#JongStemme: Die Suid-Afrikaanse demokrasie se silwer herdenking

rohann-eloff

Rohann Eloff. Foto: Verskaf.

Deur Rohann Eloff

Met die dat Suid-Afrika se demokrasie 25 word vanjaar, het ek dit goed gedink om oor ons land se silwer herdenkingsgeskenk te skryf. Bygesê dit is ’n leuen om dit ’n geskenk te noem, maar eerder ’n simbool wat bevestig dat ons tans besig is om sleg tweede te kom in Suid-Afrika. Politici polariseer ons nasie, ideologieë, eerder as kwesbare mense, word beskerm en ons stem vir die beter een van drie euwels.

Dit is oor hierdie laaste punt waaroor ek vandag wil skryf.

Die afgelope jaar was ek (en ek glo die meeste Suid-Afrikaners) gekonfronteer met die ongemaklike vraag: “Vir wie gaan jy stem in 2019?”. Dit is ongemaklik, want die keuse lê tussen groot partye wat vir ons al verraai het en kleiner partye wat ’n sogenaamde “mors” van ’n stem sal wees. Of so sal die politieke kenners in jou sosiale kringe vir jou sê. Frases soos “Ja, hulle staan vir die regte beginsels, maar hulle gaan niks in die parlement kan bereik nie” en “Ek sal seker maar vir hulle stem… Ek het nie rêrig ’n ander keuse nie” is in die volksmond en dit is baie kommerwekkend, want dié frases getuig van die toestand van ons demokrasie. ’n Demokrasie vol van mense wat hul kruisies trek volgens historiese lojaliteite of tweede keuses in plaas van ’n ooreenstemming van politieke waardes met persoonlike waardes.

Vir ’n hele ruk het ek oor hierdie vraag nagedink. Spesifiek oor die idee dat ’n stem vir ’n kleiner party as ’n mors gesien word. Ek glo nie dat ’n stem vir ’n kleiner party noodwendig ’n mors sal wees nie. Ons bly in ’n land wat polities divers is en gebruik maak van proporsionele verteenwoordiging – die diversiteit behoort dus in ons parlement gesien te word, maar ek sien dit nie. Dit is natuurlik as gevolg van blinde lojaliteit, maar deesdae is ’n ander faktor die idee van ’n gemorste stem wat ook bydra tot die probleem.

Om volgens jou waardes en ooreenstemmende beleide te stem, mag dalk ’n idealistiese stelling wees wat te kort skiet op ’n praktiese vlak, maar ek glo daar lê baie waarde daarin. Om dienooreenkomstig te stem, sal ’n oorwinning wees vir die verteenwoordiging beginsel van ’n demokrasie. ’n Politiese leier van ’n kleiner party mag dalk die geleentheid gegun word om jou mening meer akkuraat in die parlement te uiter en te verteenwoordig. Gevolglik sal ons minder te doen kry met die gevoel van verraad van politieke partye wat eintlik ons tweede of derde keuses is. Ek is ook oortuig daarvan dat as almal wegbeweeg van die gemorste stem-idee, sal ons dalk verras wees met een of twee setels wat deur kleiner party verkry sal word.

Hoe setels toegeken word, is ook ten gunste van kleiner partye. Ter illustrasie het die ANC 45 931 stemme per setel behaal in die 2014-verkiesing. Agang SA het, in vergelyking, 26 175 stemme per setel behaal wat byna die helfte per setel is. ’n Verdere verrassing sal die onverwagse ooreenstemming van beleide en waardes wees wat gedeel word deur Suid-Afrikaners oor die rasse- en kulturele grens.

Die verkiesing maak ons opgewonde – dit bied ’n ekstra vakansiedag en gaan Suid-Afrika se lot bepaal. Meer as dit, gee dit aan elke Suid-Afrikaner die geleentheid om vir sy of haar verteenwoordiging te stem. ’n Stem wat “gemors” kan word op ’n party waarmee jou waardes strook, wat moontlik ’n setel of twee kan behaal indien almal volgens hul waardes stem en tot beter verteenwoordiging sal lei. Óf ’n stem vir jou tweede of selfs derde keuse-party wat nie heeltemal by jou waardes pas nie, maar prakties ’n beter opsie is om die ander te opponeer.

Suid-Afrika benodig verandering in hoe ons stem. ’n Meer vloeibare kieserskorps is nodig wat kan beweeg van party tot party sonder om te voel dat hulle hul stem mors of lojaliteit verbreek. Suid-Afrikaners moet stem volgens beginsels en waardes wat met hulle s’n strook. Dit is tog hoe ’n demokrasie werk en dit is hoe ons demokrasie kan werk.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

  • Rohann is tans ʼn finalejaar LLB-student aan UP, hy is sedert 2018 afrigter van UP se Afrikaanse debatspan en het in 2017 as wenner by die nasionale universiteitedebatkompetisie uit die stryd getree.  Hy hou van Pretoria, leergoedere en Vrydae.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Barry H ·

Dankie, Rohann!

Nou moet ons maar wag en sien of die mense reg stem!

John ·

… en so ploeter ons Afrikaners voort. Die oorlewingsmetode van intelligente mense is om aan nuwe maniere te dink om die krisis te vertolk, bv dat indien die regering uit ‘n korrupte meerderheid bestaan dan moet mens jou emosies temper deur na kleiner partye te kyk en dan maar vir ure in die tou gaaan staan om vir die armste man/party jou baadjie te gaan gee. So doen jy goed (en ons lees ‘n versie uit die Bybel ter stawing). Hierdie hele verkiesing van begin tot einde het geen gewag gemaak van die Skepper van hierdie stukkie aardkors nie. Vanaf die ANC en DA word beloftes gemaak oor dinge uitdeel wat eintlik deur die Vader verskaf word, maar in SA is ons die skeppers en gewers. G’n wonder dat die vullishoop se ou blikkies in die verte blink nie.

Griet ·

Weet jy,John,geneig om saam te stem!
Dié land,die grond behoort aan Hom.
Hy moet nou maar DOEN soos Hy Goed Dink en Wil…maar totale BEHEER ook oorvat, omdat geen leier,geen party, geen mens, ons meer KAN red nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.