#JongStemme: Die orkaan Matriek-2020

Deur Kayla Vogler

Kayla Vogler.

Orkaan Eloise het ons almal onkant betrap, van Gauteng tot die Karoo. Winde, vloede en donderweer het gesorg vir planne wat omver gegooi is en skade wat herstel moes word, maar soos die wyses sê: Ná elke storm, sien ons tog ’n reënboog.

Min het ons besef dat hierdie orkaan ’n groter metaforiese betekenis het as wat ons gedink het. Oor presies ses dae kry die Matrieks van 2020 hul uitslae en Eloise is geen pasmaat vir die warrelwind van emosies wat ons op die oomblik beleef nie. Die laaste twee maande was ’n tuimeltrein van onsekerheid en verwarring. Die matrieks van 2020 se Instagram-blad, matricmemes_2020, het onlangs ’n plasing gemaak oor die tipes studente wat wag vir hul uitslae. Ek het dit baie humoristies gevind en wou dit graag deel.

  • Die Clueless: hierdie persone het al vergeet hulle wag vir hul uitslae en loop rond asof hulle alreeds ’n sertifikaat langs hul naam het;
  • Die Netflix-er: hierdie persoon het Netflix klaar gekyk, daar is nie een film of reeks wat hy/sy nog nie gesien het nie;
  • Die Stresbol: diesulkes word elke oggend wakker met dieselfde angs as voor wiskunde vraestel 2;
  • Die Akademikus: hierdie persoon het intussen ’n nuwe taal of vaardigheid aangeleer en was waarskynlik Dux-leerling op skool ook;
  • Die Fiksheid Freak: hulle het nie aan een periode van LO prakties deelgeneem nie, maar is nou die Spiertier op straat, net uit blote verveeldheid; en laastens
  • Die Werker: hulle was voorbeeldig en het ’n werk gesoek om die tyd om te kry terwyl hulle wag vir uitslae.

Dit maak nie saak onder watter kategorie jy val nie, dit maak nie die stres minder nie. Asof dit nie erg genoeg was om gedurende ’n pandemie matriek klaar te maak nie, voel dit vir jou asof jou eie pandemie nie end kry nie, want hier sit jy nog en wag vir die finale bevestiging dat jy dit gemaak het. Kan jy glo ons sit so baie vertroue in ’n sertifikaat?

Met dit gesê, of jou eksamennommer die 23ste Februarie in die koerant verskyn of nie, onthou net dat die laaste mense wat matriek in ’n pandemie moes klaarmaak, nou tussen 118 en 120 jaar oud is en dus nie veel raad kon gee nie.

Ons matriekjaar was dalk nie so fantasties soos High School Musical s’n nie, maar deur Zoom, Teams en Google Classroom het ons ons eie herinneringe gemaak en wees verseker, geen generasie gaan ons ooit vergeet nie.

Om op te som is daar twee gesegdes wat ek saam wil voeg: “When you come out of the storm you won’t be the same person that walked in. That’s what the storm is all about.” En “There are some things you can only learn in a storm.”

Matrieks van 2020, julle het die storm oorleef en daaruit geleer. Gaan nou uit in die wêreld en skop al die storms se G*T!

  • Kayla Vogler, het in 2020 matriek klaargemaak en gaan hierdie jaar BCom in regte swot by die Universiteit van Pretoria.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.