#JongStemme: Die stryd teen eenvormigheid

Deur Nicolas Rust

Nicolas Rust.

Almal het teen nou al gehoor van die konflik tussen Israel en Palestina. Wat minder sal weet, is dat dit al vir dekades afspeel. Hoekom tref dit nou eers die massa se ore? Dis te danke aan sosiale media, natuurlik.

Ek wil net voorlopig noem dat ek geen menings aanval of voorskryf in hierdie stuk nie, ek doen slegs ʼn persoonlike ondersoek in die gebruik van sosiale media as ’n bron van menings.

Ons sien so af en toe ’n onderwerp wat soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei. Dis anders as ’n video of ʼn foto wat baie kyke het – dis ’n denkwyse of ’n mening. Hierdie wapen is die maak of breek van ons samelewing.

Dit is sleg volgens my opinie omdat dit die verkeerde manier van redeneer vertoon. Sosiale media gee selde redes vir menings, en die kere wat daar ʼn redenasie verskyn, lees die meerderheid van die gehoor dit nie. Dit doen presies wat ek tans probeer vermy, dit skryf menings voor.

Natuurlik is daar altyd ’n uitsondering op die reël, maar ek kyk na die neigings. Hierdie gaan blatant teen vryheid van denke en spraak. As jy iets verkeerd sê, is jou reputasie daarmee heen. Jy word vriendelik verplig om saam te stem in plaas daarvan dat ’n volwasse debat kan verloop. Die onenighede wat wel volg, het meer in gemeen met ʼn skreegeveg as die ontwikkeling van denke. Vermaak met die hoop op vordering, kry meer aandag as die streef na vordering.

Nog ’n rede hoekom ek sterk gevoelens hierteenoor het, is die verskynsel van “relevante deugde”. Mense vergeet hul argumente om aandag aan die nuwes te gee. Dit is wel vooruitgang, my probleem lê by die vergeet van die vorige onderwerp. Net omdat mense ophou praat oor iets, beteken nie dis verby nie, en baie onderonsies word nie eers reg afgehandel nie.

Hierdie lei tot die sieklike siklus van geskiedenis. Die kwessie van rassisme kom oor en oor na vore, maar verdwyn nooit weens die toestand waarin die gevolgtrekkings gelos word ná dit die rondtes gedoen het nie. Byvoorbeeld, ons praat al die jare oor die einde van rassisme, maar dit kom nog altyd voor.

Nietemin, sosiale media help soos niks tevore met die verspreiding van inligting. Talle individue sou glad nie van die Israeli-/Palestynse konflik geweet het nie. Daar is gevalle van mense in Israel (Palestyne) wat nie die redes agter die geweld verstaan het nie, en hulle word nou eers ingelig.

Ek glo dat al word die kwessies nooit werklik opgelos nie, gee ons elke keer ’n paar tree in die regte rigting.

Ter opsomming, sosiale media is ʼn wonderwerk as dit gebruik word om inligting en data op die regte manier te versprei, maar is ʼn nagmerrie omdat dit waardes vir mense aanleer sonder ʼn nagedagte. As ons ʼn toekoms wil vermy waar mense slegs eggokamers is, moet ons leer om te debatteer.

  • Nicolas Rust het grootgeword en bly steeds op ’n appelplaas buite Grabouw in die Wes-Kaap wat hy as ’n besonderse voorreg sien.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Daar was vroeèr jaaare darem reeds koerante en boeke van papier. Mense het toe baie gelees en die radio het jare gelede begin nuus uitsaai, so daar is nog ‘n paar mense lewendig wat hierdie outydse manier van nuus-oordrag ervaar het. En natuurlik Bybelse geskiedskrywing en voorspellings. Dit tov Israel en die Palestyne. Die raad om geen mening te huldig en bloot nonsens op die internet kwyt te raak het erger gevolge as om jou sè te sè, natuurlik in goeie smaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.