#JongStemme: Die vraagstuk oor leierskap in skole

Frans van Schalkwyk. Foto: Verskaf.

Deur Frans van Schalkwyk

Die poging om leierskap reg te definieer en praktiese modelle te genereer, is al ʼn eeu oue praktyk wat terugdateer tot ten minste die tye van Plato.

Soos ons almal weet, is daar al ekstensiewe navorsing gedoen oor leierskap en selfs leierskap in skole, maar vir die doel van hierdie meningstuk, definieer ek leierskap as enige iemand wat invloed het. Hoewel dit beteken dat almal leiers is binne hulle eie invloedsfeer, weet ons ook dat sommige leerders ’n definitiewe groter invloedsfeer het en dus sterker leiers is.

Om invloed te hê, is een ding. Maar om ander te kan beïnvloed om te help bou aan positiewe verandering… dít is leierskap.

Ek glo die doel van leierskap in skole moet wees om die leiers van die toekoms te ontwikkel en met die regte vaardighede die “grootmenswêreld” in te stuur. Die probleem ontstaan egter wanneer leiers en die strukture rondom hulle te veel fokus op die korttermynvisie en wat die leerder op daardie oomblik vir die skool kan beteken.

Ek weet ek kan gekruisig word vir die volgende stelling, maar ek waag nietemin: Word diensbaarheid nie dalk oorbeklemtoon as die belangrikste aspek van leierskap in skole nie?

Die leierskorps van skole word daagliks daaraan herinner dat hulle die harde werkers van die skool moet wees, dat hulle dié moet wees wat by elke sportbyeenkoms of skoolfunksie die fisieke werk moet doen of moet agterbly om ná die tyd op te ruim. Moet my nie verkeerd verstaan nie: die leiers is, onder meer, daar om hulle medeleerders en die skool te dien.

Diensbaarheid bly egter net een aspek van leierskap.

Die vraag is: verkies jy die leier wat opdaag om die werk te doen of verkies jy die leier wat 10 mense kan motiveer om saam met hom op te daag om die werk te doen? Skole sit met die goue geleentheid om die boompie te kan buig terwyl dit nog jonk is en as ons meer daarop fokus om menseverhoudinge te bou sodat die invloedsfeer van skoolleiers kan vergroot en hulle sodoende medeleerders makliker kan oortuig om in die skool se visie te glo, leer ons dan nie juis die jong leiers hoe om die mense rondom hulle te begelei nie?

Ek dink wanneer ons enige leier op hoërskool vra wat hul langtermyndoelwit ten opsigte van leierskap is, gaan ons sukkel om ʼn substansiële antwoord te kry, want hoërskoolleerders het definitief nog nie alles vir hulself uitgeklaar nie. Ek glo dus dat dit die skool se plig is om verkose leiers te help om hierdie visie en doelwit te begin vorm, sodat die pad ook vanself duideliker kan word. Ek sal graag wil sien dat skole vasstel wat die oorsaak is dat sommige mense meer invloed het as ander en dit dan begin inwerk by hul opleidingsprogramme vir die leierskorps.

ʼn Leier met invloed en wat weet hoe om sy invloed te bestuur, is van onskatbare waarde vir ʼn skool. Leiers wat ontwikkel is tot ʼn invloedryke rolspeler, sal op die ou end ook tot voordeel van die breër gemeenskap wees.

  • Frans is tans ʼn graad 11-leerling aan die Hoërskool Rustenburg. In 2019 is Frans aangewys as die beste spreker en was ook deel van die algehele wenspan van die ATKV Nasionale Debatkompetisie vir Hoërskole. Hy dien ook in 2020 op sy skool se leierskorps as sportvoorsitter.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico K ·

Ek is bang vir die leier wat kan motiveer. Lees weer die geskiedenis van veral die 2de wêreldoorlog en dan sien mens wat het gebeur met leiers wat kon motiveer. Nie net Hitler nie. (En gaan lees regtig meer oor die oorlog. Julle het nie ‘n idee hoe ontsaglik was die verlies aan mense lewens en die swaarkry van die wat nie gesterf het nie. Met dien sal ek die groter prentjie wil sien as net die fisiese werk. Hy moet dit doen tot voordeel van die mense onder hom. Dit is ook dien.

B ·

Jongeheer Frans, jy openbaar baie insig in ‘n eenvoudige dog komplekse saak. Ek stem saam met jou, leierskap is groter en meer strategies as diensbaarheid, maar tog nie noodwendig wedersyds uitsluitend nie. Diensbaarheid is egter ‘n sigbare en praktiese komponent, en het baie keer weinig iets met leierskap te doen, maar meer met ‘politiese korrektheid’ en soms self egosentriese ‘bemarking’
Jy klink meer na die leier waarvoor ek sal stem, iem wat dink en filosofeer oor die groter prentjie, strategies teenoor operasioneel, ens.
Beste wense!

Ruan A. ·

Jy is ‘n insiggewende en merkwaardige jongman, om hierdie vraagstuk te lees maak dat ek leierskap in ‘n nuwe en beter lig sien. Leiers moet interdaad diensbaar wees, veral op skoolvlak, sodat ander ook geinspireer kan word en ook diensbaar wees. Sterkte met jou leierskap, ek weet jy gaan ‘n massiewe sukses daarvan maak. Ek is vreeslik trots op jou.

CG ·

Jongeheer Frans. Ek dink jy het meer insig in leerder leierskap in skole as die meeste skoolhoofde! “Leiers” (lees “leerlingraadlede” is eintlik maar goedkoop arbeid vir die skool, met net baie beperkte blootstelling (bv.om geleenthede te open of bedankings te doen). Hulle leierskap word gesmoor deurdat hulle self die werk moet doen, i.p.v om te verseker dat die werk gedoen word (deur hulself of ander). Laasgenoemde sal ook die geleenheid gee vir vele ander leerders wat meer betrokke wil wees. Natuurlik sal daar meer blapse wees, maar mens leer dikwels meer uit foute as uit suksesse. Jou stuk behoort aan alle skoolhoofde gestuur te word!

Martie Venter ·

Ons is baie Trots op die Pragtige seun van ons. Hy is self n groot voorbeeld van n Leier op en af die veld. Frans, seun ons weet in 2020 gaan jy nog n groot inpak maak.

Marius ·

Ek het nog nooit saamgestem met “ prefekte” in sy huidige vorm nie.Somtyds word kinders gekies wat ouers op die beheerraad het of sport sterre is ens.Ek dink meer kinders moet n geleentheid kry om n leier te wees bv.almal wat graag sou wou.Mens leer leiers eienskappe en almal het dit nodig,om sommige kinders uit te sonder omdat hulle kwansuis “ leiers “ is sê eintlik vir die wat nie gekies word nie dat hulle nie goed genoeg is nie,dit is verkeerd.Gee almal wat wil n geleentheid om dit te leer ,dit gaan nie oor jou “ populariteit” nie maar om effektief en verantwoordelik te dien .Heelwat kinders wat nooit “leiers” was op skool nie ,presteer soms beter in die volwasse lewe.Leer liewer meer om verantwoordelik te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.