#JongStemme: Die Suid-Afrikaner

MP Fourie. Foto: Verskaf.

Deur MP Fourie 

Wat is ’n Suid-Afrikaner? Watter taal praat hy? Aan watter kultuur behoort hy? Wat is sy tradisies, en wat is sy volksverhale?

Die vrae is interessant (of ten minste interessant vir my), want mens kan hulle nie regtig maklik antwoord nie. “Suid-Afrikaner” blyk om net ’n woord te wees wat aandui in watter land jy bly, en nie enige iets dieper nie.

En tog is ek een. Tog is “Suid-Afrikaner” baie meer as net my paspoortklassifikasie. Dit is my kultuur. Dit bevat my drome, en my hoop. Dit bevat my geskiedenis, en my waardes. Maar die kernvraag: Is ek nog steeds ’n Afrikaner?

Dit is ’n werklike en aktuele probleem, want ons stel so maklik Afrikaner teenoor Suid-Afrikaner. Ons voel ons word gevra om tussen die twee te kies. En dit doen die Afrikaner net skade – soveel van veral die jeug, gekonfronteer met dié keuse, kies Suid-Afrikaner.

Ek kan nie fout vind by dié wat die keuse maak nie – hoe dan anders as jy so ’n ultimatum gegee word? Nee, ek vind die fout by dié wat aandring daarop dat ’n keuse gemaak moet word. Kultuur is nie ’n geslote sisteem nie – of ten minste hoef dit nie te wees nie, behoort dit nie te wees nie. As ’n kultuur enigsins blywende waarde wil hê, moet dit kan verander, moet dit kan verbeter.

Die Afrikanerkultuur dra so baie waarde – maar nie as ons dit soos sementblokke aan ons voete bind nie. Nie as ons weier om die donker dele daarvan raak te sien en uit te sny nie. Ek wil deel wees van ’n kultuur wat dinamies is, nie staties nie. Een wat nie te hardkoppig is om vorentoe te kan gaan nie.

Verstaan mooi, ek sê dit nie omdat ek Afrikanerskap haat nie, maar omdat ek Afrikanerskap hoog ag. Ek sê dit nie om alles wat deel maak van ons kultuur te verwerp nie, maar juis om die goeie daarvan te kan bewaar. Daar is baie wat kosbaar is in die Afrikaner – waarop trots gewees kan word. Maar ons moet eerlik wees met onsself en sien dat daar ook dele is van die Afrikaner waarop ons nie kan trots wees nie – ’n hardkoppigheid, ’n aggressie, ’n ontevredenheid wat te maklik mond kry.

Die tyd het gekom om na ons kultuur te kyk – ’n kultuur waarvoor ons baie lief is, maar wat ons moet erken al baie seer veroorsaak het. Om eerlik te wees oor die gedeeltes waaroor ons skaam is, en om trots te wees op die gedeeltes wat goedheid en prag dra. As ons eienaarskap wil aanvaar vir die woord Afrikaner (en ek dink ons wil), dan moet ons die verantwoordelikheid opneem om dit wat dit verteenwoordig, te verbeter en vooruit te vat.

Want hier is die eerlike waarheid: Ek wil nie kies tussen ’n Afrikaner wees en ’n Suid-Afrikaner wees nie. Maar as ek geforseer word, kies ek Suid-Afrikaner elke keer.

Ek sien meer ooreenkomste tussen die mense van Suid-Afrika as verskille. Daar is baie wat ons onderskei, en ons kan trots wees op die verskille, maar daar is baie meer wat ons bind. Dit is wanneer ons vasklou aan ons verskillende groepe, dat die gapings gevul word met vrees, met aggressie, met agterdog.

Die begrip Suid-Afrikaner is nie net ’n nasionaliteit nie, en dit behoort ook nie in teenstryd met Afrikanerskap te wees nie. Dit is tyd dat ons trots die woord opneem as kultuur.

  • MP Fourie is ‘n finale jaar BCom Regte student aan die Universiteit van Pretoria en beplan om sy LLB in 2022 te voltooi.  Hy is in die Vrystaat gebore, maar is vroeg in Pretoria geplant en daar laat staan.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frm ·

Sny jy maar uit wat jy wil dan sal jy mooi inpas by die new world order.

Charles ·

Die “Politiese-indoktrinasie Sentrums” (voorheen bekend as Staatsuniversiteite) kwyt hul blykbaar, te oordeel aan die skrywer se artikel, uitstekend van hul taak.

Die probleem met die post-millennier geslag, of die wat in die laaste jare van die 1990’s gebore is, is dat hul argumente dikwels nie rasioneel beredeneerd, logies en REALISTIES is nie, maar uit emosiebelaaide drogargumente bestaan.

Mnr Fourie, ‘n bietjie raad aan jou: gaan vra vir Professor Koos Malan van die Dep. Publiekreg of daar werklik – buiten ‘n staatskundige begrip daarvan – enigiets soos ‘n “Suid-Afrikaner” bestaan, as jy wil weet of jy die regte spoor is of nie.

Gert ·

Dankie Charles, beter kan dit nie gestel word nie. Ek dink die media speel ook ‘n rol, en die nuwe skoolkurrikulum.
Ten minste kies ek nog reg tussen daardie twee opsies.

Jerry ·

Die kern van MP Fourie se skrywe is om Afrikanerskap en die regte wat daarmee gepaard gaan te beskerm deur Suid Afrikaner te kies. Deur Afrikanerskap en regte aan die groot klok te bly hang bly die Afrikaner en die se vryhede n teiken. Hoe moeilik is dit om te verstaan? Afriforum/Solidariteit lok die aanslag teen Afrikanerskap en die se regte uit, omrede die aanslag die Afrikaner uitgesluit laat voel en hulle hul dus wend tot Solidariteit se selfbeskikkingstrewe. Afriforum/Solidariteit gebruik Afrikanerskap en die se regte om n sakeryk te bou, nie vir die Afrikaner nie, maar vir Afriforum/Solidariteit! Dit is hoekom jongmense soos PM Fourie hulself distansieer van Afriforum/Solidariteit, dit is om Afrikanerskap te beskerm teen blatante arrogante uitbuiting van Afrikanerregte en vryhede vir n rasgebaseerde ideologiese motief en geldelike gewin! Die ANC se aanslag teen Afrikanerskap word dus deur Afriforum/Solidariteit vererger en uitgebuit vir die bou van n rasgebaseerde ideologiese sakeryk!

Hans ·

Die daaglikse werklikheid sal skrywer tref sodra hy sy studies voltooi het-dan het die woord Suid-Afrikaner geen waarde nie,dan geld bee ens wetgewing.

Erik ·

Beste HP

Dankie vir jou eerlike brief. Ek is sowat 20 jaar ouer as jy en stem saam met jou skrywe. Ek is ‘n Afrikaner, en meestal trots daarop, maar sak ook soms my kop in skaamte. En nes jy, sal ek eerder myself, as ek moet kies, ‘n Suid-Afrikaner as Afrikaner noem.

Moet egter nie veel positiewe kommentaar verwag op MM nie. Baie lesers hier is nie objektief nie en sal ek beskryf as ‘verkrampte’ Afrikaners.

Die meeste Suid-Afrikaners, van alle rasse, is vriendelik en behulpsaam en wil ‘n positiewe verskil maak in ons land. Ons gee te veel aandag aan klein reaksionistiese minderheidsgroepe.

Merkur ·

Wat aan ´n Suid-Afrikanerskap is so positief vandag, dat ´n Afrikaner dit nie wil opgee nie?
(Buiten ´n samehorigheidsgevoel onder Afrikaners wat weer sterker word.)

Charles ·

Dankie vir jou insette en saampraat uit Duitsland uit Merkur, die politiese byderwetse en naïewe ouens hierbo sal ongelukkig heel waarskynlik nie ‘n antwoord op jou vraag kan bied nie. Groete vanuit Afrikanerland : )

Ik ben een Africaander!

Merkur ·

Hallo Charles. Ons gaan ons Afrikanerland weer opbou. Geestelik is ons reeds besig.
Groete terug uit Duitsland van ´n Afrikaner in murg en been.

Daniel ·

Die ironie van die kommentaarafdeling wat MP se punt bewys. Die mense wat MP kritiseer dat hy gesamentlik as Suid-Afrikaner en Afrikaner identifiseer en hom nie daardie ruimte gun nie bewys sy puny dat jongmense verkeerde like gedwing word om ‘n binêre keuse uit te oefening.

Tweedens, lyk my dat ek ‘n wanbegrip het oor wat vryheid beteken, veral as ek so na die mense in die kommentaarafdeling luister.

Staan dit nie MP vry om gelyktydig as Suid-Afrikaner en Afrikaner te identifiseer nie?

Afrikaners moet besef dat selfbeskikking nie slegs beperk is tot kulturele selfbeskikking nie maar dat selfbeskikking op grond van waardes en beginsels net so geldig is.

Merkur ·

Om waardes en beginsels te moet hê word nie bestry nie, maar dit werk nie net in die een rigting nie. As daar nie wedersydse respek is nie, is selfbeskikking ´n noodsaaklikheid.

Boer ·

Probeer eers jou eie mense red, wat n reuse poging gaan verg, voordat jy 50 miljoen plus probeer red. Wat jou nie gevra het om hul te red nie…. Ek sien logika ontbreek en naiwiteit seevier. Jy gaan nie altwee kan behou nie. Dit is twee uiterste teenoorgestelde pole.

Fanie ·

In Rugby word daar altyd gesê: “speel die bal en nie die man nie’. Oortuig eerder die jong man met goeie argumente as om sy ontwikkelende denke af te skiet. MP, die denker Thomas Hobbes het die moderne staat met die “Leviatan’ vergelyk. Ongelukkig het die moderne SA-‘statisme’ ‘n monster geword wat dink die mense bestaan vir die staat, ipv andersom. Dis hoekom die regeerders (dienaars) heersers word. Daarom is Staatsburgerskap in ‘n land soos ons inherent totalitêr van aard, want die multikulturele werklikheid moet gestandaardiseer word in ‘n monokulturele staatsburger. Ek kies eerder vryheid as SA -burger, Afrikaner, Afrikaan en Westerling in Afrika.

Kallie ·

‘n Suid Afrikaner is ‘n burger van SA. Dis al. Hier is nie ‘n nasie nie. Die gedrog SA moes nooit bestaan het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.