#JongStemme: Die toekoms is sosialisties

Deur Rynhard van Zijl

Rynhard van Zijl.

As die “Rooi Gevaar”-alarms nie reeds blêr nie, dink jy miskien aan ’n Skandinawiese of Sentraal-Europese welsynstaat met meer belasting en ander vorms van sosiale sekerheidsnette. ’n Vol(rooi)bloed sosialis sal egter nie heeltemal met jou saamstem nie en beaam dat sosialisme vir die toekoms bedoel is.

Die naaste praktiese voorbeelde van sosialisme vandag is nie werklik sosialisties nie. Sosiale demokrasieë word eerder beskryf as revisionistiese vorms van sosialisme wat nie die sosialistiese produksiemetode voorstaan nie. Hierdie lande is vir alle praktiese doeleindes steeds kapitalisties; hulle pleit vir ‘n hervorming van die huidige status quo, nie ‘n volledige oorgang van kapitalisme na sosialisme nie.

Ons huidige produksiemetode, kapitalisme, maak voorsiening vir privaat eienaarskap van die produksiemiddele, dit wil sê privaat (produksie) eiendom soos fabrieke en ander werkplekke. Met kapitalisme kan enigiemand (met voldoende kapitaal) ‘n besigheid skep en produseer wat hy wil, sonder plig om werk te verrig en sonder enige verpligting teenoor die res van die samelewing.

Hierdie onstabiliteit word seker die beste deur Karl Marx beskryf wanneer hy oor die ekonomiese krisisse van kapitalisme skryf. Kapitaliste versag dié krisisse as “skaars” of “binnekort die laaste”, maar dit is ver van die waarheid af.  Marx voer aan dat kapitalisme onder ‘n krisis van oorvloed, eerder as tekort, ly.

Moderne produksie is eenvoudig té effektief. Ons produseer te veel – veel meer as wat ons moontlik kan gebruik. Dis so effektief dat ons ‘n huis, ‘n motor, genoeg kos en water aan almal op aarde kan gee, sowel as gratis toegang tot ‘n goeie opvoeding en gesondheidsorg. Tog, as ons kyk na berekeninge van die Wêreldvoedselprogram (WVP) is daar meer as 795 miljoen mense in die wêreld wat nie genoeg kos het om ‘n gesonde, aktiewe lewe te lei nie. En volgens die Global Campaign for Education het meer as 70 miljoen mense nie toegang tot onderwys nie. Dit, terwyl die aarde oorbenut word. As ons net dinge produseer wat ons benodig, eerder as, byvoorbeeld, 15 verskillende soorte gebottelde water, sal baie min van ons eintlik hoef te werk, asook toegang verleen tot ’n kwaliteitlewe vir meer mense wêreldwyd.

Sosialisme sien die teenstrydigheid raak en stel ’n nuwe stelsel van verspreiding en organisasie voor wat bepleit dat die produksiemiddele, verspreiding en uitruil van goedere deur die gemeenskap in sy geheel, en nie deur private individue nie, besit en gereguleer moet word. Kapitalisme begin al hoe minder sin maak in ’n post-behoeftige samelewing.

’n Paar belangrike notas om in gedagte te hou:

  • As jy bang is dat die sosialiste by jou huis gaan inbreek en jou televisie gaan neem omdat privaat eiendom afgeskaf is, kan jy gerus slaap omdat “privaat eiendom” nie dieselfde is as “persoonlike eiendom” nie. Privaat eiendom verwys na produksiemiddele (fabrieke, masjinerie, ensovoorts), terwyl persoonlike eiendom verwys na die dinge wat jý besit. Jou huis, jou motor en jou televisie is alles persoonlike eiendom en behoort aan jou onder sosialisme;
  • Alhoewel die Nazi Party Nasionaal-Sosialisties genoem is, was dit nie sosialisties nie. Die Nazi’s bevorder ‘n korporatistiese, klassesamewerkings-ideologie wat hulle “sosialisties” genoem het in ‘n poging om werkersklasondersteuning te verkry (sosialisme was destyds ‘n uiters gewilde idee in Duitsland). In die praktyk het Nazi-Duitsland die grootste deel van die ekonomie geprivatiseer, onafhanklike vakbonde onwettig gemaak en kommuniste, sosialiste en sosiaal-demokrate in konsentrasiekampe geplaas saam met ander “ongewenste” burgers soos Jode, mense van kleur, gestremdes, ensovoorts.
  • Sosialisme steun demokrasie. Geen stadium van sosialisme benodig ‘n diktatuur (diktatorskap) nie. Sosialiste pleit egter vir ‘n sogenaamde “diktatuur van die werkersklas”, wat nie verwar moet word met ‘n werklike diktatuur nie. In die Marxistiese teorie het alle samelewings wat ekonomiese klasse het, ook ‘n diktatuur van een van daardie klasse. In die kapitalistiese samelewing het die bourgeois-klas politieke mag oor die werkersklas, en daarom kan die kapitalistiese samelewing ‘n diktatorskap van die bourgeoisie genoem word. Aan die ander kant veronderstel die sosialistiese samelewing om deur die werkersklas regeer te word, en word dit dus die heerskappy van die werkersklas genoem. Dit bestaan egter net in die sosialistiese samelewing. In die kommunistiese samelewing, wat klasseloos is, is daar nie ‘n diktatuur van ‘n spesifieke klas nie; en
  • Sosialisme stel steeds voor dat meer werk meer krediet verdien. ‘n Dokter dra meer by tot die samelewing as wat ‘n skoonmaker doen, dus kry die dokter meer. Albei benodig steeds kos, water, ‘n huis, gesondheidsorg, opvoeding, miskien ‘n motor, ensovoorts. Die dokter kan egter ‘n paar mooier goed, meer vakansietyd of vrye dae, minder ure en ander kostelose voordele bekostig. Daar is ook die uitgangspunt dat onbelangrike posisies soos “skoonmaker” dalk nie eens bestaan onder sosialisme nie, en dat die plig om skoon te maak onder die mense binne ‘n sekere gemeenskap gedeel sal word (soos byvoorbeeld ‘n werkplek of ‘n woonbuurt).

Sosialiste glo nie dat kapitalisme inherent boos is nie, of dat dit nooit gebruik moet word nie. Inteendeel, as jy ’n sosialis sou terugstuur na ’n tyd van feodalisme voor die Industriële Revolusie, sal hulle ongetwyfeld die instelling van die kapitalistiese produksiemetode steun. Kapitalisme het wêreldwye produksievermoë onteenseglik verhoog, en die lewenstandaard van miljoene mense wat vroeër die lande vir feodale verhuurders bewerk het, verbeter. Maar net soos tegnologiese vooruitgang voortduur, moet die samelewing voortgaan, en sosialiste glo dat kapitalisme ‘n verouderde stelsel is. Hulle glo nie dat kapitalisme die finale produksiemetode is nie, en dat kapitalisme vervang moet word. Kapitalisme is polities, ekonomies en ekologies onvolhoubaar.

Maar tot belasting nie meer ’n wrokbetaling is nie, bly hierdie seker verregaande…

  • Rynhard van Zijl is ’n BPharm-eerstejaarstudent aan die NWU. Hy is ’n inwoner van Veritas-manskoshuis.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Spook ·

My maaitjie, waar het jy van die bus af geval? Jy droom, sosialisme is die ondergang van die wil om iets vir jouself te doen, want die regering gaan vir jou sorg. Op een of ander stadium gaan die regering se geld opraak, want niemand produseer meer nie en niemand werk meer nie. Almal lê op die welsynstoelaes rond en doen niks. Lekker man, lekker.

Sosialisme is alles goed en wel, maar op ‘n stadium gaan die ander mense se geld ook opraak. dan is almal in Tamatiestraat. Jy swot aptekerswese. Is jy bereid om vir dieselfde geld te werk as die kruiwastoter, want waarvoor swot jy dan? Dink weer. Eendag as jy groot is, is sosialisme nie meer ‘n goeie idee nie.

Spook ·

Jan, ek het. Maar helfte van Finland is nie werkloos nie, en ook nie bereid om op hulle agterente te sit en wag vir welsyn nie.

Luister ·

Finland is juis hoe regte sosialisme is, Spook! Dit wat jy in Suid-Afrika sien, is nie regtig sosialisties nie. Het jy hierdie stuk hierbo volledig gelees en verstaan wat sosialisme nou eintlik beteken?

Pieter ·

Nee wat Boetie, jy is duidelik nog nie lank genoeg in die lewe nie. Veral nie Suid Afrika nie. Jy sal regtig die wat jy geskryf weet moet hersien oor so 10 Jaar van nou as jy groot is. Dan kan ons lekker gesels en jy n beter idee het. Sterkte met jou toekoms.

Marthinus W ·

Hoekom mense soos Rynhard altyd verkleineer, net omdat hy `n mening het om te lug? Dit het niks met ouderdom te doen nie, maar denke.

Luister ·

Weereens het die oompie nie gelees wat die boetie te sê het nie. Hy praat duidelik nie van Suid-Afrika nie.

Barend ·

Die regering se geld kom van belastng. As niemand hoef te werk nie, wie gaan die een soort water bottel. O ek het vergeet, die feetjies

Sterling ·

Hierdie klink uiters baie soos daai verbeur: “…maar dit was nie regte sosialisme nie”.

Op dieselfde trant kan mens dan ook aanspraak maak daarop dat daar nog nooit ‘regte’ kapitalisme was in die wêreld nie.

Ongetwyfeld is die skyn-kapitalisme beter as skyn-sosialisme, want ons het praktiese voorbeelde daarvan. All voorbeelde van sosialisme het egter gefaal. Die groot vb van sosialisme het almal na ‘n mengelmoes van ‘n onsuiwer sosialistiese-kapitalistiese ekonomie oorgegaan. As mens bv. in ag neem die veranderinge wat die Soviet Unie en Sjina ondergaan het.

Enigste plek wat werklik nog ‘ware’ sosialisme beoefen is Noord Korea. Hmmm, hulle het ‘n diktator…so ook nie ware sosialisme nie. Seker dan eerder Kuba. Hulle gerbuik die $ as geldeenheid, so afhanklik indirek van America (soos ‘n kolonie).

As ‘n BPharm student, glo ek jy wil die mensdom help. Tog sal ek jou deskundighied op hierdie gebied van ideologië bevraagteken. Nietemin, gaan voort en ontwikkel die idee! Sterkte!

Luister ·

Jy verwys na voorbeelde van kommunisme en nie sosialisme nie. Die skandinawiese lande soos Swede en Finland is beter voorbeelde van sosialisme of dan skyn-sosialisme. Hoop jy leer ook bietjie hieruit.

Fritz ·

As jy iets ordentlik gedoen wil hê, doen dit self. As jy iets vrotsig gedoen wil hê, vra jou familie/vriende/samelewing/regering om dit vir jou te doen. GEEN regering kan so goed vir my sorg soos ekself nie. Nie n ANC, DA of VF regering nie. Selfs nie eens n volkstaat regering nie. So ja, wees maar sosialisties en plaas jou vertroue in ander mense. Ek sal maar kapitalisme aangang en 100% vir myself sorg ( en 0% vir ander mense sorg).

Sias ·

Kapitalisme sorg dat jy verantwoordelikheid vir jouself need op ‘n kompeterende basis. Hoe kleiner die regering hoe beter. Hoe meer privatisering hoe beter. Amerika werk want kapitalisme werk. Waneer ‘n besigheidsman eienaarskap neem in sy eie besigheid, maak hy ‘n sukses daarvan. Dis tyd dat regerings klein word en minder vir mense voorskryf hoe om te lewe. Met ander woorde tyd om ontslae te raak van nanny states.

Craig ·

Of mense saamstem met jou opinies, al dan nie, dink ek dit vat moed om so ‘n skryfstuk met die wêreld te deel. Moenie dat ander jou ontmoedig om jou sieninge te openbaar nie. Welgedaan met ‘n goed nagevorsde artikel!

Andrew ·

Nou vir die wat oplet, die millennials is in meerderheid sosialiste en ek is bevrees dit lyk of daar n einde gaan kom nie. Hulle is soldate vir die regmaak van n verlede wat hulle nie verstaan nie. Hulle is soldate vir regte wat nie bestaan nie en sukkel om met hul lewens emosies te handel omdat hulle geleer is almal is “equal” en moet n goue medalje ontvang omdat jy darm jou naam in half gebroke engels kan uitspreek. Dit is duidelik te sien uit die haat-agtige manier hoe die “progressive’s ” in amerika mense met geweld dwing om die knie te buig. Gedwing word om alles waarvoor hulle gewerk het, tot jou opvoeding , met een knie buig weg te gee. Neewat, my generasie is geleer jy voeter terug as iemand jou goed wil vat.

Haan ·

Soos in 1994? Toe jou generasie die ‘jonges’ was? Jy skeer almal deur dieselfde kam meneer. Ek is bevrees u ly aan ‘juvenoia’

Deon ·

Ek is n Christen, in die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien…. Ek voel half jammer dat ons kinders so andersom begin dink, miskien n goeie ding om anders te dink alhoewel ek nie saamstem nie met hierdie spesifieke “anders” dink nie. Ek wil net noem, as jy verniet kry dan kan dit enige tyd gestop of weg gevat word…. Ek is nie n bedelaar nie en wil nie bakhand staan nie. Ek wil ook nie n luigat sponsor nie. Ek voel dat dit bevredigend is vir enige persoon om te presteer en dan daarvoor vergoed te word. Die wat geen ambisie, wil, of lus het om te presteer nie moet dan ook sodanig daarvoor vergoed word. Daar is te veel mense in die wereld wat net wil he sonder om n vinger daarvoor te lig, ons kan dit duidelik in ons eie land sien. So, lig jou stert, kap jou klip en eet jou eie bakkie pap.

Jaun ·

Mnr van Zijl, moet asseblief nie van studierigting verander nie: bly asseblief by aptekerswese.

Marthinus W ·

Elke land, of dit nou Noord-Korea of Engeland is, het gedeeltelik sosialisme/kommunisme. Polisie, Brandweer, Ambulans, Depte van Waterwese, Gesondheid, Kultuur, ens word deur die regering geborg en betaal. Daarom het staatsamptenare berugte lae salarisse.

In die Sowjetunie was die leuse “Dra by volgens vermoë, ontvang volgens behoefte”.

Waarmee ek met Rynhard saamstem, is dat daar te veel goedere geproduseer word. Ons leef in n era van oorproduksie, oordaad, en massiewe vermorsing van hulpbronne. Hoekom 1 miljoen yskaste bou as daar slegsn behoefte na 100 000 is? En vervaardigers bring gedurig `n “nuwe”, “beter” yskas na vore. Dit beteken dat jy as koper gedurig bankrot gaan wees, want jy voel verplig om gedurig op te gradeer.

Andrew ·

1 miljoen yskaste word gebou omdat 1.4 biljoen sosialiste in china moet betaal word.

Luister ·

Moenie sosialisme met kommunisme verwar nie. Glad nie dieselfde ding nie, alhoewel kommuniste van sosialistiese idees gebruik maak.

Luister ·

Rynhard, ek is seker die enigste wat insien wat jy probeer sê. Die ideologie bly egter ‘n droom, want baie mense is geprogrammeer om oneerlik te wees en sal so ‘n sisteem nog steeds uitbuit en nie hulle kant bring nie. Dit is juis die aanhangers van kapitalisme wat nie hulle samewerking sal gee nie en hulle verstaan nie wat jy sê nie. Dit is hoekom jy nou so aangeval word.

Louis ·

Rynhard, ek hoop jy kan nog ’n stukkie skerp kritiek verdra, maar hierdie kom darem vanaf ’n koshuismaat (en -senior).

Jou droom: “Sosialisme steun demokrasie” is ongelukkig vals. Sosialisme kan hoogstens politieke leiers demokraties verkies, MAAR, die ekonomie is totalitêr. Wanneer “…ons net dinge produseer wat ons benodig, eerder as, bv, 15 verskillende soorte gebottelde water,” en die “…produksiemiddele, verspreiding en uitruil van goedere deur die gemeenskap in sy geheel, (staat!) en nie deur private individue nie, besit en gereguleer moet word…” dan gaan ons helaas gebuk onder diktatorskap van watervoorsiening. In ’n vryemark: as Bonaqua vandag ’n swak/onbekostigbare produk lewer, STEM die publiek môre reeds eerder vir Valpré – dít is demokrasie (mag aan die mense). In teenstelling: as die sosialistiese staatsbotteleerder ’n swak/onbekostigbare produk lewer moet ons vir vier jaar dors bly voordat ons ’n beter produsent kan instem – dit klink nie vir my na pret nie…

Luister ·

Hoekom dink mense dat ‘n sosialisme enige iets met ‘n sentrale diktatorskap te doen het? Niks word deur die staat besit nie! Dit behoort aan die mense. Die “staat” kan bloot demokraties verkose mense wees wat hulle land in die wêreld veteenwoordig en die “staat” besit geen bates nie. Sosialisme beteken dat mense vir mense gebottelde water produseer en nie hulself probeer verryk ten koste van ander nie. Sosialisme sê dat as daai groepie mense nie bereid is om goeie kwaliteit water te produseer nie, vervang hulle met die wat dit wel onbaatsugtig sal doen.

Bernard ·

Baie eenvoudige voorbeeld – Porsche of Trabant – die kiddies van die twee uiteenlopende ouerpare

Gideon ·

In ag genome die sosiaal-politieke groepering van hierdie forum se lesers, dink ek die plasing van hierdie artikel is sommer net moeilikheidsoek. As julle dan wil “stir”, sit sommer net ‘n foto van max du preez op. Ek onthou Veritas . . . dis mos een van daai meisieskoshuise op die PUK?

Riana ·

Jes 3:12 Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. O My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak.

Lian ·

Nee, dis nie soos dit in die praktyk werk nie. Die destydse opstokers en nou die regering in al die lande waar Sosialisme toegepas word , het hulleself ten koste van die populis verryk . Net nou en dan ry hulle rond in hulle weeldemotors , maak ‘n paar opruiende toesprake en dan is die gepeupel tevrede , alhoewel hulle nie kos of werk het nie . Kyk maar net wat het gister in Bloemfontein gebeur.

Dehan ·

Die probleem kom in waar jy sê “sonder ‘n verpligting aan die res van die samelewing” jammer my vriend maar dis maar die lewe, ek sorg vir myself en jy vir jouself. Kan sien jy is in Veritas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.