word hulle meester; wie dit waag om hierdie droombeelde te vernietig, word vir ewig hulle prooi. – Gustave Le Bon

ʼn Massapsigose is ʼn epidemie van waansin en kom voor wanneer ʼn groot deel van die samelewing voeling met die werklikheid verloor. Dit is nie die eerste keer dat ons samelewing as geheel ʼn prooi van hierdie siekte word nie. Die Nazi-regime en die heksejag van Salem is voorbeelde van ʼn massapsigose. ʼn Meer kontemporêre en plaaslike voorval is die week van skande wat vroeër vanjaar in Durban plaasgevind het toe daar massaplundering en oproer van fabrieke en winkels was. Dit was alles moontlik omdat ʼn sekere ideologie ʼn algemene koord met die massas se psiges getrek het.

As ʼn massapsigose voorkom, leer geskiedenis ons dat die resultate verwoestend kan wees, en is. Die individue wat die besmette samelewing uitmaak, in ʼn massapsigose, is sedelik en geestelik minderwaardig. Hulle het onbewustelik na ʼn minderwaardige intellektuele vlak gedaal, wat hulle om die beurt meer onredelik, onverantwoordelik, emosioneel en onbetroubaar maak.

As daar geen effek is nie, is daar geen rede om te soek nie. Maar hiervan is die effek seker: Die verdorwenheid is werklik, en ons siele is deur die ideologie wat ons brose samelewing bymekaarhou, beskadig. ʼn Psigose is dus die denaturering van die werklikheid; ʼn totale verlies en wanbelyning van die aanpasbare realiteit voor ons bewustelike geestestoestand. Die psigotiese massas word oorval met dwalings van valse gedagtes en waardes wat hulle as die werklikheid beskou, wat hulle na ʼn primitiewe vlak van bewustheid laat terugval.

Nie almal is slagoffers van die psigose nie; die wat in die massapsigose geestelik gesond bly, is besig om slawe van vrees te word.

Soos Hunter S. Thompson gesê het: “Ons is besig om in ʼn nasie van kermende slawe van vrees te verander – vrees vir oorlog, vrees vir armoede, vrees vir willekeurige terrorisme, vrees om afgeskaal of afgedank te word weens die tuimelende ekonomie, vrees om weens slegte skuld uitgesit te word.”

Psigogenese knoppies of snellers is wat tot ʼn massapsigose lei. As die regte kombinasie van negatiewe gedagtes en emosies, soos vrees of angs, ervaar word, kan dit ʼn paniektoestand by ʼn individu veroorsaak. As ʼn individu paniek ervaar, soek hy/sy ʼn oplossing, want dit is té geestelik en fisies uitputtend om vir ʼn lang tydperk in hierdie toestand te bly. Dit raak verstaanbaar hoe ʼn massapsigose maklik kan gebeur. Sosiale media en ʼn kruppel ekonomie het die massas ʼn minderwaardigheidskompleks gegee. Dít, gepaardgaande met ʼn fratsvloed van negatiewe emosies en nuus, is die perfekte kombinasie vir ʼn massa-ontnugtering van realiteit; ʼn totale misverstand van die brose ideologie wat ons samelewing aanmekaar hou.

Jordan B. Peterson skryf in sy boek, 12 Rules for life, die volgende: “Daar sal tye in jou lewe kom wanneer dit alles in jou sal verg om dit wat voor jou is in die gesig te staar, in plaas daarvan om daarvoor weg te kruip: ʼn waarheid só vreesaanjaend dat die enigste ding erger as dit, die leuens is waarmee jy dit wil vervang.”

In ʼn samelewing wat gedurig met valshede en fopnuus gebombardeer word, tesame met ʼn kruppel ekonomie, skep ons individue en ʼn toekoms wat in konstante vrees leef. Ons moet begin om die welvaart van die samelewing as geheel te genees, anders gaan die garing wat alles bymekaar hou, breek, en ons sal in ʼn grootskaalse massahisterie dwaal, wat groter skade kan aanrig as alle vorige kwale oor menslike geskiedenis heen; skade op só ʼn groot skaal dat ons nie sal kan terugkeer na “normaal” nie.

  • Sven R. Spangenberg is ʼn tweedejaarstudent in filosofie en sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
John Louis

Hele Covid pandemie niks anders as “Mass-formation” nie, georkestreër deur sinistere bose Nuwe Wêreldorde.

OW

Die mens se psige was nog altyd soos ‘n labirint.Dit wat jy in jou skrywe noem is niks nuut nie,en is so oud soos die mensdom self.Die Hitler regime het aanleiding gegee tot die grootste massa psigose in die moderne tyd.Die mens is egter die kroon van God se skepping en sal altyd ingewikkeld bly.Solank as wat die aarde bestaan sal dit so wees.

Groen Ghoen

Die filosofiese beginsels agter dit wat tans gebeur verstaan ek nie. Wat ek egter waarneem is dat die mens beweeg (word?) na ‘n tipe virtuele bestaan sonder menslike interaksie, waar alles wentel om flikkerende skerms, selfs nie eens inkopies meer gedoen word nie, en die massa sosiale media inligting en gedrag beheer. Deur jou digitale voetspoor word jy elke sekonde dopgehou. Een misstap en jy word “Gekanselleer.” Die implikasies is skrikwekkend. Lees gerus Huxley se “Brave New World.”