#JongStemme: Die onbekende wêreld van die H2A-visum

Deur Jayson Alex

Jayson Alex

Werk op die plase in Amerika kom dikwels in die oë van ʼn vreemdeling met ʼn bietjie van ʼn statussimbool en geheimsinnigheid. Wat doen ons werklik, en hoe is dit in die Land van Vryheid?

Ons word gesien (jonk en ouer) as van die beste, jong hardwerkende mans wat Suid-Afrika kan lewer, tog is dit net ons wat weet wat regtig agter die skerms aangaan. Stories en verhale by sosiale byeenkomste klink dikwels na oordrewe stories – sekeres daarvan is waar, ander nie.

Jy ontmoet manne van Somerset-Oos, Wolmaransstad, George, Langebaan, Kuruman, Louis-Trichardt en selfs Durban op die vliegtuig. Almal op pad na ander dele soos Montana, Texas, Mississippi, Suid-Dakota, Louisiana en New Mexico.

Spuitvliegtuie (Crop-dusters) wat laer as telefoondrade bo jou verbyvlieg om die boontjies met gif te spuit of die oorweldigende muskietbevolkings in toom te hou, is altyd ʼn opwindende gesig en herinner my aan die fliek Top Gun, maar net ’n boerderyweergawe daarvan. Glo my as ek sê die muskiete hier in die Mississippi Delta byt jou deur jou jeans en Jonssons asof hulle die verpakking van ’n KitKat aftrek.

Dae begin halfses elke oggend en eindig as die son ʼn hele paar uur terug gesak het. Jy gaan huis toe met pyne wat jy nooit gedroom het, bestaan nie. Bloed en sweet is daagliks ʼn vereiste en sagte hande word gou verander in skuurpapier en eelte. Moet my nie verkeerd verstaan nie, daar is lekker werk soos ploeg, plant, hark, baal, sny en walle optrek in van die nuutste trekkers wat geld kan koop, maar moenie vir een oomblik dink dis al hoekom jy hier is nie. Jy gaan nie elke dag in ’n trekker, trok of enige masjien wees nie.

Graaf swaai, bossies uittrek, “weed eat” in 37 °C of warmer, gif spuit, vloere vee, bakkie was, die boer se kinders se speelgoed was, skoonmaak in en rondom sy huis, sy trokke ghries, trekkers diens, heining opsit, poly-pyp lê vir water, bedrading lê, silo’s gelykmaak en vullis bymekaar maak. Hierdie is nie eens ’n druppel in die see vol take wat amper daagliks vir jou gaan voorlê nie, sou jy besluit om die “avontuur” aan te pak. Ek het al gehoor van baie manne wat nie hul trots kon sluk om die werk te doen nie en as gevolg daarvan teruggestuur is huis toe.

Ten spyte van als is dit ’n land wat jou verwelkom en eer as ’n bydraer tot hul leefstyl. Die tannie by die vulstasie sal jou dalk nog op ’n warm dag ’n gratis pakkie ys skenk net omdat jy jou mooi Afrikaner-maniere toepas soos wat vir jou geleer is as kind.

Vir dié van ons wat al langer as drie jaar so deurgebring het, is daar wel ’n duur les wat jy eers later leer, indien nie vroeër nie. Die verlange na jou ander helfte, jou familie en jou vriende. Ja, die eerste nege maande is alles opwindend en nuut en daar is baie om te deel en sien. Maar ná jare se verlore verjaarsdae, herdenkingsdae, begrafnisse en troues, word jy gebombardeer met gedagtes van “Is dit die moeite werd teenoor als wat ek verloor?”

Hoe sit jy ’n prys op tyd met jou vrou, kinders en geliefdes? Die antwoord is eenvoudig: jy kan nie.

Ons dollars kan nie die tyd terugkoop of die hartseer omkoop nie. Ons word in sommige mense se oë gesien as helde, vlagdraers en leiers wat generasie ná generasie bewys dat ons ou landjie nog steeds tops is met jong mans van inbors wat kan. Maar… teen watter prys?

  • Jayson Alex werk tans as ‘n stroper in die Mississippi Delta.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vrijburger ·

Alles maar alles in die lewe het ‘n prys. En nie net altyd in geldwaarde nie.
Elke indiwidu moet self bepaal watter prys hy of sy bereid is om te betaal.
Onthou, die alternatief (in jou geval om nie in die VSA te werk en spaar nie) het ook ‘n prys.
Texas groete.

JJB ·

Pragtige gebalanseerde artikel. Sterkte vir ons mede burgers in die buiteland. Kom terug as jul jul pad oopsien. Ons het jul ook nodig!

Danny ·

SO het elkeen van ons ons tassie wat ons saamdra, afpak en meestal oorvol pak en saamsleep – en die vraag sal maar altyd bly ‘is dit die moeite werd’, ongeag in watter bootjie jy reis. My bors brand dat ons eie land ons eie mense nie gun waarvoor ons werk nie. Ons jongmense is ons toekoms, waar sal dit tog gaan stilstaan? ‘wanneer jy besluit het teen watter prys jy dit gaan doen’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.