#JongStemme: Die tyd vir praat is verby

Deur Reuben Coetzer

Reuben Coetzer.

FACTA NON VERBA … nee ek gebruik nie kru taal om uiting aan my gevoelens te gee nie, dit is Latyn vir DADE NIE WOORDE NIE. Die tyd vir praat is verby, want die uurglas is stadig maar seker besig om leeg te loop. Die tyd het aangebreek vir elke Suid-Afrikaner, oud en jonk, wat nog glo dat hierdie ʼn land van eindelose geleenthede is, om tot vreedsame aksie oor te gaan.

In die afgelope paar weke het ons in ons geestesoog gesien hoe die land van ons drome, ideale en geleenthede in vlamme opgaan. Die donker kant van Suid-Afrika waarteen dié wat reeds geëmigreer het ons tot vervelens toe gewaarsku het, het uit die skadu’s na vore getree. Selfs dié wat nog gewik en weeg het of hulle moet emigreer of nie, het nou finaal besluit om die spreekwoordelike Rubicon oor te steek voordat hulle aan daardie kant waar drome slegs deur rokerige glasoë aanskou gaan word, vasgepen gaan word.

Suid-Afrika is die laaste paar weke deur ʼn kriminele gepeupel gyselaar gehou. Anargie het ʼn nasionale tydverdryf geword. Wetstoepassers het, soos Lot se vrou van ouds, versteen gestaan en toekyk hoe die land kaal gestroop word. Dit het opnuut weer ʼn groot klagtegolf regoor die land laat spoel waar talle Suid-Afrikaners hulle kommer oor die toekoms van hierdie land uitgespreek het en opnuut begin wonder het of daar werklik nog ʼn toekoms vir die geslag van môre sal wees.

Só word daar toe weer ʼn platform geskep vir die meerderheid wetsgehoorsame, patriotiese Suid-Afrikaners wat hulle diversiteit wil koester. Probleemoplossings word om braaivleisvure gekweek en nie-verkose politieke aktiviste skiet in die werksplek en kampusse op – die sogenaamde stille meerderheid. Om probleme om braaivleisvure op te los is alles goed en wel, maar dit gaan met alle respek geen verandering aan die verskroeide situasie waarin ons land homself tans bevind, bring nie. Kom ons wees, vir eens en altyd, ʼn bietjie eerlik met mekaar. Ons land het die rand van die demokratiese afgrond bereik. Hierdie is waarskynlik die laaste kans om ʼn helpende hand uit te reik om ons land van hierdie spreekwoordelike afgrond te red en om werklik die potensiaal van ons land (wat ons almal weet bestaan, maar nog verder ontgin moet word) tot vervulling te bring.

Ons moet tot aksie oorgaan, vreedsame aksie, om ʼn voorspoedige toekoms vir ons land te baan. Dit is óns verantwoordelikheid om ʼn toekoms te skep waarin ons ons kinders en kleinkinders wil grootmaak. Ons wil ʼn verenigde Suid-Afrika tot stand bring waar diegene wat oplossings het vir die probleme wat ons in die gesig staar, aan bewind is; waar leë beloftes nie bestaan nie, maar daadwerklike aksie die spreektaal raak. Ons wil leiers grootmaak wat die belange van die land en sy unieke mense op die hart dra en dit bo alles eerste stel. ʼn Mens kan nou jou eie opinie oor Donald Trump se MAGA (Make America Great Again)-beweging hê, maar een ding is verseker, en dit is dat die Trump-administrasie Amerikaanse burgers se belange eerste plaas en die burgers van die land se behoeftes baie hoog ag. Iets waarna ons in Suid-Afrika ook kan streef. Ons moet daarvan wegbeweeg om na dinge te streef wat net vir eie gewin is; ons moet eerder na vore tree om ons land se burgers te dien.

Ons moet ons braaivleisvuuroplossings vat en daders begin word – in ons skole, kampusse, in ons kerke, in ons gemeenskappe en meer belangrik nog, by die stembus. Steek ʼn hand uit en reik na iemand uit. Begin ʼn verskil maak tussen die mense waar jy daagliks beweeg.

Ons moet daardie politieke idees waaraan in ons sitkamers geboorte geskenk word na die politieke arena neem. Kom ons raak betrokke deur by burgerlike organisasies aan te sluit en uiting aan hierdie idees te gee en oplossings vir ons land se probleme te bied.

Ons kan nie, nee ons mag nie meer met gevoude arms terugsit en toekyk hoe ons land, wat op die rand van breekpunt staan, finaal geknak gaan word sonder om iets aan die situasie te doen nie. Ons, die jeug, die volgende generasie, moet die katalisator wees om die beeld van Libra – die Romeinse skaal en simbool van reg en regverdigheid – in ere te herstel sodat daar weer ʼn balans van ewewig en gelykheid vir alle landsburgers sal wees.

Maar hoe gaan ons tot aksie oor sonder om op tone te trap; sonder om te oordeel? Ons aksies moet reg gewortel wees. Ons aksies moet weer in die liefde vir ons land geanker word; ons vlag, ons volkslied, respek vir sy mense. Ons einddoel moet wees om die potensiaal te vervul wat ons almal as die “stille meerderheid” weet ons land toe in staat is. Ons aksies moet in pure patriotisme geanker wees.

Kom ons, as Suid-Afrikaanse burgers, begin van vandag af om nie net meer toeskouers op die kantlyn te wees wat die politieke wedstryd deur nodelose woorde probeer beïnvloed nie, maar kom ons neem ons plekke op die speelveld in en begin ʼn daadwerklike verskil maak. Kom ons gee vandag daardie tree na ʼn nuwe môre.

  • Reuben Coetzer is ʼn eerstejaar BCom Regte-student aan die NWU.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Solank jy net nie die alewige morele hoëgrond probeer handhaaf nie. Daai frase wil my laat braak.

Shady ·

Die tyd vir praat is verby – So moeg om dit te hoor. Ons se dit al vir jare en ons gaan dit nog vir jare se

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.