#JongStemme: Die leuen van die reënboog

Deur Albertus Liebenberg

Albertus Liebenberg.

Daar is vele waardevolle lesse uit die ryke geskiedenis van die mensdom te leer. Min is egter so relevant tot die hedendaagse Westerse samelewing soos die feit dat nasies mét mag nog altyd nasies daarsónder se kulture onderdruk en dikwels heeltemal uitgewis het.

Vir baie geslagte was hierdie ʼn algemeen erkende realiteit van die lewe en boonop een wat heel dikwels met die vergieting van baie bloed gepaardgegaan het. Die wat voor magte soos die Romeinse of Mongoolse ryke gesneuwel het, weet dit al te goed. Die wenners van oorloë het óf die verowerde nasies heeltemal uitgewis, óf hulle geïntegreer in hulle samelewings en op kulturele assimilasie aangedring. In ʼn Westerse samelewing waar gereelde oorlog nie meer aan die orde van die dag is nie, is hierdie realiteit egter nie meer so voor die hand liggend nie.

Vir die grootste deel van wêreldgeskiedenis was elke nasie daarvan oortuig dat hulle idees, waardes en gebruike nie net uniek is nie, maar in die meeste opsigte béter is as die van ander nasies. Gevolglik is dit nie moeilik om die morele regverdiging van die kulturele moord wat oorwinnaars uitgevoer het te begryp nie. Groot dele van ons Westerse samelewing het egter aanbeweeg van hierdie perspektief op kulture.

Die weste het al hoe meer moderne liberale waardes van verdraagsaamheid en inklusiwiteit begin aanhang, wat verkondig dat kulturele diversiteit iets is om te vier en ʼn sterkpunt vir enige land behoort te wees. Suid-Afrika se reënboognasiedroom is een van die grootste sprekende voorbeelde hiervan. Europa en Amerika is grootliks verantwoordelik vir hierdie idees en dit is deur groot segmente van hulle politici omarm. Gevolglik het hulle dikwels hulle grense baie liberaal vir vlugtelinge van ander nasies met uiteenlopende kulture oopgemaak – kulture wat baie min waardes, idees, norme en gebruike met die tuisland se oorheersende kultuur in gemeen het. Hulle is egter steeds ingenooi en verwelkom sonder enige voorwaardes van assimilasie.

Groot dele van ons Afrikaner-gemeenskap het na 1994 soortgelyke oortuigings aangeneem en vrylik ander kulturele waardes en norme in ons skole, universiteite en kerke aangeneem. Ander het uit skuldgevoelens vir die foute van die verlede dit eerder net geduld en geglo die invloed daarvan sou nie noemenswaardig wees nie.

Hoe verkeerd was ons Westerse samelewing egter nie. Dieselfde waarheid van groepe met mag wat die kultuur van die dag vorm, hou steeds water in vandag se tyd en is ʼn waarheid waarvan daar nie ontsnap kan word nie. Die inklusiwiteit-pendulum het só vêr omgeswaai dat mense van sogenaamde onderdrukte groepe gebaseer op ras, geslag en seksuele oriëntasie al hoe meer voorkeur in die samelewing geniet. Boonop glo hulle hul kulturele waardes verdien die morele hoë grond bo tradisionele Westerse waardes. Gevolglik gebruik hulle hul nuutgevonde magsbasis as ʼn fondasie van waar hulle die moderne Westerse kultuur hervorm, hoofsaaklik in ʼn postmoderne rigting – ʼn ideologie wat in feitlik alle opsigte die teenpool van die tradisionele konserwatiewe Westerse kultuur is.

Die invloed hiervan op beide Europa en Amerika raak al hoe duideliker. ʼn Kulturele oorlog is gebore. Die hervormers het egter nie hul mag met bloed gekoop nie, maar dis eerder aan hulle op ʼn skinkbord gegee deur die weste wat die waarde van sy eie kultuur vergeet het.

Vergewe my nog ʼn paar harde realiteite van meer onlangse wêreldgeskiedenis. Daar is ʼn rede hoekom diegene wie vandag hulle magsposisie geniet se nasies misluk het en daar is ʼn rede hoekom nog geen Afrika-land, ten spyte van die ongelooflike oorvloed van natuurlike hulpbronne, ʼn ekonomiese wêreldkrag kon word nie. Daar is ook ʼn rede hoekom die weste soveel meer rykdom gebou en onderhou het as enige ander kultuur. Alle kulture is nie dieselfde nie. Alle idees, waardes, beginsels, gebruike en norme wat aan verskillende kulture geheg word, is nie dieselfde nie.

Die Wes-Europese Protestante werksetiek het ʼn hardwerkende en gedissiplineerde kultuur help vorm wat uitnemendheid kweek – uitnemendheid wat nooit op “Afrika-tyd” bereik kan word nie. Konserwatiewe Westerse kulture kweek mans wat daarna streef om met verantwoordelikheid te leef. Sulke mans maak beter pa’s, leiers en rolmodelle vir hulle gemeenskappe. Hulle beskerm hulle gemeenskappe se vrouens en kinders. Hulle voorsien meer rykdom en stabiliteit. Daarenteen sukkel die meeste van Suid-Afrika se ander kulture baie met vaderloosheid, wat ʼn bose kringloop skep van mans wat moontlik sonder verantwoordelikheid grootword en dan aanhou om so te leef.

Verder beskerm beginsels soos gelykheid voor die reg individuele regte beter as gelykheid van uitkomste. Gevolglik word gemarginaliseerde groepe se regte juis beter beskerm. Regverdige en oop demokrasieë, privaat eiendomsreg en wapenregte is waardes wat ʼn meer standvastige, veilige en gelukkige samelewing skep as dié waarin mag na stamhoofde of enkele leiers gesentraliseer word.

Die Westerse kultuur is in feitlik alle opsigte beter en daarom bou diegene wie daarvolgens leef beter nasies en meer voorspoedige samelewings. Die reënboognasie was ʼn droom wat altyd verdeeldheid sou kweek omdat die verskillende groepe se kulture nie net van mekaar verskil nie, maar in baie opsigte ook teenstrydig is. Kultuur is egter iets wat aangeneem kan word en juis daarom is die grootste geskenk wat ons as Afrikaners hierdie land kan gee om trots te wees op ons kultuur, eerlik te wees oor die tekortkominge daarvan, en dit wat goed is met woord en daad te verdedig en uiteindelik met ons medelandsburgers te deel. Dit mag dalk net ons land van sy vele probleme help verlos.

  • Albertus Liebenberg het verlede jaar sy BComHons-graad in menslike hulpbronbestuur aan die Universiteit Stellenbosch ontvang en is tans besig met sy meestersgraad in dieselfde veld.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jack ·

Hierdie is ‘n baie waar woord wat ons as Afrikaners altyd moet onthou. Die samelewing wat in Suid-Afrika tussen 1948 en 1994 gebou is op op westerse christelike waardes het gemaak dat die land uitgeblink het bo enige ander land in Afrika en gereken was as ‘n ontwikkelde land, vergelykbaar met lande soos Australie en Nieu Zealand.
Liberalisme en die aanvaarding daarvan het ons waardestelsel groot skade aangedoen. Dit word bewys deur die stelselmatige verval wat sedert 1994 ingetree het met leiers wat Afrika waardes aangehang het en op ons afgedwing het.

Adriaan ·

n Uitstekende artikel wat verwoord wat baie dink maar nie altyd die moed het om hardop te sê nie. Ek dink die leuen van die reenboog loop parallel met die diktatorskap (of illusie) van demokrasie. Die liberale beginsel van een mens, een stem het toepassing in homogene bevolkings maar in gevalle waar die meerderheid kiesers se keuse deur etniesiteit bepaal word, gaan die minderheid altyd deur die meerderheid oorheers word. In kort, 4 wolwe en 1 skaap stem oor wat (wie?) vir aandete gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.