#Jongstemme: Die nostalgie uit Suid-Oos Asië…

Deur Corli Henderson

Corli Henderson.

Die demografie van die Afrikanermeisie het verander. Potte aan die prut hou met netjiese voorskote aan, is lank vergete.

Sy ry deesdae branderplank deur die wêreld, grootoog en soms onseker, maar tog so vasberade, met nuwe lewenslus en passie wat haar hart lei, want die hunkering na trou en nesskop het verander na lus vir reis en vlerke sprei.

Op 21 April 2019 verlaat ek die land van melk en heuning. Braaf en dapper gee ek my vlugkaartjie en paspoort omstreeks 11 uur die oggend vir die vriendelike dame wat vir Cathay Pacific werk. Ek wonder of alles vlot sal verloop. Ons weeg my bagasie en ek hou my asem op. As my bagasie so swaar soos my hart is, gaan ek vir seker ekstra moet betaal. Baie ekstra. Ek staar na die dame en ek wonder of sy dalk die antwoord het. Hoe pak ek dan 25 jaar se liefde ook in, Mevrou?

Die familie daag op en dis glimlagte en foto’s, almal wil die laaste sê inkry en ek wonder hoe kan ek genoeg tyd aan elkeen spandeer voor ek deur die doeane moet gaan. Ons sluit die groet af met ‘n koffie – die laaste sluk bitter, maar ek dink dis omdat dit juis dit wat “laaste” was, voorspel het.  Nooit het daar ‘n gedagte by my opgekom dat daardie laaste slukkie koffie, laaste glimlag, laaste drukkie en grappie genoeg moes wees om so lank soos twee jaar (en steeds) te strek nie.

Drie en twintig uur later en 11 000 km verder en siedaar, ek is in Viëtnam. My nuwe “huis”.

Elkeen het hul gunstelingoomblik van reis, myne was toe ek tot die besef kom dat Viëtnam sy eie unieke persoonlikheid het. Dit was oorweldigend, die duisende poegies in die strate, sommiges wat jou rakelings mis terwyl jy op die sypaadjie wandel. Die humiditeit wat jou diep laat asem haal, die reuk van vars gekookte pho-sop by ‘n straatkafee. Warm bier en koeldranke, met groot stukke ys wat lyk soos haelkorrels.

Ek was skielik weer vyf jaar oud en onkundig. Alles was ‘n reeks interessante raaiskote.

Alhoewel Viëtnam ons met ‘n klapsoen en Hanoi-bier verwelkom het, bly dit ‘n onbekende wêreld vir beide jong man en vrou om hul geboorteland te verlaat en ‘n ander land “huis” te noem. Veral ons Afrikanerkultuur, met ons asseblief- en dankiemaniere. Ons bereidwilligheid om die ekstra myl te gaan en nie sommer nee te sê nie. Ons sokkie en ons biltong, ons lekker sêgoed en ons “Dames, sê my wat jou naam is”-musiek.

Ons grense bly gesluit en tyd saam met geliefdes gaan verlore, ‘n koppie tee saam met ouma of ‘n Afrika-sonsopkoms op jou beste vriendin se rondom stoep op die plaas is iets van die verlede. Ek laat my vanaand oor aan die nostalgie en neem die laaste twee jaar se vlerke sprei en reis in berekening, en die uitkoms is eenvoudig:

“Ek is ‘n trotse Suid-Afrikanermeisie en basta met verder vlerke sprei, ek mis my land en my mense en ek het ‘n hunkering om die pot aan die prut te kom hou in my eie taal.”

  • Corli Henderson is al twee jaar lank in die buiteland en weens die virus en al die omstandighede daar rondom kan sy nog nie terugkeer na Suid-Afrika nie. Sy gee skool in Viëtnam.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Geagte Maroela. ‘n Onderwyser gee nie skool nie. Die korrekte Afrikaans is hou skool. Ek sien dié fout oor en oor in baie van julle berigte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.