#JongStemme: Die moord op vryheid

Deur Albertus Liebenberg

Albertus Liebenberg.

“They may take our lives, but they will never take our freedom!” Dit was die bekende woorde van William Wallace in die fliek Braveheart.

Wat ’n radikale idee is dit nie dat ’n dooie man meer vry kan wees as ’n lewendige man nie? Dit laat mens wonder wat vryheid werklik is. As ons na die afgelope 100 jaar se Westerse politieke geskiedenis kyk, kan ons sien hoe ’n samelewing se idees van vryheid van die mees bepalende faktore in die identiteit, welvaart en geluk van daardie samelewing is.

Linkse politiek het verskeie name aangeneem tydens hierdie tydperk – als van kommunisme, Marxisme en sosialisme in die 1900’s tot moderne demokratiese sosialisme en postmodernisme. Die name het dalk verander, maar nie die ideologie nie. Die wêreld bestaan uit verdrukkers en verdruktes en al manier hoe die verdruktes werklike vryheid kan bereik, is as almal gelyk is. Die prys van hierdie vryheid, wat deur gesentraliseerde mag gevind word, was egter die verlies van miljoene lewens in die Sowjetunie, China, Kuba en vele ander lande. Dan praat ons natuurlik nie eens van die grootskaalse vernietiging van vryheid van geloof en spraak nie. Vandag sien ons dit in die vrye teuels wat die Black Lives Matter (BLM)-beweging gegee word om stede af te brand, rassediskriminasie soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie, die vergieting van ons ekonomie en die afbreek van tradisionele geslagsrolle.

Aan die anderkant het ons die konserwatiewe siening wat die linkse idee van vryheid wat op groepsidentiteit gebaseer is, verwerp en vryheid eerder op individuele vlak definieer. Gelykheid voor die reg word nagestreef eerder as gelykheid van uitkomste. Gevolglik het elke individu die vryheid om die vrug van hul eie keuses te pluk. Hierdie ideologie het miljoene uit armoede gelig en ongekende sukses en rykdom tot gevolg gehad vir lande soos die VSA, Brittanje, Duitsland en Israel.

Tog is daar baie suksesvolle mense in hierdie Westerse lande wat vasgevang en beperk voel. Die “American Dream” van die “Land of Opportunity” word aan hulle verkoop – niks en niemand staan in jou pad om jou beste lewe te leef en as jy hard genoeg werk nie. Baie bereik die sukses waarvan hulle gedroom het net om steeds vasgevang te voel in hul eie tekortkominge terwyl ander nooit eens daardie sukses behaal nie en net hulself daarvoor te blameer het.

Dit bring my terug by William Wallace se idee van vryheid wat nie eens deur die dood weggevat kan word nie. Dis ’n idee wat eens op ’n tyd die ruggraat van Westerse samelewing was en waarvan die fondamente met duisende se bloed gelê is. Hierdie duisende is natuurlik die volgelinge van Jesus Christus wat tot die dood toe vervolg was vir hul geloof en geweier het om hul vryheid in die politieke orde van die dag te soek. Hul idee van vryheid was selfs nóg meer radikaal as Wallace s’n – die idee dat die enigste werklike vryheid in slawerny is. Paulus maak dit in Romeine 6 duidelik dat ons óf slawe van sonde óf slawe van God is. Jesus het self in Matteus 16 vir sy dissipels gesê dat as hulle hom wil volg, hulle hulself sal moet verloën en hul kruis moet opneem.

Hierdie radikale idee dat die grootste bedreiging vir ons vryheid onsself en ons eie sonde is, was natuurlik nie die boodskap wat die Jode voor gehoop het in die Messias nie. Hulle het gehoop op ’n magtige politieke leier wat hulle vry gaan maak van Romeinse heerskappy, nie hulself nie. Ons as ’n Westerse samelewing het ons Christelike wortels al hoe meer begin verwerp en gevolglik dieselfde fout gemaak as die Israeliete van 2 000 jaar gelede. Ons het na politieke leiers begin kyk om vir ons vryheid te gee en gevolglik vergeet dat ons primêre bron van vryheid God en nie die regering is nie.

Moenie ’n fout maak nie, die konserwatiewe idees van individuele vryheid en kapitalistiese besigheidsbeginsels het sterk Christelike fondasies en, baie belangrik, vind die beste balans tussen vryheid en verantwoordelikheid, maar nóg Donald Trump nóg Che Guevara kan enige iemand werklike vryheid gee as hy ’n slaaf van homself is. Ook so kan niemand – nie eens die magsbehepte ANC – ons vryheid steel as ons dit in Christus vind nie.

  • Albertus Liebenberg het in 2019 sy BCom-graad in bedryfsielkunde aan die Universiteit Stellenbosch ontvang en is tans besig met sy honneursgraad in menslike hulpbronnebestuur aan dieselfde universiteit. Hy is baie lief vir sy kultuur en politiek en beoog om volgende jaar sy meestersgraad in arbeidsreg te verwerf.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.