#JongStemme: Die onderwyskrisis en Covid-19

Deur Frans van Schalkwyk 

Frans van Schalkwyk. Foto verskaf deur Hoërskool Rustenburg.

Oudpresident Nelson Mandela het eenkeer gesê: “Education is the most powerful weapon which you can use to change the world.”

Hy kon enige woord gebruik het, maar hy het besluit op “onderwys”. Ek is van mening dat die oordrag van akademiese kennis te gereeld verwar word as die alfa en omega wanneer dit by onderwys kom, veral nou in hierdie staat van inperking. Dit is hoog tyd om skole oop te maak – vals gevare soos massa-infeksie van leerders en waterige oplossings soos aanlyn akademie is nou lank genoeg voorgehou.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, aanlyn onderrig en die voorskryf van werk is seker die beste opsie wat ons gehad het tydens die inperking en dis ook ʼn goeie instrument om seker te maak die top 1% bly min of meer by met die kurrikulum. Moet egter nie jouself ʼn rat voor die oë draai deur te dink dit maak op vir verlore onderrig tyd nie.

Ons kyk immers nou vir die eerste keer in weke uit ʼn ander oogpunt na die Covid-19-pandemie en die gevolge wat dit teweeggebring het, as die angsbevange uitkyk wat ons in die vroeë stadiums daarvan gehad het. Belangrike vrae ten opsigte van die effektiwiteit en wettigheid van sommige maatreëls gedurende die inperking word nou vir die eerste keer gevra.

Hoe langer ons met die verbod op skole aanhou, hoe meer beroof ons die leerders van waardevolle onderwysgeleenthede wat van kardinale belang vir hul ontwikkeling as adolessente is. Ek is bewus daarvan dat sommige mense argumenteer dat die sluiting van skole talle lewens gered het en dit dalk steeds doen, maar hiermee stem ek egter nie saam nie. Daar is hope bewyse dat die rol van die jeug in die verspreiding van Covid-19 minimaal is, dus was dit nooit regtig ʼn bedreiging vir leerders nie en dit is ook nie so ’n groot bedreiging vir die mensdom soos wat die regering jou wil laat glo nie.

Suid-Afrikaners sit met baie meer dodelike en gevaarlike bedreigings waarmee hulle elke dag moet lewe, maar die regering sou nie baie gewild wees as hulle alle ekonomiese en sosiale aktiwiteite stop om hierdie bedreigings die hoof te bied nie.

Dit bring my terug by die effek wat dit op ons as die klas van 2020 tot dusver gehad het en nog gaan hê. Matrieks was vir seker op ʼn tuimeltrein van emosies die afgelope paar weke. As jy net die media dophou, is dit duidelik: onsekerheid, vrees en angs sal vir ewig die klas van 2020 kenmerk (bygesê hierdie is emosies waarop die media vir seker floreer).

Dit sluit nie eens die verlies van sekere sogenaamde “laastes” soos eerstespanwedstryde en verskeie seremonies, wat met die laaste jaar van jou skoolloopbaan gepaard gaan, in nie. Die grootste verlies bly egter steeds dié van opvoeding.

Die ou cliché is toe waar, mens weet nie wat jy het tot jy dit verloor nie. “The direction in which education starts a man will determine his future in life.” – Plato

  • Frans van Schalkwyk is ‘n matriekleerling aan die Hoërskool Rustenburg. Hy is in 2019 as die beste spreker aangewys en was deel van die algehele wenspan van die ATKV Nasionale Debatkompetisie vir hoërskole. Frans dien vanjaar op sy skool se leierskorps as sportvoorsitter.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ‘n meningstuk wil skryf, stuur ‘n e-pos na [email protected] en ons kontak jou graag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.