#JongStemme: Die regering besluit ook wie jy mag vereer

Deur Frans de Klerk

Die beeld van Wolraad Woltemade voor Old Mutual se kantore in Kaapstad. (Foto: Verskaf)

Hoe eet ʼn mens ʼn olifant? Stukkie vir stukkie. Dit is al byna die gevoel wat ʼn mens kry as Afrikaner in Suid-Afrika. Stukkie vir stukkie begin dit wat vir ons kosbaar is, verlore gaan.

Teen dié tyd behoort die meeste lesers reeds op datum te wees met die onlangse gebeure rakende Wolraad Woltemade, die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en Old Mutual. Ek som graag op.

Op 8 Mei 2023, rig die FAK ʼn versoek aan Old Mutual se hoofkantore in Kaapstad om ʼn kranslegging te hou by Wolraad Woltemade se standbeeld op hulle terrein. Old Mutual keur hierdie versoek af in die volgende skrewe:

“Ons erken ontvangs van jou versoek gedateer 8 Mei 2023. Ons is egter nie in staat om dit na te kom nie. As ’n besigheid wat verteenwoordigend is van ’n diverse verskeidenheid kulture, is ons baie bedag op hoe ons erfenis vier en eer, beide in Suid-Afrika en regoor die Groep. Oor die algemeen pas ons ons kultuur- en erfenispraktyke en -vieringe aan by nasionaal gemandateerdes, wat beide ons werknemers en die kliënte en gemeenskappe wat ons bedien, insluit. Hierdie beginsel geld ook vir al ons eiendomme.”

Die FAK sou egter nie hierdie miskenning van ʼn Suid-Afrikaanse held bloot net aanvaar nie en was vinnig om die reaksie aan die publiek te openbaar. Baie mense was geskok deur Old Mutual se reaksie en het daarop gewys dat Old Mutual destyds deur die regering befonds is en dat die publiek toegang tot die standbeeld behoort te hê. Ander was glad nie verbaas nie en het Old Mutual se reaksie vergelyk met soortgelyke gevalle by Dis-Chem en Coca-Cola.

Donderdag, 1 Junie, presies 250 jaar na Wolraad Woltemade se heldedaad en sterfte, versamel die FAK tóg ʼn groepie om ʼn krans te gaan lê. Enkele persone uit die publiek, verteenwoordigers van AfriForum, FAK en Solidariteit kom die middag bymekaar om Woltemade te herdenk. Ook word ʼn platform geskep vir mense om virtuele kranse te lê – aan die eenkant om vir Suid-Afrikaanse burgers die geleentheid te bied om ʼn Suid-Afrikaanse held te vereer, en aan die anderkant dien die platform as ʼn bewys van publieke opstand teen kulturele miskenning. Meer as 500 mense het reeds ʼn virtuele krans hier gelê.

Op Donderdag, 1 Junie, presies 250 jaar na Wolraad Woltemade se heldedaad en sterfte, gaan lê die FAK ʼn krans by sy standbeeld. (Foto: Verskaf)

Die kranslegging by Old Mutual se kantore verloop vlot. Tóg hang daar ʼn gevoel van ongemak in die lug. Op pad na die standbeeld, met ʼn blomkrans in die hand, voel ʼn mens onwelkom. So lank as wat ek op die Old Mutual-terrein was, heers daar ʼn atmosfeer van vyandigheid. Wanneer ons ons hoofde buig vir ʼn oomblik van stilte, voel ek onveilig.

Is dit werklik waar ons is vandag in Suid-Afrika? Is hierdie bekommernisse die tipe dinge om oor te dink terwyl jy net ʼn blommetjie by jou held se beeld wil neerlê? Waarom word gevalle soos dié as normaal beskou?

Die antwoord is bloot omdat ons dit as normaal aanvaar. Stukkie vir stukkie eet mens ʼn olifant – stukkie vir stukkie aanvaar ons die nuwe normaal.

Gelukkig kan ons ook van hierdie uitdrukking gebruik maak. Ons moet plek-plek opstaan vir onsself. Al is die uitdagings hoe groot, as ons nie ons eie beskerm nie, gaan niemand dit doen nie. Gegewe groot organisasies wat ons kultuur misken en gegewe groot politiese uitdagings wat soos berge voor ons lê, vier ons die klein oorwinnings – stukkie vir stukkie eet ons die olifant, en skep ons eie normaal.

  • Frans de Klerk is ‘n jong Oraniër en veldtogbeampte by die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). Volg hom gerus op Facebook, Instagram en Twitter (Frans de Klerk, frans_de_klerk77, FransdeKlerk77 afsonderlik).

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Frans, jy werk vir die FAK. Dit moet ‘n fees wees. Die res van ons is in die ware wêreld met daaglikse diskriminasie. Dis erg, werklik erg. Werk aan langtermyn planne om ons ook te help.

Lourens ·

Waarom word gevalle soos dié as normaal beskou?
Die antwoord is bloot omdat ons dit as normaal aanvaar.

Uitstekend gestel:

Marthinus W ·

Wat is n olifant? n Muggie volgens Swart Ekonomiese Bemagtings-vereistes. Ek sien vandag All Gold se tamatiesous het nou net n Engelse naam; die Afrikaans is verwyder.

Nettie ·

“…heers daar ʼn atmosfeer van vyandigheid. Wanneer ons ons hoofde buig vir ʼn oomblik van stilte, voel ek onveilig.”
WOW WOW WOW.
Iemand wat senstief genoeg is om die atmosfeer aan te voel EN dit te verwoord! Reguit, sonder doekies omdraai. Baie dankie, Frans.

Miskien voel jy dit meer aan as ander oor jou meer beskermde omgewing. Dalk is jy net vanself sensitief. SO baie mense is nie en besef dit nie. Of hul is verhard, want hul werk midde in hierdie vyandigheid en skud dit af as “hul verbeelding” of “onmoontlik”.

Maar ek voel dit ook. Elke dag. Dis dik in ons atmosfeer. Orals waar ek gaan. En dit maak my bang…. want mense besef nie wat aan die gebeur is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.