#JongStemme: Die reg om te kies uit 11 tale

Jan-Adriaan du Plessis is ‘n rekeningkunde student. Foto: Verskaf.

Deur Jan-Adriaan du Plessis

Ons land se Grondwet onderskryf die beskerming van minderheidsregte en vryheid van keuses. Om keuses te kan maak, is ook een van die fundamentele regte van ‘n gesonde demokrasie.

Een van ons fundamentele regte is om te kan kies watter taal ons praat. In die gees van inklusiwiteit het die regering elf amptelike tale goedgekeur. Ons land se demografie weerspieël ook hierdie meertaligheid. Soos die Grondwet tereg lui: “Elkeen het die reg om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse waar daardie onderwys redelikerwys doenlik is”.

Teenstrydig hiermee, het die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR, oftewel SAICA) aangekondig dat hul eerste nasionale kwalifiserende eksamen van 2022 af slegs in Engels beskikbaar gestel gaan word, terwyl die tweede kwalifiserende eksamen reeds vanaf November 2019 slegs in Engels beskikbaar gaan wees. Dit beteken die vraestelle en gevallestudies gaan slegs in Engels wees en studente is dan ook verplig om alle geskrewe antwoorde in Engels te gee. Dit kan tans in beide Afrikaans en Engels geskryf word.

Deur toe te laat dat organisasies soos SAICA hul taalbeleid na slegs Engels verander, in ‘n land waarvan die regte van elf amptelike tale erken word, is ‘n hartseer dag vir sogenaamde vooruitgang – dit is net nóg iets wat weggevat word. Hierdie selfde organisasie kan ook progressief wees deur byvoorbeeld saam met ʼn universiteit soos UKZN daaraan te werk om die eerste vraestel in 2022 in Zulu bekend te stel. Ander universiteite, soos die NWU, het dalk die kundigheid om ‘n vraestel in Setswana beskikbaar te stel?

Op 21 Augustus 2019, doen die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande ʼn beroep op universiteite om Afrika-tale te bevorder. Waar word hierdie oproep van die minister deur SAICA se besluit ondersteun? Nee. Word die Grondwet eerbiedig? Nee. Word meertaligheid bevorder? Nee. Het Suid-Afrika se jong rekeningkunde graduandi die vryheid van keuse oor ‘n taal? Nee.

Engels word gebruik as ‘n gerieflike en oorvereenvoudigde oplossing om voorsiening te maak vir ‘n meertalige samelewing.

As Afrikaanssprekende student wil ek graag inklusief leef. Ek wil graag help dat ander tale bevorder word. Ek wil deel wees van ‘n kreatiewe gemeenskap waar ons almal bydra tot die skep van nuwe woorde om al elf amptelike tale te laat groei. Ek wil ook graag toegelaat word om trots te wees op my eie taal. Ongelukkig maak hierdie taalbesluit van SAICA dit nie moontlik nie.

Hierdie taalbesluit sê in wese: “Kom ons verminder mense se keuses. Kom ons verminder hulle regte om te kan kies in watter taal Suid-Afrika se studente hul kennis kan weergee”.

Dit stuur ook ‘n baie negatiewe sein na universiteite wat nog plek laat vir meertaligheid. Ironies genoeg meld SAICA in dieselfde skrywe waarin hulle aankondig dat Afrikaans weggevat word, dat hulle meertaligheid ondersteun en daarom besig is om woordelyste vir rekenkundige terme in ander tale te ontwikkel – om mense te help om die Engels beter te verstaan!

Die besluit om net na Engels oor te skakel, is ‘n direkte weerspreking van die ontwikkeling van meertaligheid.

Dit gaan oor baie meer as net die skryf van ‘n vraestel in Engels. Dit gaan oor ons reg om ‘n keuse te kan uitoefen. Ons wil graag ons demokratiese reg gebruik om dit wat vir elke individu kosbaar is, te behou.

  • Jan-Adriaan du Plessis is ‘n rekeningkunde student.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jerry ·

Die demokrasie en grondwet en meertaligheid is alles wat die skrywer se dit moet wees. Die feit dat dit nie so is nie beteken bloot dat opofferings ten koste van almal gemaak word om eers gelykheid onder alle Suid Afrikaners te bevorder met Engels as amptelike hoof onderrig taal. Wanneer ongelykhede op akademiese gebied uitgewis is, dan behoort daar weer na die ontwikkeling van meertaligheid gekyk te word. Tans moet daar ter wille van vrede en gelykheid sekere opofferings gemaak word, vrywillig of geforseerd. SA sal nie vorentoe beweeg sonder versoenende opofferings nie! Minderheidsgroepe soos die Afrikaner sal aanpas, indien die wil om aan te pas bestaan. Of die Afrikaner aanpas of nie, die Afrikaner gaan homself eersdaags midde in n kapitalistiese sosialistiese staat en samelewing bevind en as jy in Afrika is dan maak jy soos die afrikane maak, anders gaan jy aanhou onwelkom voel!

Gert ·

Kapituleer jy maar op jou eie Jerry, daar is van ons wat staan op ons regte.

$ ·

Jerry, jou kommentaar maak nie sin nie. Daar is geen gelykheid as een uit 11 amptelike tale se sprekers in hul moedertaal mag studeer en eksamen aflê nie. Of is Engelssprekendes meer ‘gelyk’ (dus verhewe) as ander? Ek kan glad nie sien hoe jy van gelykheid kan praat as een taal se moedertaalsprekers blatant bo al die ander voordeel trek nie.

AndrewL ·

Jerry, jy glo steeds die feëverhaal van wigte en teenwigte se beskerming.

Kobus ·

Minderhede kan nie eis nie. Gaan woon eerder in ‘n land waar jy deel is van die meerderheid.

Jimmy ·

Ander oplossing, die westelike gedeelte van die land moet wegbreek en ‘n konfederasie vorm soos voorgestel deur die VVA. Dan sal daar ruimte wees vir Afrikaans op alle vlakke.

Expat ·

Doen jou eksamens in Engels, dit sal jou beter voorberei vir oorsee werk. Praat Afrikaans by die huis, werk in Engels, dis glad nie meer vreemd nie.

Therese van Schalkwyk ·

Puik skrywe, Jan-Adriaan du Plessis!
Stilswye uit studentegeledere oor die onreg teen Afrikaans, is onvergeeflik.
Voorspoed met jou studies en ignoreer gerus enige onsinnighede oor “minderhede sonder regte” en “ongelykhede wat eers uitgewis moet word”. Verál as dit vanuit die buiteland kwytgeraak word.

Soos jy sê, Afrikaans, as gevestigde akademiese en handelstaal, kan in die nuwe bedeling ‘n reusebydrae lewer om ander inheemse moedertale te help ontwikkel.
Daar sal geen uitwissing van ongelykhede wees terwyl skoolkinders en studente in swak Engels onderrig word i.p.v. hul moedertaal nie. Of hierdie feit ooit gaan deurdring tot anti-Afrikaanse akademici, is ‘n ope vraag.

Jerry ·

Hoe versag jy die aanslag teen jou vryhede en regte? Deur daar waar die aanslag plaasvind teen onverdedigbare vryhede nie weerstand te bied nie, maar versoenend op te tree en versoenend op te offer. Deur versoenend op te tree versag jy die aanslag, deur weerstand te bied verhard jy die aanslag. Is die Afrikaner gereed vir n verharde aanslag wat konflik sal insluit? Nee die Afrikaner is nie gereed nie en die wie se dat die Afrikaner is gereed, leef in n droomwereld, die dat hulle weerstand bied met onverdedigbare vryhede soos die vlag!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.