#JongStemme: Die problematiese denkwyse van Just Stop Oil

Deur Jacques van der Merwe

Just Stop Oil in protes by ‘n Shell (Foto: Just Stop Oil/Twitter)

Vanaf die blokkering van die hoofweë tot die vandalisering van antieke kunswerke in kunsgalerye, is Just Stop Oil se aksies besig om rep en roer in die Westerse wêreld te maak. Is daar logika agter die waansin met hierdie spul? Of is dit net nog ʼn valse groen beweging wat mense beetgekry het?

Just Stop Oil is volgens hul webwerf ʼn Britse omgewingsbewustheidsgroep wat poog om ʼn einde te bring aan die lisensiëring en produksie van fossielbrandstowwe. Die groep gaan te werk met niegewelddadige protesaksie – dit sluit in die vertraging van verkeer, onderbreking van sportbyeenkomste en burgerlike ongehoorsaamheid, om net ʼn paar te noem. Hulle motief is om aandag te vestig op die klimaatskrisis.

Besoedeling wat lei tot klimaatsverandering is wel iets wat nie onderskat moet word nie. Die probleem wat egter ontstaan, is hoe hierdie aktiviste die situasie benader. In hulle pogings om klimaatsverandering te beklemtoon, het hulle ʼn groot irritasie in die samelewing geword. Selfs die regering in die Verenigde Koninkryk moes nuwe wetgewing promulgeer om wet en order te handhaaf wanneer dit kom by protesaksie.

Hier is ʼn paar probleme wat die Just Stop Oil-aktiviste nie in gedagte hou nie.

Eerstens het motorbedrywe regoor die wêreld begin om weg te beweeg van petrol- en dieselaangedrewe motors na ʼn meer elektriese toekoms. Moderne enjins sal stelselmatig vervang word met herlaaibare litiumbatterye. So eenvoudig is dit ook nie – die ontginning van die skaarsmetaal litium is waterintensief en boonop, net soos enige ander ontginningsproses, skadelik vir die omgewing.

Tweedens is die mens se afhanklikheid ten opsigte van olie en fossielbrandstowwe problematies. Vanaf die produksie van ons klere tot die grimering op ons gesigte, is olie teenwoordig. ʼn Skielike staking in olieproduksie sal beslis ʼn hewige impak hê op die wêreld se ekonomie. Dit sal alle vordering wat die mens tot dus vêr gemaak het om weg te breek van niehernubare hulpbronne in die duisternis dompel.

Derdens, as die lisensiëring en produksie van olie en fossielbrandstowwe die probleem is, moet hierdie “aktiviste” eintlik hulle aandag toespits op die olieproduserende en -uitvoerende lande (OPUL+). Hierdie kartel is verantwoordelik vir omtrent 38% van die vervaardiging van ru-olieproduksie in die wêreld. Daar is ʼn morele lafhartigheid by hierdie aktiviste omrede hulle net in die veilige vangnet van die Westerse wêreld betoog. Ironies genoeg het die Weste ʼn beter reputasie met die vermindering van besoedeling teenoor China en Indië, wat die meeste besoedeling ter wêreld produseer.

Laastens, daar is ʼn tegnologiese gaping tussen die state van die globale Noorde en Suide. Die state wat wel hulle koolstofvoetspore kan verminder, verloor in elk geval die stryd teen klimaatsverandering omdat armer state steeds afhanklik is van fossielbrandstowwe om hul ekonomie aan die gang te hou.

As ons hierdie krisis wil oorbrug gaan dit meer koördinasie van state vereis om tegnologiese deurbrake en bevindings te bevorder.

Die beter oplossing sal wees om aan te dring dat regerings van die wêreld op die produksie van sonpanele, windturbines en hernubare energiebronne soos elektrobrandstof (efuels) fokus. Dit sal ideaal wees as die vroeër genoemde hernubare bronne in grootskaalse produksie gemaak word. In plaas van dat ons dadelik fossielbrandstowwe en olieproduksie afskaf moet ons díe hulpbronne gebruik om hernubare energiebronne te maak. Dan sal die mens vinniger wegbeweeg van olie. So om jou hande op teerpaaie te plak help nie die omgewing nie.

Hoe ʼn mens ook na die situasie kyk, die mensdom is nog baie afhanklik van fossielbrandstowwe en om die klimaatprobleem op te los, gaan nie oornag verander kan word nie. Dit is ʼn stelselmatige proses wat dekades neem en alle state se samewerking benodig.

  • Jacques van der Merwe is ‘n student in Politiek, Filosofie en Ekonomie en het ‘n groot passie vir geskiedenis en politiek.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die olie piek is reeds bereik. Met ander woorde, die koers waarteen olie boorgate uitgeput word is hoër as die koers waarteen nuwe boorgate olie lewer. Saudi Arabië bou reeds ‘n nuwe ekonomie wat wegbeweeg van fossiel bronne. Ander olielande sal volg. Aan die aanbodkant is hernubare bronne belangrik. Maar verwag ook veranderinge aan die vraagkant. Byvoorbeeld, motors in privaat besit kan in stedelike gebiede verbied word. Net elektriese busse en taxis word toegelaat.

De Villiers ·

Daar is letterlik ‘n amper onbeperkte hoeveelheid olie op hierdie aarde van ons en daar is geen manier hoe ons dit ooit sal op gebruik nie!

Ons moet meer fossiel brandstof gebruik, nie minder nie!

Republikein in die Wes Kaap ·

Die groot probleem vir olie groepe is dat die boorgate waar olie vir ‘n paar dollers per vat uitgepomp kon word grootliks reeds uitgeput is. Nuwe boorgate se bedryfskostes neem toe en winsgrense word vinnig gesny deur dalende oliepryse wat sensitief is vir geopolitiek. En die kwaliteit is swak, veral suur en dik olie wat rafferingskostes opjaag. Raffineerders is oud en min nuwes word gebou. Daar is nog heelwat olie onder die seebodem, maar dis ingewikkeld en duur om uit te pomp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.